Ons
stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar die bose geeste in die
lug.
Glo jy dit? Glo jy dat daar magte en kragte
teenwoordig is wat ons nie kan sien nie? Wel, glo dit! Dit is daar,
ongeag of iemand dit glo of nie. Glo jy dat Satan bestaan? Wel, glo
dit! Want as dit nie so was nie, is God 'n leuenaar, en kan ons die
Bybel in die asblik gooi. Dink jy die Bybel is waar? Wel, glo dit!
Want ons oppermagtige God het sekerlik die vermoë om Sy Woord in
stand te hou.
Ons het Maandag-oggend gepraat oor God se almag en
grootheid
(klik hier as jy dit wil lees >>).
Dis dan sekerlik nodig om soms te praat oor die vyand. Satan, genoem
die verleier, vader van die leuen, owerste van die wêreld, die draak,
die dier uit die see, versoeker, vors van die onsigbare magte, dier
uit die aarde, ens.
Hoekom moet ons daaroor praat? Wel, dis sekerlik
nodig om die vyand te ken. Want as ons hom ken, en sy strategie ken,
sy vermoëns, sy metodes, sy geskiedenis, dan kan ons mos meer paraat
wees teen die kalant.
Moenie 'n fout maak nie, Satan is oorwin aan die
kruis, toe Jesus gesterf en opgestaan het, maar hy is nie weg nie,
hy het nie opgehou om ons te verpes nie, Hy is daar. En hy het baie
demone in sy weermag. Wees maar op die uitkyk, hy loer agter elke
tweede bos uit.
Waar kom die vyand vandaan?
Openb 12 : 7 - 9
7 Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes
oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog
gevoer,
8 maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van
hulle te vind nie,
9 want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die
Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel
uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.
Satan was in die hemel, en is uit die hemel uitgegooi
omdat Hy in opstand gekom het teen God.
2 Petr 2 : 4 "God het selfs die engele wat gesondig
het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat
boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel."
Dit is dus duidelik dat hy/hulle nie meer in die
hemel is nie, in die hel gestort is en nooit weer daar kan uitkom
nie. Probleem is net, hy is nie beperk tot die hel nie. Inteendeel,
net na Jesus se doop - dis waar Hy vir Sy werk op aarde in Sy amp
ingestel is, kom Satan op die toneel. Jitte, lyk my hy kon nie wag
nie, toe is hy by Jesus.
Matt 4 : 1 - 11
1 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel
versoek te word.
2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand
het Hy honger geword.
3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: "As U die Seun van
God is, sê hierdie klippe moet brood word."
4 Maar Hy antwoord: "Daar staan geskrywe: 'n Mens leef nie net van
brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.
5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op
die hoogste punt van die tempel staan
6 en sê vir Hom: "As U die Seun van God is, spring af! Daar staan
mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee Op hulle hande sal
hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip3 sal stamp nie.
7 Jesus sê vir hom: "Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou
God nie op die proef stel nie.
8 Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die
koninkryke van die wêreld met hulle prag
9 en sê vir Hom: "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my
aanbid."
10 Maar Jesus sê vir hom: "Gaan weg, Satan, want daar staan
geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele
gekom en Hom versorg.
Hy gaan bied sommer vir Jesus al die koninkryke van
die wêreld aan. So asof dit aan hom behoort. Kan jy sien dat hy nie
sommer 'n ou lammertjie is nie? Hy gaan vat vir Jesus tromp-op aan.
Asof daar geen vrees vir Jesus is nie. Net so doen hy nou nog met
jou en my.
Hoe gaan hy vandag te werk? Die Bybel het talle
aanhalings oor die duiwel se metodes. Hy probeer alles.
1. Hy is totaal in beheer van die sondige wêreld.
1 Joh 5 : 19 "Ons weet dat ons aan God behoort, en
dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is."
Moet wees, dis tog sekerlik nie God wat sonde laat
gebeur nie.
2. Hy verlei gelowiges om te sondig.
Matt 16 : 21 - 23
21 Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat
Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde,
die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet
word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.
22 Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: "Mag God dit
verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie."
23 Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: "Moenie in
my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink
nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê."
Daar lees ons van Petrus wat vir Jesus wil verseker
dat hy nie sal toelaat dat Jesus se heilsplan uitgevoer word nie.
Jesus sê: "Moenie in my pad staan nie Satan! Jy is
vir my 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie,
maar aan wat die mense wil hê."
Hand 5 : 3 "Petrus sê vir hom:- Ananias, hoekom het
jy jou deur die satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en
van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou?"
3. Hy probeer mense weerhou om vir Jesus te aanbid en
kennis te versamel.
Matt 13 : 19 "Die Bose kom by elkeen wat die woord
van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat
in sy hart gesaai is."
4. Hy vermom homself as die engel van die lig.
2 Kor 11 : 14 "En geen wonder nie, Satan self doen
hom voor as 'n engel van die lig."
Ja, hy het baie planne, hy is baie slinks, en jy sal
hom agter elke hoek en draai kry. Kuier in die donker, daarom doen
hy homself voor as die engel van die lig.
Hoe dan nou gemaak?
Wel, Satan kan jou net van een ding aankla, en dis
oor jou verlede. Verlede is daardie tyd tot 'n sekonde gelede. Hy
herinner jou konstant aan jou verlede. En as hy dit doen, kan jy hom
gerus herinner aan sy toekoms in die hel, want dis waar hy vir
homself 'n standplaas bekom het.
Hoe oorwin ek hom?
1. Deur geloof.
Ef 6 : 16 "Daarby moet julle altyd geloof as skild in
die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die bose
kan afweer."
2. Aanvaar die oorwinning van Jesus oor die Satan, en
maak dit jou eie.
Joh 12 : 31 "Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld,
nou sal die owerste van hierdie wêreld, die Satan, uitgegooi word
buitentoe."
3. Staan hom teë.
Jak 4 : 7 "Onderwerp julle dan aan God. Staan die
duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug."
Moenie toegee nie, nie aan versoekinge nie, nie aan
sondes nie. En hy sal van jou af wegvlug! Sien jy hoeveel mag het jy
oor hom? Want, hy het net jou verlede. Maar ons? Ons het 'n toekoms
in Christus. Halleluja - dis ons oorwinning.
|