Hoe
voel jy oor die toestand in ons land? Hoe voel jy oor misdaad en
bedrog wat tot op die hoogste vlak plaasvind? Al hierdie is dinge
waaroor ons nie lekker voel nie, en laat terug verlang na die (sg.)
ou dae. Tye wat ons ons hande na die Here toe uithou en uitroep:
"Here, help ons". Of wanneer ons vra: "Hoekom Here? Hoekom laat U al
hierdie goed toe? Hoeveel mense moet nog vermoor word voordat U
dinge laat draai?”
2 Kron 7 : 12 - 22 Daarna
verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed
verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My
offerandes gebring kan word. 13 As Ek die hemel gesluit hou sodat
daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land
kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14 en my volk oor
wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en
draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en
hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 15 Ek sal hierdie
plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed
hiervandaan. 16 En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my
Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal
geniet. 17 En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en
alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom,
18 sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid
ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te
regeer nie. 19 Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my
gebooie wat Ek julle gegee het, verontagsaam en julle gaan dien
ander gode en buig voor hulle, 20 sal Ek julle wegdryf uit my land
wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam
geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp
maak onder al die volke. 21 Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al
was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en
sê: "Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?" 22
En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die
God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle
het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle
gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.
'n Baie ernstige waarskuwing van God, maar ook 'n
wonderlike belofte. Vers 14 - "Dan sal Ek hulle sondes vergewe,
hulle land herstel". Wat gebeur op die oomblik in Suid-Afrika? Kan
ek vandag hierdie gedeelte, wat 'n paar duisend jaar gelede geskryf
is, vandag op ons van toepassing maak? As ons hierdie gedeelte
opbreek, dink ek nogal ons kan. Vers 12 - Die plek wat ek vir My
gekies het. Vers 13 – Ek sal die hemel toesluit en sprinkane die
land laat kaal vreet, pes onder die volk stuur. Vers 14 - die volk
roep na My (doen ons dit dalk?) Vers 19 - Julle draai weg en
verontagsaam My voorskrifte en gebooie, julle dien ander gode. Vers
21 - word gevra "Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en aan
dié tempel?"
Klink dit nie bekend nie? Is dit nie hoe dit met ons
gaan nie? Wat is die oplossing dan?
Wat moet nog gebeur voordat ons dit doen wat die Here
vra om dinge te laat omswaai? Vers 14 - "Toon berou en bid en vra
na My wil en draai terug van julle bose weë af, dan sal Ek luister
uit die hemel en julle sonde vergewe en julle land herstel". 'n
Belofte wat volg op 'n voorwaarde.
Kom ons wees eerlik met mekaar - en ek is die eerste
om te erken dat ek aan al wat sleg is, skuldig is. Hoe gaan dit
regtig op geestelike vlak met ons? Wat doen ons met wetgewing, wat
lynreg teen God se wil is? Wat gebeur in ons skole? As ons eerlik
is, is die prentjie maar bra donker. En ons kan so maklik vinger wys
na ander en sê: "Sien, dis wat julle aanvang". Maar waar is ons, en
wat is ons funksie?
Eseg 22 : 29 - 31 Die
burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en
mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen
reg bestaan nie. 30 Ek het iemand tussen hulle gesoek wat 'n muur
sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig
word nie, maar Ek het niemand gekry nie. 31 Daarom laat Ek my toorn
oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van my
gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien, sê die Here my God.
"Ek het iemand tussen hulle gesoek ….."
As dit nie ek en jy is nie, wie is dit dan? Wie sal hierdie muur bou
en vir die stad in die bres tree dat dit nie vernietig word nie. Dis
nogal vreemd dat die Here iemand soek. Hy kan mos sien wat aangaan,
watse verskil kan ons in elk geval maak? Die antwoord is eenvoudig.
Hy soek ons in SA se harte. Hy wil hê dat ons ons almal na Hom toe
moet bekeer. Hy soek ons as Sy volk, naby aan Sy hart. Ons moet die
muur bou, ons moet besig wees met Sy Koninkrykswerk.
Jy sien, ons maak die keuses. Dalk neem ek en jy nie
aan misdaad deel nie. Dalk wel - ons hou ook mos soms van
wetteloosheid, of hoe? Selfoon teen die oor, goetertjies gaps by die
werk, ens. Dan sê die Here, "Nee! Kies of jy warm of koud is."
Openb 2 : 4 - 5 Maar Ek het
dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.
5 Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en
doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle
nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek
af wegvat!
Moet asseblief nie vandag 'n verdoemende boodskap
hoor nie! Dis nie die doel van hierdie boodskap nie. Ek sê net, ek
sien myself in al hierdie dinge wat 'n gruwel is in die oë van die
Here.
Die Here vra vir my en jou "staan in die bres vir
hierdie volk". Hoe lyk ons land regtig? Is almal sleg, is almal
misdadigers, of moordenaars? Nee, verseker nie. Maar die wat is, het
die Here dringend nodig. Wie gaan die muur bou? Ek en jy. Wie moet
bid? Die ongereddes? Nee, ek en jy! Wie moet die evangelie van goeie
hoop gaan verkondig? Die dominee of pastoor? Nee, hy werk nie daar
waar ek en jy werk nie. Dis ons wat dit moet doen. Ek vra 'n
moedswillige vraag: Wat moet die Here nog doen om ons aandag te
trek? Ek sê nie Hy straf ons met hierdie dinge nie. Glad nie. Ek sê
wel, Hy wil hê ons moet ons bekeer, dan gaan Hy ons land herstel.
Wat sal ons doen - ek en jy? Hoe vêr sal ons gaan? Terwyl ons God se
stem hoor. Hoe vêr sal ons gaan? Kom ons neem vandag die besluit.
Jos 24 : 15 "Of, as julle
dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag vir wie
julle wil dien, die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant
die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon.
Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien."
My en jou keuse. Dan kan ons die Here vra vir hierdie
grondgebied.
1 Kron 4 : 10 "Jabes het die God van Israel
aangeroep met die woorde: "Stort U seën oor my uit, vergroot my
grondgebied, neem my onder U beskerming en weerhou onheil van my
sodat geen smart my tref nie." Dis wat Jabes gebid het. En toe
staan daar: "God het laat gebeur wat hy gevra het. So
eenvoudig soos dit. Dalk moet ons net eers 'n paar dinge prysgee.
Mammon, hebsug, wellus, eie ek, hoogmoed, oneerlikheid. Dan, bo
alles - ons moet ons bekeer. En as ons dit gedoen het, moet ons
ander gaan vertel.
Rom 10 : 14 - 15 Maar hoe
kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in
Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor
sonder iemand wat preek? 15 En hoe kan iemand preek as hy nie
gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: Hoe wonderlik klink die
voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.
Kom ons bid dat die Here ons grondgebied vir ons sal
teruggee, en vergroot.
|