AS JY OP DIE WATER WIL LOOP


Matt 14 : 22 -32 22 Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23 Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. 24 Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25 Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26 Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: Dis 'n spook! Van angs het hulle hard begin skreeu. 27 Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie. 28 Toe sê Petrus vir Hom: Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom. 29 Kom! sê Hy.Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30 Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: Here, red my! 31 Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel? 32 Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.

Ek lees 'n boek met die naam: "As jy op die water wil loop, klim uit die skuit uit", van John Ortberg

Die boek het 'n groot indruk op my gemaak en het my denke geweldig verander.. Luister net weer "AS JY OP DIE WATER WIL LOOP, KLIM UIT DIE SKUIT UIT".

Hierdie stelling verwys na bemoediging en waagmoed, want soms sit ons so vas in ons omstandighede, dat dit net lyk of ons nooit daaruit gaan kom nie.  Soms sit ons so vas in die skuit ten opsigte van werk, huwelik, persoonlike lewe, geldsake en geestelike lewe. Dikwels voel ons ons moet in beweging kom, maar ons ploeter tussen die riete.

In die werkplek is mense besig om die korporatiewe leer te klim, daar is geweldige frustrasie, onderdrukking en tonne stres en die gemiddelde persoon voel net dat hy nooit bo gaan uitkom nie. Kinders oorheers deesdae die totale huishouding en alles draai om hulle behoeftes, en dit lei tot 'n gebrek aan dissipline en disfunksionele gesinne. In mense se persoonlike lewens is daar baie uitdagings wat maak dat hulle afgestomp raak en in 'n groef beland, wat dan lei tot depressie. Huwelike is ook toenemend onder druk en steier behoorlik onder die stres wat die lewe op ons sit.

Baie van hierdie dinge kan egter verander as ons nie in die boot vasgeketting sit nie. Om op water te loop ten opsigte van hierdie dinge, meen dat ons daadwerklik stappe moet neem en uit die boot uitkom. En nee meneer, jy klim nie uit jou huwelik uit om water te loop nie, jy maak dinge reg.

As jy op die water wil loop, klim uit die skuit. Wat verhoed jou dat jy dit doen? Wat maak dat jy maar eerder dag vir dag voortploeter en tevrede is met tweede beste? Is dit dalk vrees, onsekerheid, ongeloof, selfdissipline, verkeerde fokus?

Kyk na Petrus in Matt 14 : 25 - 27.

Petrus roep uit: "As dit U is, beveel my om op die water te loop".  Jesus antwoord hom net met een woord: "Kom"

So sê die Here ook vandag vir jou en my. “Kom”, as jy wil... Interessant dat Jesus hom nie voor die tyd uitgenooi het nie, maar Petrus se begeerte word egter waar gemaak.

Maar hier kom die kruks. Petrus klim sowaar uit! Jy moet egter een ding onthou, hierdie skuite was nie 'n klein plat roeibootjie nie, dit was groot. Petrus het nie oor die kant geklim soos oor 'n baksteen nie, hy moes oorklouter en het waarskynlik aan sy arms gehang om die water by te kom. Voorts is die water nie solied soos op 'n pad nie.  Maar stadig, voetjie vir voetjie begin Petrus loop, onseker en bang, maar hy loop!

Dan gebeur 'n onbegryplike ding, Petrus verloor fokus, en hy sink, want hy kyk toe eerder na die storm as na Jesus. Mens kan eintlik vir jouself afvra hoekom hy nie sou kies om hierdie wonderbaarlike oomblik tot die uiterste te gebruik nie.

Dan sê Jesus: "Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”. Miskien sou ons dieselfde vraag kan vra, solank ons nie self ook in die see was nie. Twyfel hou ons van geloofstappe af weg en maak dat ons maar eerder in die skuit vassit. Petrus het wel gesink, maar hy neem ten minste die stap. Watter stappe moet jy dalk neem? Met watter dinge sit jy en ek nog in die boot vas? Watter oorwinnings moet nog behaal word? Waarna gaan ons kyk, na Jesus of na die storm?

Nou kom daar 'n interessante vraag: Hoe het Petrus teruggekom in die skuit? Het Jesus hom uitgetrek en gedra, het hy dalk geswem of moes Jesus hom aan die hand neem en sleep? Of het hy dalk sy geloof teruggekry en geloop langs Jesus? Ek glo dís wat gebeur het.

As jy op die water wil loop, klim uit die skuit uit. Soms verduur ons maar net omstandighede en doen niks uit onsself om dit te verbeter nie. Die Here maak soms deure oop, maar ons ignoreer dit en bly eerder duskant, want dan is ons darem nie in die onbekende nie. Hy maak soms vir ons geestelike deure oop, in die vorm van bedieninge en baie ander dinge, en dan wil Hy hê ons moet in beweging kom.

Die Here verwag van ons om dalk 'n groot geloofstap te neem - dalk om iets te doen as Koninkrykswerk, dan doen ons dit nie. Dalk wil die Here ons grondgebied vergroot  soos in die geval van Jabes, miskien wil Hy ons persoonlike omstandighede verbeter, maar Hy wil hê ons moet die geloofstap neem om uit die boot te kom.

Die Here vertrou soms iets aan ons toe, maar dan weier ons, want die boot is te gerieflik en voel so veilig. Dan maak die Here maar weer die deure toe en ons dink ons bid in die plafon vas.

Wat is die verskil tussen 'n goeie rede en 'n vrot verskoning? Bid ons nie partykeer vir dinge waarvoor Hy reeds die antwoorde gegee het nie? En as die Here die deur oopmaak, stap ons deur of nie?

Waar moet jy nog uit die skuit kom? Jou werk, besigheid, verhoudinge, huweliksprobleme?

Wat hou mense in die boot was? Gebrek aan geloof in die Here, maar ook gebrek aan geloof in jouself. Ons sien ander op die water loop, maar wil nie dieselfde geloofstap neem nie en dan word ons jaloers en beny ander mense en praat altyd van hulle lekker lewens. Wat dan natuurlik dikwels oorgaan in nydigheid.

Joh 10:10 "Ek wil jou die lewe gee, en dit in oorvloed". Dit is nie noodwendig geld, of materiële dinge nie, maar oorvloed vrede, geluk, genade, liefde. Ons ontneem onsself soms van die seën van waterloop saam met Jesus.

Die Here wil ons die lewe gee, in oorvloed. Kom ons neem dit en klim uit die boot uit!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)