LEWE


Ek weet nie hoe jy lyk nie. Dis onwaarskynlik dat ek sal weet, behalwe natuurlik as ek jou al êrens ontmoet het. Ek weet nie waar jy werk nie, hoeveel jy verdien nie, waar jy woon nie. Daar is baie goed van jou waarvan ek niks weet nie, Maar een ding staan vas: ek sit hierdie  kant van die rekenaar, ek kan jou nie sien nie, maar ek wéét jy lewe! Wat is lewe? Kan jy dit definieer? Wanneer gaan jy ophou lewe? Ken jy daardie datum? Ken jy jou begindatum? Weet jy dat dit lank voor jou geboortedatum is? Iewers het ‘n wetenskaplike proses begin, en jy het begin LEWE. ‘n Onbeskryflike groot wonderwerk. Maar dit is die mediese proses. Op Geestelike vlak is dit anders. Jy lewe van die begin van tyd in God se gedagtes, of jy dit glo of nie. Ek kan dit as Geestelike wese, as gelowige, nie anders insien nie. God het ‘n siel aan jou liggaam toegeken toe jy verwek is in die moederskoot, maar ek weet nie of daardie siel nog altyd bestaan het nie. Dis bokant my begrip. 

Prediker 12:5(b) – 7

... die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan,
6
die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val,
7
die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het
 

... die tyd wanneer die mense se gees terugkeer na God wat dit gegee het. Hoe meer ek hieroor dink, hoe kleiner word my verstaan en my begrip van hierdie ding. LEWE is iets enorm! Dis ‘n voorreg, ‘n wonderwerk, so ‘n groot gedagte wat ek nie in woorde kan beskryf nie. Ek vra jou, hoe voel jy oor hierdie wonderwerk? Is jy dankbaar? Dink jy ooit daaraan? Is jou lewe nog vir jou iets werd? Of wil jy joune nie meer hê nie? Is jy moeg vir joune? Begeer jy dalk iemand anders s’n? Voel jy joune is te swaar? Voel jy soms om net ‘n briefie agter te laat? Dis die hartseerste ding wat op hierdie aarde kan gebeur: as die probleme groter raak as die wil om te lewe.

Gen 2:7 Die Here het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het. Ek hoor Sondag ‘n preek van Dr Lemmer du Plessis, en hy vra die vraag: glo jy dat Adam die vader van die hele mensdom is? Iemand moes dit wees, of hoe? God sê dit was Adam. Dit was dus Adam. ‘n Proses wat na baie tyd aanhou en aanhou. As jy voortplant, sal lewe aanhou. Ek is vir God ewig dankbaar vir my kinders, en ek hoop dat ek ook kleinkinders sal hê. God is die bron van alle lewe!  

Job 33:4: “Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee”

Jes. 42:5(b): Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg.

Gelowiges en ongelowiges het almal die gawe, die geskenk van lewe ontvang. Dis groot! Ek vra weer: wat maak jy met joune? Pas jy dit op? Koester jy dit? Geniet jy dit? Het jou lewe ‘n doel? Of ... are you going nowhere slowly? Dis baie sleg as iemand doodgaan. ‘n Jaar gelede is my ma oorlede; agt jaar gelede my pa. Maar hulle het ge-LEWE. Dis erger as iemand dood is terwyl hy asemhaal. Ek glo dis ‘n klap in God se gesig. Weet jy, jy kan net die ewige lewe hê nadat jy op aarde gelewe het. Logies, of hoe?

Joh 1:4 “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense”. Daar was lewe in Jesus. En Hy was/is die lig vir ons lewe. 

As ek en jy dan hierdie gawe van lewe het, moet ons dit seker lewe na die Een wat dit gegee het se wil.

Gal 5:13-18
13
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
14
Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
j15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
16
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.
17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.
18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word. Dit is dus duidelik dat jou lewe deur iets anders beheer kan word. En as daar staan “laat julle lewe” dan impliseer dit dat dit ‘n keuse van jouself moet wees. ‘n Entjie verder volg die vrug van die Gees en ook die praktyke van die sondige natuur wat lynreg teenoor mekaar staan. Die Here se opdrag is dan baie duidelik: terwyl jy asemhaal, elke dag opstaan, hierdie reuse voorreg en geskenk besit, jy baie vryheid en keuses het: lewe dan ‘n goeie lewe. Doen goed. Hierdie opdrag is nie moeilik nie, niks daarvan is sleg nie, dit kan jou nie in die moeilikheid bring nie en boonop is dit goed vir ander, asook vir jou ewige toekoms. Dit word moontlik gemaak deur Christus. 2 Kor. 5:17 “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom”. Dus: jy is gebore, jy ontvang ‘n siel, jy haal asem, jou liggaam is die draer van die siel, maar jy is soos alle mense op aarde. Dan kom Jesus, Hy nooi jou uit, Hy neem beheer en jy word ‘n nuwe mens. Dieselfde “chassis” met ‘n nuwe enjin. En dan is jy reg vir die lewe hierna.  

Nou roep God jou tot die lewe waar asem nie meer nodig is nie. Ek was by toe albei my ouers hulle laaste asem uitgeblaas het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Nou het die liggaam nie meer asem nodig nie, want die draer van die siel se tyd is verby, en die siel gaan terug na God toe wat dit gegee het – daar waar nie meer trane is nie, niks hartseer nie, geen boosheid of swaarkry nie. Die kringloop is voltooi, maar lewe het nie opgehou nie. Die laaste, ewigdurende fase het ingeskop. Dis ‘n nuwe vorm van lewe wat begin – hartklop, asem, aardse voedsel is nou oorbodig.

Openbaring 2:17
17
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ’n wit steentjie gee met ’n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.
 

Dis jou medalje by die wenstreep. Jou medalje vir lewe. Ek het geen Comrades medalje nie, want ek het nie die wedloop gehardloop nie. Maar ... ek sal my wit steentjie kry, omdat ek die lewenswedloop gehardloop en oorwin het.

Lewe voluit, geniet dit, maak goed klaar, en kry jou medalje. DIT maak lewe die moeite werd.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)