Dink bietjie saam met my aan Paulus, dan probeer ons
hom beskryf. Arrogant - selfvoldaan - mislik - hou nie van vrouens
nie - sê net wat hy wil - klein mannetjie sindroom - bombasties -
uitgesproke. Weet jy wat? Ons mis die punt. Kom ons lees iets oor sy
lewe:
2 Kor 11 : 24 - 27 (Boodskap)
Vyf maal het die Jode my laat gesel deur my die gebruiklike nege
en dertig houe te slaan.
Drie maal is ek met stokke toegetakel. Een keer is ek met klippe
gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer het die skip waarop ek
was, gesink. 'n Ander keer moes ek 'n hele dag en nag op die oop see
ronddobber.
Ek het ook al die wêreld vol gereis. En ek moes al 'n groot klomp
gevare trotseer: vol riviere; rowers wat my wou aanrand; my eie
volksgenote en ander mense wat nie aan Israel behoort nie wat my
prediking verwerp het; gevare in die stede en in woestyne; storms op
die see en vals gelowiges wat my dikwels in die steek gelaat het.
Ek moes ook baie hard werk. Baie nagte het ek nie 'n oog toegemaak
nie. Dikwels het ek niks gehad om te eet of te drink nie. Kos was
maar altyd 'n skaarste. Ek het ook nie altyd genoeg warm klere gehad
om my teen die koue te beskerm nie.
Paulus het swaar gekry. Hy is deur dinge wat ek en
jy nie eers van kan droom dat dit oor ons pad kan kom nie - en hy
het nie gestop nie. En vir wat? Vir die evangelie van Christus! Nie
net om dit te verkondig nie, maar omdat Paulus regtig regtig lief
was vir Jesus. Hy sê op 'n plek: "Ek verkondig die evangelie omdat
ek móét, en wee my as ek dit nie doen nie". Paulus was ernstig, en
niks sou hom stop nie.
Paulus het iets verstaan van ware Christenskap wat
ons nog nie eers van kan droom nie. Ons ken nie vervolging nie, al
dink ons miskien so. Jy sien, ek dink ons verstaan nie presies wat
gebeur nie, want die Bybel beskryf nie genoeg detail nie. Ek dink
nou aan Johannes 21 : 25. As alles opgeskryf moes word wat Jesus
gedoen het, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.
Dan nog soveel te meer as alles opgeskryf sou word wat die apostels
ook nog gedoen het. Ek wil hê ons moet so bietjie in detail kyk wat
met Paulus gebeur het. Dan meet ons dit aan wat ons Christenskap
noem.
Daar word bereken dat Paulus na sy bekering ongeveer
18000 km afgelê het om die Evangelie te verkondig. Die meeste
daarvan te voet. Paulus sê hy het vyf keer die gebruiklike straf van
39 houe gekry by die Jode. Om gegesel te word beteken om met 'n
sweep geslaan te word wat jou vel oopkloof. As Paulus sê, "kyk net
die littekens", dan beteken dit hale wat sonder steke genees het.
Weet jy hoeveel is 39 x 5? Dis 195 van hierdie dik opgehewe hale. As
jy gegesel is, het jy nie soos in die skool op die boude pak gekry
nie. Hierdie ouens het jou geslaan waar hulle plek kry. Oor jou
arms, bene, rug, maag, orals. En as jy probeer keer, was daar 'n
goeie kans dat iets gebreek het, jou arms, of jou vingers, of wat
ook al in die pad kom. Dan sê hy voorts: "Drie maal het ek lyfstraf
gekry". Waarskynlik by die Romeine. En hulle het nie die houe getel
nie, hulle het geslaan tot hulle moeg was. Groot ouens. Verder sê hy:
"Een keer is ek met klippe gegooi, en vir dood agter gelaat".
Gestenig! Nie gegooi met kettie-klippies nie, maar met rotse. Dink
vir 'n oomblik hoe het Paulus se liggaam gelyk. Hy sê op een plek "Hier
skryf ek nou self - kyk hoe groot is die letters - " dan sê mense hy
het 'n ooggebrek gehad, of hy was ongeletterd. Dalk was dit omdat sy
vingers al soveel keer gebreek was, dat hy net nie meer kon skryf
nie.
In Hand 16 : 23 lees ons waar hy en Silas in die
tronk in Fillipi is. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan
is, is hulle in die tronk gegooi. Weereens 'n bebloede massa. Nie
'n mooi gesig nie - dalk kon hy skaars regop staan. Weet jy wat sê
hy vir Silas? "Kom ons sing". Wow! Sou jy lus wees om te sing? Dalk
was sy lippe stukkend, of nog 'n tand uitgeslaan! En hy sê, "Kom ons
sing". En bid. Lofliedere tot God se eer! En ek en jy kla as dit
bietjie swaar gaan. Ek dink nie ons verstaan nie. Partykeer bring
die Here 'n bietjie Geestelike werk oor ons pad, dan maak ons eers
somme. Of wil eers baie edel bid oor die saak. Paulus sê: "Ek
verkondig die Evangelie omdat ek moet, en wee my as ek dit nie doen
nie".
Wanneer het Paulus gewerk en sy ding gedoen? Ná
Jesus se hemelvaart. Hy het dus geleef en gewerk in presies
dieselfde bedeling as ons. Daar is géén verskil nie. Jy sien, Paulus
sing lofliedere wanneer dit verskriklik sleg gaan met hom. Ons kla
as ons te veel in die kerk moet sing, of as die musiek te stadig is,
of as dit te ritmies is, of mense handeklap, of die orrel, of die
orkes, of Engels.... ons het talle verskonings! Ons verstaan nie wat
dit beteken om lof aan die Here te bring nie. Want dit gaan dalk te
goed!
Paulus sing in die tronk, terwyl dit lyk of 'n trein
hom getrap het, want hy was vir Jesus lief gewees. Daarom sê hy "of
ek leef, of ek sterf, maak niks saak nie." Paulus sou wou sterf,
omdat hy bitter swaar gekry het. Maar hy wou leef, omdat hy vir
ander van Jesus se liefde wou vertel. Ons kry nie swaar vir ons
geloof nie. Dank die Here daarvoor. Niks gaan vandag met my en jou
gebeur as ons vir mense van Jesus vertel nie. As die dominee nie by
jou werk kom nie, wees jy die dominee daar! Niemand gaan ons slaan
of stenig nie. As ons dit nié doen nie, kan die persoon dalk hel
toe. Gaan.