KYK MET ANDER OË


Wat sien jy as jy om jou kyk? Nou ja, dis geen geheim dat dinge tans bietjie in 'n warboel is nie. Dit is egter 'n  probleem as dit ál is wat ons raaksien, en as ons niks meer van die mooi van die lewe raaksien nie. Daarom kom pleit ek vandag by jou, en by myself: kyk 'n slag met ander oë! Dink bietjie wat sou met jou gemoedstoestand gebeur het as ons net vir een dag al die slegte goed kon ignoreer, en nét kon konsentreer op die mooi om ons. Weet jy dat dit moontlik is? Kom ek vra jou: "waarmee is jou gedagtes die meeste van die tyd besig?" Ek praat nou nie van werk detail nie. Terwyl jy werk, terwyl jy bestuur - waaraan dink jy? Ek sit verlede week daar op die strand en kyk die mense so een vir een, en ek wonder waaraan elkeen dink. Almal dink tog aan iets. Heeldag. Maar waaraan? Kom ons sê twee mense het daar langs mekaar gelê, elkeen met sy eie gedagtes. Persoon een dink aan misdaad, die regering wat deurmekaar raak, rentekoerse, die verkiesing, werksdruk, sy slegte finansies, vallende aandele beurs, ens. ens. …. Alles net negatiewe goed. Persoon twee forseer hierdie gedagtes uit sy kop uit. Hy dink aan die heerlike sonskyn, hoe mooi die branders breek, hoe die Here die hemelruim skilder met pragtige wolke, die wit seesand … Hy sien hoe kinders lag en baljaar, ens. ens… Wie van dié twee is die beste af? Kon enige een van die twee iets aan die negatiewe goed verander? Verseker nie! Wie is die een wat depressief geraak het? Nie Persoon twee nie! Persoon een wens die goed in sy gedagtewêreld kan verander; Persoon twee wil NIKS verander aan sy gedagtes nie. Dis mos ons keuse om met ander oë te kyk.

Dink jy nie ook die Here kan dalk dink ons is darem baie ondankbaar nie? Besef ons altyd dat God ons baie spesiaal ag, en dat ons 'n baie besondere plek in die skepping het?

Ps 8
1 Vir die koorleier: met musiek. 'n Psalm van Dawid.
2 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3 Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,
5 wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
6 U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon,
7 U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:
8 skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,
9 die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
10 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!


Kom ons staan bietjie stil by 'n paar dinge:
· Die misdaad in die land is vreeslik sleg, en daar is boosheid, maar … dit kan niks verander aan 'n vriend wat nader is aan 'n broer nie. Dit kan niks verander aan mense wat regtig góéd is nie. Daar is wonderlike vredeliewende mense, en ja, van ALLE bevolkingsgroepe.
· Die ekonomie druk dat die trane rol… dis sleg, maar… dit kan niks verander aan die gevoel van dankbaarheid as die Here 'n wonderwerk in moeilike tye laat gebeur nie. Kan jy ook getuig van tye waar alles donker lyk, en skielik kom die deurbraak? Ek is seker jy het ook so 'n storie om te vertel.
· Die jeug van vandag … daar is sprake van kinders wat alle reëls en gesag oorboord gooi. Dwelms, seks, ens. is aan die orde van die dag. Dit is so, maar … dis by verre in die minderheid. Dit verander niks aan die mooi van 'n kind wat regtig 'n sieraad is nie. Ek kyk so by die skool waar my dogter is, en dink, jitte hier is darem oulike kinders. Ek moet net met die regte oë kyk.
· Ons sien hoe ons planeet vernietig word deur onsself. Aardverwarming, besoedeling, Hartbeespoortdam-die swamdam(!) Ja, dit lyk vreeslik, maar …dit verander niks aan die gevoel van 'n lekker rustige reënbuitjie nie. Kaalvoet in die reën. Onthou jy? Ons het kaalvoet in die stroompie water geloop wat so op die kant van die teerpad vloei en as jy "reg" trap op die Jakaranda-blommetjies dan maak dit so 'n lekker klapgeluidjie. Sien jy dit nog in jou geestesoog? Onthou jy nog die reuk van die grond as dit net begin reën? Onthou jy wintertyd in die laerskool as die ys so op die gras van die rugbyveld lê en ons skaats so met kaalvoete daarop? Sien jy nog dié dinge om jou? Sien jy nog hoe lieflike wolke vorm? Spierwit wolke teen helderblou lug, soos massiewe watte bolle wat kilometers hoog uittroon. Weet jy, my vriend, die Here maak hierdie ongelooflike mooi kunswerke vir jou en my om te geniet. Hy skilder elke dag splinter nuwes, die een mooier as die ander - vir ons! Sien jy dit nog? Of vertroebel die wêreld se probleme die kunsskatte van die Here?
· Die oorlog in die Midde-Ooste kan nooit die prag van 'n pasgebore babatjie oorheers nie. Wat is mooier as so 'n pienk weerlose lyfie, wat só afhanklik is van die versorging van sy ma? Só sien die Here ons ook as 100% afhanklik van Hom, en Hy wil ons versorg, Hy wil net die beste vir ons gee en doen. En weet jy, my vriend, só dikwels stoot ons sy koesterende hand weg, en probeer ons self die mas opkom. Só baie keer sê Hy: kyk net bietjie weg van die negatiewe goed af, en kyk na die daaglikse wonderwerke wat Ek vir jou wys.

Nee jitte, ons kyk te veel kere deur 'n vuil sonbril, en dan sien ons niks van die goeie en die lekker om ons raak nie. Ons woon in een van die mooiste lande op aarde, maar ons kies om op die boosheid van die mens te konsentreer. Ons aanbid die wonderlikste, liefdevolle God, maar sien min van Sy hand in ons lewens raak.

Mag die Here ons help om nuut te kyk, met vars, helder oë. Mag ons leer om die prag van die Skepping raak te sien.

Kyk met ander oë!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)