| 
             
			 
			 Ons 
			praat gereeld hier oor bekering, en ek dink ons as Christene kan 
			nooit sê dat ons nie geweet het nie hoe die weg na Saligheid lyk nie. 
			Elkeen van ons weet dat ons 'n keuse het, ons bepaal self ons 
			eindbestemming. 'n Eindbestemming met, of sonder Jesus! 
			
			Maar, dis so half asof ons net aan hierdie een 
			scenario aandag gee. Word gered, sterf (hoe ook al - ouderdom, 
			ongeluk, siekte) en is dan in die hemel. Die probleem is, dis asof 
			ons konstant vir onsself sê dat ons maar bietjie kan uitstel met ons 
			keuse, en selfs die kans vat om te sê dat ons redding op no 99 
			geldig is. 
			
			Matt 20 : 1 - 16 " Met die 
			koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd 
			wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te 
			huur. 2 Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die 
			gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan 
			werk. 3 Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die 
			mark rondstaan, 4 en hy sê vir hulle: "Gaan werk julle ook in my 
			wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal." 5 Hulle is toe 
			soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en 
			dieselfde gedoen. 6 Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar 
			rondstaan, en hy sê vir hulle: "Waarom staan julle heeldag werkloos 
			hier rond?" 7 Hulle antwoord hom: "Omdat niemand ons gehuur het nie." 
			"Gaan werk julle ook in my wingerd," sê hy toe vir hulle. 8 Toe dit 
			aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: "Roep die 
			arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig 
			by die eerstes." 9 Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry 
			elkeen die gewone dagloon. 10 Die mense wat eerste gehuur is, het 
			gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry 
			hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11 Hulle vat toe die geld maar 
			begin by die eienaar kla 12 en sê: "Hierdie laastes het net een uur 
			gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele 
			dag hard gewerk het in die warm son." 13 Maar hy antwoord een van 
			hulle: "Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my 
			ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14 Vat jou geld en gaan huis 
			toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15 Mag 
			ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat 
			ek goed is?" 16 So sal die laastes eerste wees, en die eerstes 
			laaste." 
			
			En dis natuurlik waar! Maar daar is ook nog 'n 
			scenario. 
			
			Goed, ons kom tot redding, op no 99 en alles is wel. 
			Maar, hoe gereeld dink ons aan die wederkoms van Jesus? Is daar in 
			jou hart 'n verwagting dat Jesus regtig, regtig weer op die wolke 
			sal verskyn? Glo jy dat jy eendag net dalk sal opkyk en 'n liggaam 
			sien neerdaal uit die hemel uit? Of is dit dalk so ietsie van 'n 
			geestelike "fairy tale"? Jy sien, al hierdie Bybelse waarhede is 
			geweldig aan aanvalle onderwerp in die tye waarin ons vandag leef. 
			Selfs deur mense wat hulleself teoloë noem, en ander laat struikel 
			met hulle mensgemaakte leerstellings. Ek wil eintlik sê "Halleluja", 
			want hierdie mense bewys die Bybel absoluut waar. In die laaste dae 
			sal daar vals profete kom en die mense leer net wat hulle wil hoor! 
			Maar nou ja, ek kies om vir Jesus te glo. Hy wat nog nooit ooit 
			verkeerd bewys kon word nie! Op geen enkele gebied nie! En Hy kom 
			met hierdie volgende belofte: EK KOM WEER! 
			
			Openbaring 22 : 6 - 21 " Toe 
			sê die engel vir my: Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here 
			God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy 
			dienaars te wys wat binnekort moet gebeur. 7 Jesus sê toe: Kyk, Ek 
			kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese 
			boek ter harte neem. 8 Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en 
			gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete 
			van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval 
			om hom te aanbid. 9 Pas op, moenie! sê hy toe vir my. Ek is 'n 
			mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat 
			die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God! 10 Verder sê 
			hy vir my: Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou 
			nie, want die eindtyd is naby. 11 Wie kwaad doen, moet voortgaan om 
			kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg 
			is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly. 
			12 Jesus sê toe weer: Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My 
			om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13 Ek is die Alfa en die 
			Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 14 Geseënd 
			is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van 
			die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15 Buitekant is 
			die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars 
			en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen. 16 Ek, 
			Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes 
			te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is 
			die helder Môrester. 17 Die Gees en die bruid sê: Kom! En elkeen wat 
			dit hoor, moet sê: Kom! En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat 
			die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! 18 Ek 
			betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As 
			iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan 
			in hierdie boek geskrywe is; 19 en as iemand een van die woorde van 
			hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van 
			die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek 
			geskrywe is. 20 Hy wat dit alles getuig, sê: Ja, Ek kom gou! Amen! 
			Kom, Here Jesus! 21 Die genade van die Here Jesus sal by almal wees." 
			
			Die vraag is of ons dit glo, en in 'n verwagting lewe 
			van Jesus se wederkoms. Jy sien, vir baie mense is die gedagte 
			hieraan skrikwekkend! Want dan kom God regverdig oordeel. En ons sit 
			dikwels en somme maak om te bepaal of hierdie vir ons 'n goeie of 
			slegte oefening sal wees. Satan help natuurlik kwistig met hierdie 
			twyfel en vrees. Hy herinner jou konstant dat jy nog nie reg is nie, 
			en eintlik maar kan opgee. Hy kla aan, herinner, krap ou koeie uit 
			die sloot, en oortuig ons van 'n verlore saak. Maar, ou sekelstert 
			ken nie die Bybel nie!  
			 
			Rom 8 : 1 "Daar is dus nou geen 
			veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!" 
			
			Punt. Daarom, as ons gered is, kan ons met verwagting 
			en sonder vrees uitsien na Jesus se wederkoms! 
			
			Openb 22 : 12 "Kyk, Ek kom 
			gou!! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy 
			gedoen het" 
			
			Jitte, is dit iets om voor bang te wees vir kinders 
			van die Here? NEE! Maar boeta, as ons saak nie reg is nie, is dit 
			groot moeilikheid. 
			
			Is daar dalk iemand naby aan jou wat nog nie sy/haar 
			hart vir die Here gegee het nie? Wil jy so iemand agter laat? Is ons 
			nie dalk so bietjie geestelik selfsugtig nie? 
			
			Nee, die wederkoms van Christus moet vir elkeen van 
			ons iets groots en wonderlik wees! Vraag is, glo ons dit? In die Ou 
			Testament is honderde profesieë van Jesus. Almal het waar gekom. 
			Maar, daar is baie baie profesieë wat praat van Jesus se wederkoms! 
			Sal dit dan 'n leuen wees? Nee. 
			
			Wat sal gebeur as Jesus nie weer kom nie? 
			
			· Hy sal as 'n leuenaar voorgehou word. 
			· Die wêreld sal net verder en verder agteruitgaan a.g.v. global 
			warming, misdaad, ens. 
			· Die vals profete sal floreer. 
			· Al ons geestelike pogings sou verniet wees. 
			· Ons sou 'n diep teleurstelling beleef in Jesus van Nasaret. Ons 
			sou Hom trouens dan ook so noem, i.p.v. Jesus die Christus, die 
			Verlosser. 
			· Satan sal seëvier en die bose sal oorwin. 
			· Al ons hoop sou vervaag. 
			
			Wat gaan gebeur wanneer Hy weer kom? 
			
			· Al die trane sal afgevee word. 
			· Ons gaan in heerlikheid saam met Hom regeer. 
			· Alles wat sleg is, sal tot niet wees. 
			· Ons gaan ons hemelse woning bewoon. 
			· Ons gaan saam met die engele lofprys. 
			· Ons sal verlos wees van alle vorme van kwaad, van misdaad, 
			armoede, sondes, pyn, hartseer. Alles wat sleg is. 
			· Ons gaan volmaakte wesens wees in ons verheerlikte liggame. 
			· Ons gaan vir God sien. 
			· Ons gaan vir ewig en ewig en ewig saam met God leef in die hoogste 
			hemele. En heeldag sing! 
			· Ons sal nooit weer deur Satan versoek word en verpes word nie!! 
			· WOW, totale oorwinning en oorwinnaars. 
			Kyk 
			netnou bietjie op in die lug, en begin om 'n verwagting te kry dat 
			Jesus weer sal kom. Wie weet! Dalk vandag? Wees gereed, Hy kom!  |