JESUS vs DIE WET


Staan Jesus teen die wet, en het Hy die wet opgehef? Ons het al in die verlede daaroor gepraat en hierna gekyk en probeer om dit in perspektief te kry. Dalk het jy die gesprek gehoor van mnr Wet en sy Bruid (lees dit weer deur hier te klik >>) God het vir Moses die wet gegee 'n paar duisend jaar terug as 'n riglyne vir die lewe, as 'n manier om God te behaag en om 'n lewenswyse voor te hou wat goed is vir die mens. Dis nou inderdaad waar dat ons redding nie meer afhang van hoe goed ons die wet kan onderhou nie, want ons kan nie. Jesus se kruisdood het immers gemaak dat God se genade groter is as ons sondige natuur. En daarom kom waarsku Paulus in Gal 5 : 13 "Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde."

In Matt 5 - 7 lees ons van die bergrede, of ook genoem die bergpredikasie. Ons lees dat groot menigtes Jesus begin volg het, sommer vroeg-vroeg in Sy openbare lewe.
Matt 4 : 25 sê "Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg".

In Matt 5 lees ons dat Hy teen die berg opgegaan het en toe Hy die groot menigtes sien, en Hy het hulle begin leer. Wat baie interessant is, is dat Jesus vir die mense eintlik weer die wet gee, soort van in hulle hedendaagse taal en omstandighede. Dan spreek Hy ook die wet aan:

Matt 5 : 17 - 20
17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.
18 Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
19 Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.
20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.

Jesus praat met hierdie menigtes en raak baie verskillende punte aan. Nie om die wet te herhaal nie, maar om vir die mense te leer hoe 'n goeie en gesonde lewenswyse lyk, wat God sal behaag. Tot voordeel van hulleself. Hy bespreek die volgende punte:

·      Julle is die sout vir die aarde en 'n lig vir die wêreld.

·      Hy praat van verspoening, moord pleeg, die plig om te vergewe.

·      Dan kom Hy uit by kuisheid, egbreuk, versoeking en ook egskeiding.

·      Hy sê jy moenie sommer 'n eed aflê nie, jou woord moet jou woord wees, jou ja jou ja en jou nee jou nee. Hy sê: nee, hierdie oog vir 'n oog ding werk nie, draai liewer jou ander wang.

·      Dan kom 'n baie moeilike ding. Hy sê, wees lief vir jou vyand.

·      Hy vertel vir hulle hoe hulle die armes moet help, en ja, met watse gesindheid hulle moet gee.

·      Jesus leer hulle hoe om te bid - die Onse Vader gebed kom hier voor - en dan hoe hulle moet vas.

·      In vers 19 sê Hy hoe hulle die skatte in die hemel bymekaar moet maak en dan waarsku Hy teen Mammon.

Die ander elemente wat Hy aanraak is:-
· Die sorge van die lewe
· Veroordeling
· Gebedsverhoring
· Vals profete en dan laastens die twee fondamente aan die einde van hoofstuk 7.

So, in hierdie gedeelte, vertel Jesus vir die mense hoe om te lewe in die milieu waarin hulle gelewe het. Hy gee dus eintlik 'n “wet” wat baie sterk ooreenstem met die wet van Moses. Eintlik nie wet in die ware sin van die woord nie, maar eerder 'n goeie gesonde lewenswyse. Was dit nie maar God se bedoeling toe Hy die wet vir Moses gegee het nie?

Kom ons dink so bietjie hoe dit sou wees as Jesus vandag hier tussen ons was. Sê nou maar Jesus gaan sit daar op Kerkplein en ons gaan sit daar rondom Hom op die gras en Hy begin praat. Wat sou Hy vir ons sê in vandag se lewe? Wat sou vandag van toepassing wees? Mense sê so maklik dat die Bybel outyds is en nie meer vandag letterlik opgeneem kan word nie. Nou wonder ek wat van hierdie dinge ons sou uitlaat en wat ons sou byvoeg. Wat is nie meer van toepassing nie. Ek het gaan kyk na al hierdie elemente, en ek sou niks kon uithaal nie. Inteendeel, hoe sou so gesprek verloop, daar op Kerkplein? Dalk sou Jesus kon sê:-

· Julle is die sout vir die aarde. Daar by die kantoor, wees jy die lig. Open die vergadering met gebed, sodat jou lig skyn. Ja, daar in die hysbak, gebruik die geleentheid om so ietsie van My te getuig.
· Oor versoening. Moenie dat hierdie projek wat skeefgeloop het, 'n goeie verhouding vertroebel nie. Skryf vandag nog 'n e-pos en maak reg. Vra verskoning, al is dit net met 'n SMS.
· Weet julle, laat kuisheid julle slagspreuk wees. Los daardie sekretaresse uit, en moenie op die sakereis 'n verkeerde ding aan die gang sit nie. Los maar die sogenaamde sake-ete met daardie kliënt van die ander geslag. En ja, egskeiding is uit. Gaan sien 'n berader en begin met 'n herstelproses in jou huwelik. Jong en daardie skelm e-posse en SMS’e met daardie ander persoon, los dit sommer dadelik.
· Moenie altyd en ewig sê "ek belowe jou" of "ek sweer" nie. Nee man, as jy vir jou baas iets sê, wees reguit, praat die waarheid. Los hierdie sogenaamde wit leuentjies, dis niks anders as lieg nie.
· Dalk sou Jesus sê, moenie mense gaan terugkry nie. As iemand jou kwaad gedoen het, moenie 'n suspisieuse e-pos aan die gang sit om die persoon sleg te maak nie.

Wat sou Jesus vir ons sê, aan die hand van die Bergrede?

Oor Mammon: Hou op om werk jou afgod te maak. Daardie duur kar en mooi huis is goed en wel, maar nie ten koste van jou gesin of jou verhouding met My nie.

En dan die belangrikste: Oppas vir hierdie nuwe teologie wat die rondte doen. Die wat sê, Ek is nie waar nie. Ek het nie regtig opgestaan en opgevaar na die hemel nie. En dat Ek nie die enigste weg tot saligheid is nie. Gaan kies vir jou 'n geloofsgroepering wat net aan die waarheid vashou. Wat net die Bybel aanhang, net soos Ek dit laat opskryf het. Dan sal jy die Ewige lewe beërwe. Oppas vir daardie vals profete wat nie die Heilige Gees in hulle het nie. Volg My.

Inderdaad, glo ek dat Jesus se boodskap net soos 2000 jaar gelede sal klink. Miskien verander die beeldspraak, die vervoermiddels en die karakters, maar Hy verander nooit.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)