KAIN EN ABEL


Op een van ons kampe vertel 'n man dat hy 'n baie slegte verhouding met sy broer het. Hulle het nooit langs dieselfde vuur gesit nie en elke keer as hulle bymekaar gekom het, het die vonke gespat. Net voor die kamp, het die man en sy broer 'n gesprek gehad en met baie moeite het die man vir sy broer gesê dat hy hom lief het. Sy broer het nie positief gereageer nie, maar dit was vir hom 'n groot stuk bevryding en verligting, so asof daar 'n reuse berg van sy skouers afgelig is. Net die eenvoudige woorde:- “Ek is lief vir jou”. 

Dis verstommend hoe sleg dit gaan tussen broer en broer, broer en suster en selfs ouers en kinders. En dit nogal volwassenes! Daar waar so baie “eie ek” 'n rol speel, gewoonlik oor absolute snert. Soms iets wat iemand gesê het, of oor geld, of konflik of erfgeld. O wee, en die geskinder! 

Verstommend hoe bloed nie meer dikker as water is nie en dan nog wat dit aan die ouers doen. Jaloesie, nydigheid, onmin en tweespalt breek hordes gesinne op. Dis so jammer, want dis nie die Here se wil of bedoeling vir ons as Sy kinders nie.  

Hoe gaan dit in jou gesin? Alles onder beheer? 

Gen 4:1-16
Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: “Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!” Sy het weer 'n kind gekry, Abel, 'n broer vir Kain. Abel was 'n veeboer en Kain 'n saaiboer. Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land 'n offer aan die Here gebring. Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem, maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk. Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak. Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?” Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal 'n doellose swerwer op aarde word!” Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.” Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.” Toe gee die Here vir Kain 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie. En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod , oos van Eden.   

Kain en Abel. 'n Tipiese “boere”-gesin, wat vir elke bakatel uitmekaar dryf en dan selfs eindig in moord. Verbrokkelde verhoudinge wat lei tot 'n verskriklike einde. 

So 'n paar jaar gelede, op 'n mannekamp, vertel 'n man dat hy en sy suster al vir vier jaar nie met mekaar gepraat het nie, maar hulle ry elke dag van voor by mekaar verby en kyk dan anderpad. Dit het alles begin by een enkele simpel argument en beide was te hardkoppig om toe te gee. In die proses verloor hulle vier jaar se kommunikasie! Oor nonsens. Klink nogal bekend, of hoe?

Kain slaan vir Abel dood, hy pleeg moord, nie oor geld, of besittings of erfporsie nie, nee, net oor jaloesie. Abel het niks gedoen wat sleg of verkeerd was nie, hy het net 'n aanvaarbare offer vir die Here gebring. God keur Kain se offer af, omdat dit nie met 'n opregte hart gebring word nie. Omdat die Here Abel se offer aanneem, slaan Kain hom dood. Geen goeie verhouding tussen hierdie twee broers nie! 

Die Here gee hom egter nog 'n kans.

Gen 4:6-7
Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”    

Die Here waarsku vir Kain dat die sonde die oorhand oor hom gaan kry, en sê vir hom dat hy oor die sonde moet heers, maar hy kies die verkeerde pad. En dan kom die verskriklike gevolge van sy jaloesie. Hy vermoor sy broer. 

Kain en Abel. Jy en jou broer. Kain pleeg fisies moord, ons pleeg soms emosionele moord en selfs emosionele selfmoord, gewoonlik gedryf deur jaloesie of nydigheid. Sjoe, mense kan darem oor nietighede hulle gesinne uitmekaar ruk. Een is hardkoppig, die ander een 'n drama queen, nog een 'n rissiepit en een 'n skinderbek. 'n Paar skewe woorde, 'n paar rand en daar spat die vonke. 

Die Here vra vir Kain:- “Waar is jou broer?” Dan vra hy:- “Moet ek dan my broer oppas?”.

Weet jy wat die antwoord op daardie vraag is? JA! Jy móét jou broer oppas, ons as gesinne moet mekaar oppas, ons moet mekaar beskerm en versorg. Ons moet mekaar bystaan in moeilike tye en sorg dat ons almal gelukkig is. Boonop moet julle mekaar liefhê - dis die Here se opdrag. As jy dit nie doen nie is jy buite die wil van die Here.

Snaaks genoeg, ek het nog nooit die skuldige broer / suster ontmoet nie. Nog nooit gehoor:- “Ek het my broer so ingeloop en lekker oor hom geskinder. O ja, ek het hom ook lekker verneuk met geld.” Nee jong, die skuldige is morsdood! Die skuldiges bly seker op 'n ander planeet.

En dan, eendag, staan jy langs 'n oop graf en dis te laat om reg te maak. Vir ewig te laat.

Ek het vertel van die broer en suster wat mekaar vier jaar lank vermy het. Weet jy hoe het hulle dit reggestel, die verhouding reggeruk en weer vriende geword? Hy het haar gebel en gesê: “Ek is jammer”. NET DIT! Drie simpel, eenvoudige woordjies. 

Enige situasie tussen twee partye wat so sukkel kan met ‘n sinnetjie woorde opgelos word. “Ek is jammer” of “Ek spreek jou vry” of “Ek vergewe jou” of “Ek is lief vir jou”. Net dit. En al word julle nie weer vriende nie, is die situasie ten minste opgelos. Hoe moeilik is dit? Jy sien, hierdie man was net so skuldig soos sy suster, maar trots het hom verhoed om dit reg te stel. Trots en hoogmoed. Daardie selfde ding wat gemaak het dat Satan uit die hemel gewerp is. 

Trots en hoogmoed verwoes gesinne en harmonie tussen mense en breek ouers se harte in die proses. 

Dit vat 'n man op 'n perd om daardie stap te neem, om die foon op te tel of te ry na die ander party se huis toe om te gaan regmaak. Is jy 'n man op 'n perd? Het jy die moed? Mens sal vir jare in hierdie konflik leef, heeldag aan die ander persoon se foute dink en dan waaragtig glo hulle is gelukkig. 

Gen 4:13-16
Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.” Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.” Toe gee die Here vir Kain 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie. En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod , oos van Eden.     

“Ek sal 'n doellose swerwer wees...”.

Vers 16 sê: “En Kain het van die Here af weggevlug”. Klink nie na 'n baie gelukkige mens nie, of hoe?  Uiteindelik het hy in Nod, oos van Eden gaan woon. Sonder die Here. Kain het swaar gedra aan sy straf, vir altyd. 

Matt 6 :14-15 “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”   

Hy gaan jou nie vergewe as jy nie iemand anders gaan vergewe nie. Jesus se eie woorde. 

Kain se pad het weg van die Here geloop. Waarheen loop jou pad? Moet jy nie dalk vandag daai oproep gaan maak nie? Of wil jy eerder saam met Kain in Nod, oos van Eden gaan bly?

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)