JOU VLAG - JOU TROTS


Luister na die volgende - onthou jy dit?

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra: Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika? Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg Vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg; Die pand van ons erf'nis, geslag op geslag, Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag; Ons nasie se grondbrief van eiendomsland, Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand. Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra, Die vlag van ons eie Suid-Afrika.

Voor jy ooropgewonde raak, hierdie is nie ‘n politieke gesprek nie.  Hierdie is die vlaglied van Suid-Afrika.  Dit kom vars uit my kinderdae.  Ons het dit uit volle bors gesing in die skool en ons moes die woorde kén.  Ek raak eintlik nostalgies! 

Hierdie lied het gegaan oor die vlag van ons land.  Het jy onlangs ‘n vlag gesien?  Enige tipe vlag?  Wel verseker, met rugbytyd sien jy dit om elke hoek en draai.  En natuurlik hier in Bloubul-land sien jy net blou vlae, met so nou en dan ‘n swarte of ‘n rooie of wat ook al. 

Die vraag is, het jy enige twyfel waarvoor meneer met sy blou vlag staan?  Wie en wat hy ondersteun?  Hoekom hy dit vertoon?  Waarin hy glo?  Natuurlik nie! As jy die blou vlag sien, dan wéét jy vir wie hy skree.  Ek  sien eendag ‘n motorfiets wat by my verbyry met ‘n reuse Shark-vlag wat saam wapper. Jou vlag wys waarvoor jy staan. “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra, wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika.” 

Jou vlag is jou trots!  So moet ek en jy ook ons vlag van ons Christelike geloof swaai en vertoon.  Doen ons dit met dieselfde ywer en passie as wanneer ons ’n vlag swaai om ons gunsteling rugbyspan te ondersteun? 

‘n Land kry ‘n nuwe vlag na onafhanklikheid.  Dan mag hy sy eie vlag ontwerp en vertoon.  Net so, kry ons na bekering ‘n nuwe vlag.  Iets wat ons met trots vertoon.  Dan kom ek en jy as Christene uit die boks uit en ons vertoon iets wat wys waarvoor ons staan.  ‘n Nuwe vlag, ‘n nuwe getuienis.  Ons kan dan nie meer ‘n kompromie aangaan met die wêreld nie, of met ons ou lewe nie.  Dink jy enige Bloubul ondersteuner sal ooit ‘n swart vlag gaan swaai die Sharktenk?  Nooit!  Jy versuip liewer, jy laat liewer ‘n krokodil jou byt.  Jy soen liewer vir skoonma 10 maal per uur! ‘n Bul dra ‘n blou vlag. ‘n Christen swaai geen ander geloof se vlag nie. Nee, na jou onafhanklikheid en jou nuwe vryheid, vertoon jy net één  vlag.  Jy wys waarvoor jy staan. Jy laat dit wat moet agterbly, agter jou. 

2 Kor 5 : 17  “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.” 

Wanneer jy Chritus aangeneem het, is jy nuut gemaak, ontvang jy volmaakte vryheid en onafhanklikheid.  Dan het jy ‘n nuwe vlag wat met trots gewaai moet word. 

Hoe lyk jou Christus-vlag?  Is hy sigbaar?  Wel, ‘n vlag word altyd bokant jou kop gehys.  Hoog op ‘n paal. In die weermag was vlagparade amper ‘n heilige geleentheid.  Die Amerikaners het selfs  hulle vlag op die maan gaan plant.  As een land ‘n ander inneem, is die eerste ding wat gebeur die vlagplanting seremonie.  So moet ons as Christene ons getuienisvlag hoog plant.  Van ver af moet mense weet dat jy vir Christus staan.  Waar ek en jy gaan moet ons ons vlag plant en ons merk maak.  Orals! 

So paar jaar gelede was daar ‘n insident toe die Bulle die Curriebeker gewen het. Jaco van der Westhuizen het direk na die wedstryd  ‘n T-hemp aangetrek wat sê “Jesus is King”, en agterop “Bulls for Jesus”.  Vir baie mense was dit ‘n aanstoot om baie redes, en ek wil nie nou sê hoe mense daaroor móés voel nie, maar Jaco het gewys waarvoor hy staan.  So wat beteken dit?  Iemand het besluit ek gaan my vlag van my getuienis prominent vertoon.  Dit vra iets om jou Christus-vlag te vertoon.  Dit sal dikwels teenstand uitlok, maar 1 Kor. 2:13-14 sê dat vir dié wie nie die Gees het nie onsin is. 

In die oorloë van die ou dae, toe manne mekaar trompop geloop het, was dit die dapperste ouens wat die vlag gedra het. Die een wat die vlag moes dra,  het een hand minder gehad om mee te veg.  Ja wat, lyk my dit vra nogal iets om jou Christus-vlag te swaai. 

Vertoon ek my Christus-vlag?  Hoe doen ek dit? 

  1. As ek droogmaak, kan ek nie my vlag vertoon nie. Dit wys dat ek die saak versaak.

  2. My vlag laat geen ander ideologie toe nie. As Christen staan ek nét op Christelike waardes. Dus kan ek nét op Bybelse beginsels werk. Niks anders word toegelaat nie.

  3. ‘n Vlag wys jou liefde vir jou saak. ‘n Christen se liefde vir die Here, sy naaste en homself moet duidelik en sigbaar wees.

  4. ‘n Mens of soldaat skaam hom nie vir sy vlag nie. So skaam ons ons nie vir die Here, of vir ons geloofsoortuiging nie.

  5. As ons ons vlag vertoon, en ons eerbied daarvoor het, kan ons nie só lewe dat dit waarvoor die vlag staan, in oneer kom nie.

  6. ‘n Vlag maak bekend wie jy is, daarom moet almal weet waarvoor jy staan.  As iemand bv. onsmaaklike goed kwytraak, of God se Naam ydellik gebruik, moet ons bekend maak waarvoor ons staan en iets daaroor sê.

  7. Ons kan nét die een dien wie se vlag ons vertoon.  Niks anders nie. “Jy kan nie God èn Mammon dien nie”

Wat is my en jou vlag? 

  1. My geregtigheid in Christus.  My sonde gaan oor op Jesus, en Sy volmaaktheid kom oor op my.  Dis my vryspraak.

  2. My getuienis is my vlag.  Dit is hoe ek hom hoog hys.  Deur te sê, getuig en deur te dóén.

  3. My dade is my vlag.  My dade wys tog immers waarin ek glo.

  4. My heiligheid is my vlag.  “Wees heilig, want ek is Heilig”, sê die Here.  Ek moet streef na heiligheid en volmaaktheid.

  5. My liefde vir ander is my vlag.  Die mate waarin ek ander liefhet, weerspieël hoeveel ek vir God liefhet.

  6. My geestelike groei is my  vlag.  Ek moet besig wees met die Here, stiltetyd hou, ek moet meer en meer leer van God.

  7. My bedieninge is my vlag.  Dit wat ek doen ter wille van ander, ten koste van myself, wys waarvoor ek staan.

  8. My omgee is my vlag.  As ander kan sien dat ek nie net vir myself omgee of sorg nie.

Hys jou vlag hoog vandag  -  dat almal kan sien aan wie se kant jy is.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)