MENS, KEN JOU PLEK


God en die mens … die mens is skepsel van God. Die mens is ‘n nietige wese, maar o tog, soms só uitgesproke! Kom jy ook agter hoe ongelooflik uitdagend sommige mense met God raak? Ons as mens is aanhoudend besig om ons posisie teenoor God te probeer vind, en ons raak soms só aanmatigend. Aan die een kant is daar die ongelowiges wat blatant die Here belaster, Sy Godheid van die tafel probeer afvee, mense wat hulleself openlik as ateïste verklaar, en uiters roekeloos met die Here omgaan. Daar is ‘n ander kant ook: die kant waar hoogs geleerdes (selfs ook teoloë) nog die Here se naam sal noem, maar reeds die inhoud van die Bybel totaal verwerp, en dan juis dít wat ons anker is, nl. Jesus se maagdelike geboorte, Sy opstanding uit die dood, Sy Koningskap, en Sy wederkoms. Dit lyk my die mens raak by die dag meer roekeloos! Ydellike gebruik van God se Naam en sommer openlike Godslastering. Die mens ken nie meer sy plek voor God nie. Ek wonder soms wat gaan gebeur as iemand nog so verwaand en uitgesproke is en die Here staan skielik voor hom? Jy sien, die heiligheid van God, Sy soewereiniteit, Sy almag en alomteenwoordigheid word ernstig en in die openbaar deur mense uitgedaag. Dit lyk selfs of dit ‘n soort magspel geword het.

Deur die eeue het die mens die Here al uitgedaag, en met bitter slegte gevolge.

Gen 19:24-25:
Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.

Judas het ‘n aaklige dood gesterf toe hy teen die Here opstaan en Hom verloën. Moses mis die Beloofde Land.  Ons moet verstaan dat God GOD is, ons moet verstaan met Wie ons te doen het. 

Job 38:1-10
Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: 
"Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? 
Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. 
Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? 
Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? 
Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? 
Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. 
Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit.  

Dit lyk of die Here nogal verdraagsaam is met die mens, of hoe? Ek dink ons as mense het nie meer ‘n idee wat “vrees vir die Here” beteken nie. Kom ons kyk na ‘n paar tekste in hierdie verband: 

Matt 10:28 Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. 

Luk 12:5 Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees 

1 Pet 2:17 Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.

Openb 15:4 Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is. 

Dit lyk my God reageer nie noodwendig op elke insident waar die mens Hom misken en beledig nie, en dis dalk juis dan wat die mens so arrogant raak en dink hy kan doen wat hy wil. Ek dink egter dat die gróót verassing daar voor die regterstoel van God gaan kom. Daar waar daar ‘n geween en ‘n gekners van tande gaan wees.  

Weer terug by Job: hy het die Here as’t ware uitgedaag en wou vir Hom voorskryf wat om te doen. Kyk in Jes 45:9-13, hier speel dieselfde situasie hom af: 

Jes 45:9-13 Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het, 'n potskerf tussen potskerwe van klei. Durf die klei vir die een wat dit vorm, sê: "Wat maak jy?" Durf wat jy gemaak het, van jou sê: "Hy kan nie sy hande gebruik nie!" 
Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê: "Waarom verwek u 'n kind?" of vir sy ma: "Waarom bring u 'n kind in die wêreld?" 
So sê die Here, die Heilige van Israel, die Skepper van Israel: Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur? Durf julle aan My voorskryf oor my kinders en oor die werk van my hande? 
Ek het die aarde gemaak; die mensdom wat daarop is, het Ek geskep. Ek het met my hande die hemel oopgespan en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee. 
Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied; Ek verwyder elke hindernis op sy pad. Hy sal my stad weer opbou en my ballinge terugstuur sonder dat hy betaling of 'n geskenk daarvoor ontvang, sê die Here die Almagtige.  

Vers 9: “Wat maak jy?” – doen ons dit nie ook soms nie? Here, wat maak U nou? Here hoekom het U hierdie krimineel geskep? Here, hoekom laat U dit of dat toe? Hoekom gryp U nie onmiddellik in nie? 

Vers 11: “Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur?” – sjoe, ons is maar vrek nuuskierig oor die toekoms, of hoe? Dan gaan sien ons mense wat vir ons die toekoms kan voorspel …. Daar by die antie met die snaakse kopdoek in haar karavaantjie op die hoek. Tarotkaarte, teeblare lees, handpalm-lees, sterre voorspel, ens. Dis ‘n gruwel in God se oë, weet jy? Lyk my ons wil nou maar eenmaal weet wat God weet. 

Vers 11(b): “Durf julle aan My voorskryf oor My kinders en oor die werk van My hande?” Ja, jong, ons verstaan nou maar eenmaal nie waarmee God besig is nie. 

Job 39:34-38
Die Here het verder vir Job gesê: 
"Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!" 
Job het toe vir die Here gesê: 
"Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. 
Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly." 

Toe besef Job waar sy plek is, en hy blaas die aftog. En waar los dit ons vandag? 

  • Ek dink ons moet verstaan dat God die hele prentjie sien en weet waarmee Hy besig is.

  • God is ‘n soewereine God, en maak wat Hy die beste weet. Ons kan seker sê: Hy kan maak wat Hy wil, want Hy is God.

  • God se weë maak nie altyd vir ons sin nie. Hoe sal ons Sy bedoelinge verstaan, as ons nie eers die bedoelinge van ander MENSE verstaan nie.

  • God is ten volle in beheer, al dink ons nie so nie.

  • God is altyd betyds, al dink ons nie so nie. Sy tyd is nie ons tyd nie!

  • Hy is vir ons géén verduideliking verskuldig nie, al sukkel ons om Sy motiewe in ons lewe te posisioneer.

  • Die Here het altyd net die beste vir ons in gedagte, en Hy vorm ons deur vreemde situasies.

  • Hy is ons vriend, en meer werd as enige vriend op aarde. Ons kan met enige situasie na Hom  toe gaan, Hom enige iets vra en alles vertel. Maar ….met eerbied en respek.

  • Sy eer kan nooit deur ‘n mens in gedrang gebring word nie. Al dink ons so. En ons kan nie Sy eer verdedig en beskerm nie, al wil ons. Hy is God.

  • Sy troonkamer is ‘n heilige plek, maar ons het vrye en volle toegang. Ons kan op Sy skoot gaan klouter, en teen Hom vas nestel. Maar steeds buig ons die knie as ons daar ingaan. Ons doen dit met vreugde. Die ongelowige sal ook ‘n draai daar gaan maak met die oordeel, maar vir hulle sal dit met trane en tande kners gepaard gaan.

    Vrees, eerbied, ontsag, respek, liefde, koestering, warmte, eenheid, sagtheid ….. dis lekker by HOM. 

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)