Jy het baie deure
in jou huis; waarskynlik het elke vertrek in jou huis ‘n deur. Wat is die
funksie van daardie deur? Hoekom moet ons deure hê? Daar is seker verskeie
redes waarom mens op ‘n bepaalde plek ‘n deur inbou: dit kan wees ter
wille van jou privaatheid, sodat iets buite sig bly of sodat iets veilig
binne (of buite) gehou kan word. ‘n Deur se funksie is altyd om toegang te
beperk, om skeiding te bring tussen twee areas. Jy sal nooit langs die pad
ry en ‘n deurkosyn met ‘n toe deur in die veld sien nie; dit sal geen doel
hê nie, en sinneloos wees. ‘n Deur maak toegang moontlik, en dit word
beperk en bepaal deur die persoon wat die sleutel hou.
Openbaring
3:14-21 14Skrywe
aan die leraar van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die
geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: 15Ek
weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie
warm nie. As julle tog maar koud of warm was! 16Maar nou, omdat
julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond
uitspoeg. 17Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks
meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig
is nie, arm, blind en kaal. 18Daarom raai Ek julle aan om by My
goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop
wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid,
nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle
kan sien. 19Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit
dan vir julle erns wees en bekeer julle. 20Kyk, Ek staan by die
deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom
ingaan en saam met hom die feesmaal
a
hou, en hy saam met My. 21Elkeen wat die oorwinning behaal, sal
Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal
het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
Hierdie teks
verwys na saligheid, na skeiding tussen ou en nuwe lewe, na met of sonder
God, na ‘n voor en na lewe, na hunkering van ‘n persoon om toegang te kry
tot ‘n Ander; dit gaan oor ‘n pertinente keuse: maak oop vs los toe.
Dit is Jesus wat
sê: kyk Ek staan by die deur .... kan jy sien dat die deur of skeiding
outomaties tussen ons en God bestaan? Wat so wonderlik is hier, is dat dit
nie sê dat ons deur die deur moet gaan na God toe nie, maar dat Hy deur
die deur wil kom na ons toe. Ons hoef net oop te maak – dis al!
Dit is so dat ons
as mense só dwalend en soekend is, só tastend in die donker. Was jy al in
‘n stikdonker vertrek en jy weet nie waar die deur is nie? Eers soek jy na
‘n muur, want ‘n muur bring skeiding en in die muur sal daar ‘n deur
wees. Jy skuifel met jou hande voor jou uit in die donker totdat jy jou
teen die muur vasloop, en dan loop jy met jou hande teen die muur af
totdat jy die deur voel. Jou pupille rek so groot dat dit voel of jou oë
uit hulle kaste wil bars. So is daar duisende mense wat soekend is na God,
tastend in die donker, soos skape sonder ‘n herder. Mense wat geen lig
voor hulle sien nie, voel-voel, vol vrees, geen toekoms, tastend en bang
in die donker. Die probleem is net, hulle soek die deur op die verkeerde
plek! Die deur is nie daar ver nie, die deur is nie in die kerk of in
rituele nie, ook nie by self-aangestelde profete nie of ideologieë nie,
die deur is binne in jou, in jou hart. As jy mooi luister sal jy die klop,
klop, klop hoor – weet dat dit God is.
Die deur van
Openbaring 3:20 is in jou hart, en jy het die sleutel, en jy het die keuse
of jy oopmaak of nie. Hoekom maak mense dan nie die deur oop nie? Hier is
‘n paar moontlike redes:
- Hulle glo nie
die belofte van die feesmaal nie. Het jy al van ‘n wedergebore Christen
gehoor wat spyt is dat hy tot bekering gekom het?
- Hulle luister na ander wat self nog met ‘n toe deur sit. Doem profete
en ongelowiges.
- Hulle is bang hulle verloor hulle vriende; wel dit kan waar wees, want
vriendskap met die wêreld is vyandskap met God.
- Vrees. Die Bybel hou die volmaakte ewigheid vir ons voor, die perfekte
plan van God – saam met Hom. Daar word niks deur due wêreld voorgehou as
alternatief nie... maar tog vrees ons.
- Ongeloof. Miskien wil mense God nie vertrou nie en Hom op sy Woord
neem nie. Glo liewer niks as in God.
- Sondes. Ons glo dat ons kan leef soos ons wil. Ons kan nie. Maar daar
is ook ‘n ander kant. Mense glo dat hulle eers volmaak en sondeloos moet
wees voor hulle die deur oopmaak. As dit só sou wees, sou dit nie nodig
wees om die deur oop te maak nie, want dan sou ons nie vir Jesus nodig
gehad het nie.
Joh 15:5 Ek is
die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur
My nie.
Wanneer ons die
deur van Openbaring 3:20 oop maak word die weg na die Vader oopgemaak, dan
kom Jesus in en hou saam met ons ‘n feesmaal. Wat is hierdie feesmaal? Dit
is om tot bekering te kom, en om die ewige lewe as geskenk van God te
ontvang; maar dit is ook ‘n feesmaal vir hier en nou – Jesus wil elke dag
‘n feesmaal saam met jou geniet. Daar is nog meer: Jesus is die oplossing
vir jou probleme, die antwoorde op jou vrae, die trooster in moeilike tye,
jou helper en vriend in nood, die Een wat die vrees kan verdryf.
Ons hoor almal
die een of ander tyd op die een of ander manier hierdie klop. Soms wil ons
uitstap en Jesus net vir ‘n kort tydjie ontmoet, en dan weer teruggaan en
die deur toeklap. Die Here wil nie dit hê nie. Hy wil inkom en totaal van
jou besit neem; Hy smag na ‘n verhouding met jou. Wie is in jou hart? Wie
sit op die troon? Vir wie gee jy plek?
Op 3:20 Kyk, Ek staan
by die deur en Ek klop...... vriend, maak vandag oop en geniet die
feesmaal saam met Jesus.
|