Die liefde. Kom ons lees die mooiste gedeelte uit
die Bybel oor die liefde.
1 Kor 13 - uit Die Boodskap:
"Sê nou maar ek is so 'geestelik' dat ek die tale kon praat wat
die engele in die hemel praat en selfs nog 'n klomp ander, maar ek
het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie
'geestelike gepraat' dan na niks anders as 'n geraas soos iemand wat
teen 'n yster kap nie. Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog
geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat
ander mense nie eers weet nie, en boonop het ek nog die grootste
geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief
nie, dan is ek vir die Here 'n nul op 'n kontrak. Al gee ek alles
wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here
verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks.
Om ander lief te hê beteken:
· om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie;
· om altyd mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees
sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel;
· om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik
daaroor te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie;
· om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie;
· om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;
· om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie
ongemaklik saam met jou voel nie;
· om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;
· om nie sommer vir niks kwaad te word nie;
· om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou
sodat jy hom of haar kan terugkry nie.
Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant
kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly
wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. Liefde
beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste
van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g'n
einde nie.
Liefde is nie iets wat 'n mens kan opgebruik en
dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die Gees aan
mense gee soos om God se Woord oor te dra of in 'spesiale tale' te
praat of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie
veel weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie. Daar sal 'n tyd kom
wanneer die Gees dit nie meer vir mense sal gee nie, omdat dit nie
meer nodig sal wees nie. Ons weet in elk geval nou nie alles nie en
wat ons vir julle van God se wil vertel, is ook nie alles wat daar
is om te weet nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer alles perfek sal wees
soos God dit bedoel het. Dan sal die dinge wat God net vir 'n tydjie
wou gebruik het nie meer nodig wees nie . Dit is eintlik maar so met
'n mens ook. Toe ek klein was, het ek nie soos 'n grootmens gepraat
nie, maar soos 'n kind. Ek het ook gehou van dinge waarvan kinders
hou en graag daaroor gepraat. Ek kon ook nie verstaan waaroor die
grootmense praat nie, want ek het deur die oë van 'n kind na dinge
gekyk. Maar toe het ek grootgeword en dit het alles verander. Die
dinge wat vir my as kind so belangrik was, is nou nie meer vir my
belangrik nie. Ons is nou nog eintlik maar in ons geestelike
kinderskoene. Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is asof
ons in 'n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles
mooi uitmaak wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles
helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak
ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en
beteken. Daar kom egter 'n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos
God nou alles van my af weet.
Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike
dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die
sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en liefde. En van hulle staan
die liefde boaan die lys."
Hierdie gedeelte hoor ons so baie op troues, en dan
beperk ons dit tot die huwelikswêreld, maar dit is nog meer van
toepassing op die dag tot dag wêreld tussen alle mense. Die probleem
is dat ons nie verstaan wat mense se liefdes behoeftes is nie. En
ons is nie almal dieselfde nie. Dan probeer ek om liefde te bewys
aan ander, op die manier wat ek dit graag persoonlik wil ervaar.
Daar is 'n boek met die naam "The five love languages". In hierdie
boek word die liefdestale opgedeel in die volgende:-
1. Woorde - die persoon wil dit hoor dat iemand vir
hom lief is - en nie afbrekende woorde hoor nie.
2. Kwaliteit tyd - om tyd saam met die persoon te spandeer, beteken
dat jy omgee.
3. Om iets te gee - die persoon hou daarvan om blomme, of sjokolade,
iets moois - al is dit klein, te ontvang.
4. Doen - om iets vir die persoon te doen, want dit sê vir hom hy is
belangrik.
5. Aanraking - nie die Hollywood-tipe nie, maar 'n drukkie laat
hulle goed voel.
Die probleem wat ons dan nou kry, is dat ek wil vir
iemand doen in plaas van gee. Of aanraking in plaas van tyd saam
spandeer.
Ek het 'n klomp mense se menings gevra oor die
liefdesaak. Die vraag was, "Hoe weet jy iemand is lief vir jou?" Ek
het die volgende reaksie gekry:-
1. Wanneer ek gedurig in daardie persoon se gedagtes
is.
2. Tong: as dit wat van my gesê word my nie seermaak nie. Tyd: as hy
altyd tyd het vir my en my belange eerste stel.
3. Gevoel van sekuriteit, voel veilig en beskerm, kan myself wees,
kan 'n gek van myself maak sonder vrees vir verwerping.
4. Aanvaarding soos jy is, spandeer tyd saam, stel jou belange
eerste.
5. Deur dit te sê, lyftaal, gebare, boodskappe/SMS/telefoonoproep.
Drukkies en soentjies.
6. Sê dat hy my liefhet, behandel my met respek, wys dit met dade,
doen goetertjies uit sy eie, presente gee, as my mening tel, as hy
my waardeer, ens.
7. Wanneer die persoon by jou staan, al is jy verkeerd.
8. As iemand by my staan in swaar tye, en nie die verskoning gebruik
dat hy/sy self nie te lekker voel nie. Aanvaar my soos ek is.
9. Daar mag geen voorwaardes wees nie.
10. Emosionele verbintenis, vryheid, vergifnis, aanvaarding, respek,
sekuriteit, hou belangrike dinge belangrik.
11. Laat my geborge en veilig voel, beskermd, vertroetel.
12. Respek, vertroue, neem gevoelens in ag, deel belangstellings,
kommunikasie, geduld.
13. Jy sien dit in hulle oë, en hulle vertrou jou.
14. As jou maat vir jou moeite doen, bystaan, respekteer.
15. Deur meer te kry as wat jy eintlik verdien, wanneer jy dinge
ongevraagd ontvang.
16. As die persoon dit sê en wys, persoonlike opofferings maak, tyd
spandeer.
Dan het iemand die volgende gesê: "Ons as mens kan
dit eintlik net sê, want God is liefde, want Hy het Sy Seun gestuur
om in ons plek te sterf.
1 Joh 4 : 7 - 21
7 Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en
elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.
8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is
liefde.
9 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy
na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie,
maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as
versoening vir ons sondes.
11 Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort
ons mekaar ook lief te hê.
12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet,
bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
13 Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy
Gees gegee.
14 En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as
Redder van die wêreld gestuur het.
15 Wie bely dat Jesus die Seun van God is - God bly in hom en hy in
God.
16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God
is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
17 Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het
niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe
ons reeds deur die liefde net soos Jesus.
18 Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde
verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie
volmaakte liefde nie.
19 Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.
20 As iemand sê: Ek het God lief, en hy haat sy broer, is hy 'n
leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan
onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.
21 En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet
ook sy broer liefhê.
Wat moet ons gaan verander in ons liefdesmondering?
Hoe sal 'n gebroke wêreld weet wat liefde is, as ons as Christene
nie gaan wys hoe dit lyk nie.