LEEF VANDAG VOLUIT


Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees. (Ps 118 : 24)

Wat hou hierdie dag vir jou in? Waarna sien jy uit vir vandag? Is daar léwe in vandag? Ek maak 'n stelling, ons het die kuns verloor om vir vandag te lewe. Iemand noem vir my hierdie aanhaling: "Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a blessing." Hoe moeilik is dit nie vir ons arme mensdom om vandag voluit te leef nie. Ek het die vraag gevra: wat hou vandag vir jou in? Vir jou, as individu. Vir die meeste mense is dit of niks, of spanning, of harde werk, of sommer net 'n totale leegheid. So asof ons soms sommer net opgee om te leef.

Sjoe, maar dit klink darem swaarmoedig en stroef, maar dis ongelukkig die realiteit. Ons as mense het die kuns verloor om te leef vir vandag, om uit te sien na môre en om dit wat tot 'n goeie vandag gelei het, te koester. As kind het ek altyd iets in my kop gehad wat lekker was om aan te dink, en altyd iets gehad waarna ek uitgesien het. Ek onthou ook as kind dat ek soms my ma gevra het, wat gaan "eendag" gebeur. "Eendag" was vir my iets misterieus wat voorgelê het. So leef ons ook vir eendag, en nie vir vandag nie.

Carpe Diem - Gryp die dag. Moeilik om vandag voluit te leef. Ons leef maar almal vir môre, of iewers in die toekoms, en maak in alles voorsiening vir môre, i.p.v. vandag. Die makelaars vertel jou om soveel moontlik vandag opsy te sit vir môre. Op die ou end is ons almal meer werd dood as lewendig. So asof môre 'n uitgemaakte saak is...

Jak 4 : 13 - 17
13 Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak."
14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
15 Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen."
16 Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.
17 As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.

Môre wat as hoop meer sal inhou as vandag. So werk ons ons vandag oor 'n mik om môre beter daaraan toe te wees. Ons sê vandag vir ons kinders nee, omdat ons hard moet werk vir môre. Ek dink deel van die probleem is die feit dat môre 'n misterie is, en dan vergeet ons van vandag. Weet jy, die Here maak nie onbeperk dae nie. As Hy weer op die wolke kom, is die dae hier op aarde verby. Hoeveel van hulle kan ons sê is gewaarborg? Oor hoeveel dae in die toekoms het ons beheer? Ek en jy weet nie of ons môre nog hier gaan wees nie. Maar vandag, lyk my, is ten minste al hier.

Ps 118 : 24 "Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees." Want hierdie dag is hier, oor môre weet ek niks. Daarom is daar dalk so bietjie vrees vir môre. Ek bid een oggend dat die Here vir my genoeg werk moet voorsien vir die volgende maand, of verkieslik nog langer, maar toe lees ek weer die "Onse Vader" …… Gee my vandag my daaglikse brood. Is dit nie God se bedoeling nie? Een dag op 'n slag.

Hier volg enkele verse hieroor uit die Bybel:

Pred 4 : 7 - 8 "Ek het in hierdie wêreld nog meer gesien wat tot niks kom nie. Daar was 'n man wat alleen was, sonder seun of broer. Tog was daar geen einde aan al sy inspanning nie, en was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê, vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?"

Sjoe, klink so bekend. Niks lekker in die lewe nie. Maar ons het dalk 'n kind en doen presies dieselfde. Werk maak dat ons al die aangename dinge mis en ons kinders afskeep.

Jak 6 : 3 "'n Man kan honderd kinders hê en baie lank lewe, maar hoe oud hy ook al word, as hy nie die goeie dinge kan geniet nie, en nie eens in 'n graf begrawe word nie, is 'n doodgebore baba beter daaraan toe as hy." 

Jaag vir die rykdom van môre en mis die genietinge van vandag. En dan haak ons natuurlik net so erg by gister vas. So asof gister dan nou so wonderlik was. Hoe dikwels praat ons nie van die goeie ou dae nie?

Pred 7 : 10 "Moenie sê die ou dae was beter nie, as nou nie. Dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie."

Daar het jy dit. Ons sê dit so maklik. Die goeie ou dae. Waarna verlang jy terug in die verlede? Wat was soveel beter dat jy dit sal wil terughê? Was dit regtig beter? Dit lyk my ons is vasgevang tussen die bekende van gister en die misterieuse van môre, en weet nie wat om met vandag te doen nie. Weet jy wat? Vandag is die dag waaroor jy so lank terug bekommerd was. En dis toe nie so sleg nie. Onthou jy die oorlog van 1994? Toe gebeur niks ….. inteendeel. Nee wat, kom ons leef!

Pred 9 : 3 - 10
3 Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.
4 Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is.
5 Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet;
6 dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.
7 Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.
8 Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie.
9 Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld.
10 Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.

Kom ons leef vandag voluit.

Matt 6 : 34 "Moet julle dus nie oor more bekommer nie, want more bring sy eie bekommernis." Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.

 Hoe leef ons vir vandag?

· Doen vandag iets sinvol of lekker, iets wat jy kan geniet. Drink koffie saam met jou lewensmaat.
· Gaan kyk vandag daardie rugbywedstryd, want môre is dit dalk te laat.
· Neem dalk vandag daardie groot besluit. Dit wat jy moet doen om jou te laat losbreek van die bande van ongelukkigheid wat jou vashou.
· Maak 'n afspraak om vir daardie vriend te gaan kuier wat jy lankal wou sien.
· Bel vandag jou ma, pa, kind, broer, suster vir wie jy so lank opsy skuif.
· Beplan meer vir vandag as die toekoms, want jy kom dalk nooit daarby uit nie.
· Spandeer dalk so 'n paar rand op jouself, of bederf iemand anders.
· Glimlag vir 'n slag. Sommer ook vir jou baas. Dalk val hy om - dan glip jy vroeg huis toe (grappie!)
· Maak dalk vandag iets met iemand reg, wat jy lankal uitstel.
· Laat vandag tel. Laat môre vir môre en gister in die verlede.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)