Hoe
voel jy vanoggend, op hierdie pragtige lentedag? Is daar nie vir jou
ook so 'n “vibe” in die lug nie? So asof mens kan dink dat iemand
wat heeltemal afgesonder is van die wêreld, sonder benul van dag of
datum, sal ook hierdie gevoel voel. Lekker warm, blou lug, en
bloeisels aan die bome.
Dis 1 September, amptelik lentedag. Die dag waarop
ons as kinders by die munisipale swembad gaan swem het, al het ons
gevries van die koue. Daarna grondboontjiebotter en stroop
toebroodjies geëet. Kaalvoet skooltoe, die winter is verby. Ook die
tyd wat ons in afwagting uitsien na die eerste lente reëns, net soos
die blomme en veld grassies wat afgebrand het, nie kan wag om te
spog met hulle nuwe groen kleedjies nie. Ons pak die winterklere weg,
skuif die swembroek versigtig nader en wonder hoe ons hierdie wit
beentjies so effe bruin kan kry. Dis nou voor die somerson hulle in
'n gesonde koperkleur verander.
Maak ook reg om die wintervetjies af te skud, want
ons kan nou nie meer daai onwelkome vetrolletjies met die
winterklere verbloem nie. Mmm... maar natuurlik sien ons kans vir 'n
lekker draairoomys, sorgeloos wandel in die mall in die vars
aandluggie, want die kaggel het nou sy aantrekkingskrag verloor. Die
elektriese onderkombers kan ook maar af van die bed af.
Die seisoen het gedraai en ons kan dit al lankal
voorspel, want God het weereens getrou gebly en ook hierdie “Ek maak
alles nuut...” uit Sy groot genade geskenk. Soos altyd. Hy het nog
nooit 'n datum gemis nie en nog nooit die volgorde van die seisoene
verander nie. Dis ook nie nodig nie, want Hy het dit volmaak ontwerp.
Gen 1 : 14 “Toe het God gesê:-
Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te
skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te
dui.”
Pragtig, né? Seisoene is volmaak, en met 'n doel
ontwerp. En God onderhou dit.
Ps 74 : 17 “U wat al die seisoene van die aarde
vasgestel het, somer en winter is die werk van U hande.”
“Dis heerlike lente, die winter is verby, weer nodig
die velde vir jou en vir my...” G.G Cillie.
So gaan ons ook deur seisoene. Soms is ons lank
vasgevang in een seisoen, soms gaan ons deur al die seisoene in 'n
baie kort tydjie. Soms kan ons net nie wag om met 'n seisoen klaar
te maak nie. Dikwels raak ons seisoene deurmekaar en soms verander
omstandighede ons seisoene in 'n oogwink.
Wanneer herfs aanbreek, droog die somerreëns hier in
Gauteng op en die bome gooi hulle beskermende kleertjies af. En dan,
wanneer hulle naak en blootgestel staan, in die tyd wat hulle
daardie jassie die nodigste het, breek die winter in sy volle
felheid aan. Genadeloos. Hulle raak weerloos in die tyd wat hulle so
broos is. Die winter hou niks terug nie, swart ryp val met mag en
mening aan en saai verwoesting. Snags , wanneer daar geen hulp van
die son is om net 'n bietjie hulp te verleen nie, smag daardie boom
na somer en na hitte. Water raak skaars en koue winde sny deur die
takke. Dis wintertyd, op sy ergste. Het jy ook al so gevoel? In die
tyd wat jy die mees weerloos was, slaan die teenspoed toe,
genadeloos.
Waar was U Here? Toe ek U die nodigste gehad het? Toe
ek SO seer was en SO vuisvoos, was ek stoksiel alleen.
Miskien klink hierdie frase vir jou bekend:- “My God,
my God, waarom het U my verlaat? Eli Eli, lama sabagtani”. Jesus aan
die kruis, stoksiel alleen, blootgestel, letterlik en figuurlik,
want hulle het mos sy bo-kleed gevat en uitgeloot.
My God, waar is U, ek het U aanraking SO nodig, ek
smag na die warmte van U nabyheid, Ek wil so graag U arms om my voel.
My God, my God...
Ons familie is op 'n tyd deur so 'n wintertyd toe my
ma met kanker gediagnoseer is. Terminaal, enige iets van 6 maande
tot twee jaar. Winter woorde. Chemo mag dalk help, geen waarborg nie.
My God, my God.... Waarom? Wintertyd, yskoud. Watter woorde kan dit
beskryf? Hoop loos? Hopeloos? Hulpeloos? Kragteloos? Toekomsloos?
Wat wil jy dit noem? My God, my God...
En toe, na slegs drie maande se chemo-behandeling kom
hierdie wonderlike nuus, die kanker is onder beheer, bloedtelling
ongelooflik verbeter, sy het weer gewig opgetel, en die kanker gewasse
is aansienlik
kleiner.
Lentetyd..
My God, my God, U was al die tyd daar! Nuwe seisoen,
nuwe lewe, nuwe hoop, 'n toekomsverwagting. Die beskermende kleed is
terug, blaartjies en botseltjies, die seisoen het gedraai. Die
Skepper wat byna onsigbaar Sy hand op die kroon van Sy skepping
gehou het. Hy was nooit weg nie, al wat afwesig was, was Sy
afwesigheid.
'n God van tweede kanse, en derde, en honderdste
kanse. In hierdie tyd smag 'n tuin na 'n tuinier se hand. Hy wil
nou gesnoei word en die verfrommelde kleed moet versigtig verwyder
word, want daar is 'n afwagting vir vrug dra. Sy binneste, wat vir
lank hierdie verwagting en afwagting moes onderdruk, is gereed om
uit te bars en uit te bot. In hierdie wintertyd het sy wortels
smagtend na vog dieper en dieper die aarde binnegedring en daar sy
water gaan haal. Die water wat God daar versteek het waar dit nie
kon verdamp nie. Daar binne-in die takke skuil vrug wat wil uit om
weer aan ander lewe te gee. Dis tog immers sy skeppingsdoel.
Maar soms het die seer van die winter net te diep
gesny en die seisoen is net te erg om af te skud. Lente wil net
eenvoudig nie deurbreek nie, en die vrug sterf nog voor sy geboorte.
Dan kom gee die tuinier 'n tweede kans.
Luk 13 : 6 – 9
Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "'n Man het 'n vyeboom gehad
wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar
niks kry nie, sê hy vir die tuinier: 'Kyk, dis nou drie jaar dat ek
aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit!
Waarom moet hy langer die grond uitput?' Maar die tuinier antwoord:
Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom
omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar
so nie, kan u hom uitkap."
Smag jy ook so na vrug dra? Wil jy ook graag die ou
kleed afgooi en nuut beklee word deur die heerlikheid van God? Dan
sê God: “Kyk, Ek maak alles nuut...”
Die botsels wat smag om oop te breek, kry 'n tweede
kans omdat die Tuinier hom versorg en gereedmaak vir sy somervrugte.
Die snoeityd is seer, maar die groeityd is wonderbaarlik.
Miskien voel jy of jy vassit in die kake van die
winter, soms voel dit of die finale deurbraak net nie wil kom nie.
Het die tuinier dan reeds opgegee? Het Hy die byl gaan nadertrek?
Vra vir die Tuinier, smeek om Sy guns, byt vas in die tyd waar mens
wil sê:- “My God, my God...”
Luister, raak stil en luister, en jy hoor Hom kom.
Gen 3 : 9 God wandel in die tuin en soek na Sy
skepsel wanneer Hy vra:- Mens, waar is jy? Hy was nooit weg
nie, Hy was altyd in die tuin.
Hier is ek Here!!!
Jy sien, die bloeisels en botseltjies is nie
afhanklik van die mens se ingrype nie. Al gooi jy nie water nie, sal
hy sy wortels diep onder die grond inwurm om te oorleef. Dis nuwe
lewe, dis God se werk.
Ps 74 ; 14 “Somer en winter is die handewerk van
die Here“.
“Hier is ek Here...”
En die Here is daar. Swaarkry was nodig, dit gooi ou
blare en grasse af, dis snoeityd. Dis God se handewerk. Hy doen dit
/ laat dit toe, sodat ek en jy daarby kan leer, maar ook om gereed
te maak vir ons somer gewaad. Mooi, skoon, vars...
“Kyk, Ek maak alles nuut, sê die Here Here”
|