JESUS TUSSEN DIE GEBROKENES


As jy terugdink aan dit wat jy lees in die Bybel, wat onthou jy van Jesus se optrede? Waarmee het Hy Homself besig gehou? By wie het Hy Sy tyd deurgebring? Na wie het Sy hart uitgegaan?

Luk 5:27-32
27 Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: "Volg My."
28 Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.
29 Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit.
30 Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: "Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?"
31 Toe antwoord Jesus hulle: "Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.
32 Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars."

Jesus tussen die sondaars en die tollenaars. Besig om te werk tussen die owerspeliges, die uitgeworpenes, die wat niks was in die samelewing nie. Mens kan eintlik sovêr gaan om te sê tussen die slegtes.

Matt 9 :35-38
35 Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.
36 Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.
37 Hy sê toe vir sy dissipels: "Die oes is groot, maar die arbeiders min.
38 Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes."

Mense wat moeg, hulpeloos, hoop loos en sonder vooruitsig is, het aandag en hulp by Jesus gekry.

Ons is in 'n gevangenisbediening betrokke by die vrouegevangenis in Potgieterstraat. Ons hou kerkdienste daar drie Sondae per maand. Mense van alle klasse in die samelewing is daar bymekaar in uiters slegte omstandighede. Dit is beslis nie 'n 5-ster hotel met 3 etes per dag nie. Daar sien jy mense wat "rock-bottom" getref het. Ja, hulle is misdadigers, ja, daar is mense wat moeilik rehabiliteer, daar is ernstige droogmakers, maar …. Daar is sóveel gebroke, sukkelende mense. Mense wat waarskynlik nou by die heel laagste punt in hulle lewe gekom het. Gister toe ons daar was het ek net gevoel: "DIT is my kerk hierdie", of liewer, die kerk vir my. Dit is eintlik die definisie van kerk - daar tussen die gebrokenes, dié wat die Dokter, Jesus nodig het. Tussen dié wat net nie meer kan nie. Dié wat só dringend iets nodig het om aan vas te hou. Mense wat net wil hoor dat daar nog iets soos liefde is. Dit is tussen sulke mense wat Jesus gewerk het.

Hoe het Jesus met die sondaars en die droogmakers omgegaan? Weet jy, ek lees nêrens dat Hy hulle veroordeel het nie. Ek lees wel dat Hy hulle jammer gekry het. Innig jammer. Hoe leef ons teenoor dié mense? Ek word so hartseer as mense so wreed en ondeurdag praat van mense wat in die gevangenis is. Ja, natuurlik is daar niks fout met die regstelsel nie, en daar moet sulke instellings wees …. Maar dit bly ménse, mense met 'n pa en ma, met 'n man, 'n suster, 'n kind ….

Wie is daar? Kom ek skilder vir jou 'n prentjie:
- 'n Baie jong, maer dogtertjie wat lyk asof sy nog in die laerskool hoort. Sy kom staan die ander dag voor my en sê: "oom, kan ek asb. net 'n drukkie kry"
- 'n Vrou wat só deur haar man mishandel is dat iets net in haar gebreek het.
- 'n Jong meisie wat uit 'n goeie skool en 'n goeie huis kom, maar dwelms het die oorhand gekry.
- 'n Ma wat steel, want haar kind se mediese onkoste moes betaal word.
- Jong vroue wat verwerp is, afgeskryf deur almal, as hulle daar uitstap gaan hulle nêrens hê om heen te gaan nie, en gaan dan net maar weer terug na prostitusie en dwelms.

En as Jesus na hulle kyk, dan kry Hy hulle innig jammer. Dan sien Hy ménse, dan sien Hy potensiaal.

Hoe gaan Jesus te werk met die uitgeworpenes, die gebrokenes?
- Hy het niemand veroordeel nie. Hy was net daar by hulle, langs hulle.
- Hy het geen ondraaglike laste op hulle gesit nie. Al wat Hy vir die vrou wat op owerspel betrap is gesê het is: "Gaan, en sondig nie meer nie"
- Vir die siekes het Hy nie gesê jou siekte is a.g.v. jou vrot verlede nie, hulle moes nie eers vloeke gaan breek nie, Hy het hulle net gesond gemaak.
- Hy het niemand met vrees-godsdiens belas nie. Ons doen dit tog so maklik. Daar ontwikkel sóveel nuwe konsepte, denkrigtings, nuwe sg. openbarings ….. byna daagliks. Dan word groepe, bewegings, en selfs kerke geskep, elkeen met die klem op sy eie unieke openbarings, en almal bemark kliphard vir lede. En so waai die winde van veranderings mense heen en weer.
- Hy het geen dogma gevolg nie. Hierdie ding van: "ons verstaan hierdie en daardie beter as julle". Hy het dit nie gedoen nie. Hy het net gesê: "volg My". Jesus was tussen Sy mense - die hele tyd.
- Hy het vir niemand finansiële- of enige ander voorspoed belowe nie, net gesê: "Kom na My toe".

Die enigste mense met wie Jesus 'n "probleem" gehad het, was die Skrifgeleerdes, Fariseërs en Familiehoofde. Hulle tempels was indrukwekkend, so ook hulle klere, hulle maniere, gebruike, rituele en ook hulle prediking. Maar, liefde en passie vir die gebrokenes het ontbreek. Hulle hart was nie waar Jesus se hart was nie.

Jy sien, Jesus het nie van hulle kerk-kerk speletjies gehou nie. Hulle het swaar en ondraaglike laste op mense gesit, en self nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. Klink dit nie bekend nie? Doen sus, trek só aan, gaan deur hierdie prosesse, onderhou dit en dat, beoefen jou Godsdiens op hierdie en hierdie manier, en dan …. is dit die bewys dat jy gered is. NEE, Jesus was 'n Man vir verhoudings; die beoefening van Sy geestelike lewe was basies. Nét liefde het getel, niks anders nie. Hy het by die gebrokenes uitgehang.

Is jy dalk vandag in 'n gat? Wel, Jesus is daar. Staan jy voor 'n berg wat massief lyk? Hy staan ook daar. Voel jy gebroke? Eensaam? Verlate? Verontreg? Op die einde van die pad? My vriend, Jesus is daar. Sy werkplek is daar waar jy is. Hy is nóu by die werk… met 'n seer hart oor slegte omstandighede. Hy werk nie soos 'n mens nie - Hy werk soos God … dit is wie Hy is.

En ons, waar hang ons uit? Hoe praat ons van die gebrokenes, en armes? Moenie wreed, veroordelend en afbrekend teenoor hulle wees nie - hulle is God se kinders, Sy oogappel!

Ps 69:34 … dié wat by God hulp soek, sal moed skep, want die Here slaan ag op die armes, Hy vergeet nie Sy mense wat gevangenes is nie.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)