Lewe.
Dit is altyd vir my ‘n vreemde konsep, moeilik om te verstaan en te
omskryf. As jy sê iemand lewe – wat beteken dit? Hier sit ek as ‘n
wese wat van biljoene der biljoene atome aanmekaar gesit is, en ek
lewe. Kry ek skielik ‘n hartaanval, is al die atome steeds daar,
maar “lewe” is weg. As ek vra: “lewe jy?” is die antwoord voor die
hand liggend. Daar is egter ‘n ander konteks waarin die woord “lewe”
gebruik kan word. As jy sê jy lewe, dan kan dit beteken jy is fisies
aan die lewe, maar léwe jy werklik?
Prediker 9:1-12
Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind: God regeer
oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen. Niemand
weet of daar vir hom liefde of haat wag nie. Een en dieselfde lot
tref almal: die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en
die onreine, die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos
dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar, soos dit gaan
met die een wat 'n eed aflê, so gaan dit met hom wat weier om 'n eed
af te lê. Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat
dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die
dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood. Solank
jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as
'n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die
dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet;
dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle
sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie. Eet dus
jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het
lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg
jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié
lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee
het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in
die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. Doen
met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die
doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis
of wysheid nie. Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie
die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die
oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die
verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed
gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken
selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n
net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang
as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval.
Hier lees ons van ‘n klomp dinge wat lewe kan
definieer: eet jou brood met vreugde, drink jou wyn (nee, nie te
veel nie!) met ‘n blye gemoed, dra wit klere (wees dus vrolik),
versorg jouself, geniet jou man of vrou. Hierdie stuk sê eintlik dat
die lewe te kort is om dit nie te geniet nie. Nou ja, net jyself sal
weet of jy lewe, en of jy regtig léwe terwyl jy lewe. My grafskrif
moet eendag wees: “Hy het nie gelewe om dood te gaan nie. Hy het
gelewe tot sy dood”.
Daar is een besliste manier om die lewe tot ‘n goor,
miserabele ding te reduseer, en dit is om die monsters te voer.
Watter monsters is daar wat ons so lekker voer elke dag…
1) Pessimisme, negatiwiteit, onvergenoegdheid:
Sjoe, hierdie monster vat elke dag groot happe aan ons
lewensvreugde. Hy eet jou soos ‘n mielie. Daar is darem in ons land
baie negatiewe mense, maar daar is ook tonne positiewe mense … en
hulle is almal in dieselfde omstandighede! Almal blootgestel aan
dieselfde elemente, almal se risiko’s is ewe groot; die verskil is
party voer daai monster van pessimisme. Niks is ooit vir hulle reg
nie, hulle vertel vir hulleself en almal om hulle hoe sleg alles is.
2) Omstandighede: Mense blameer te maklik hulle
omstandighede vir hulle optrede. Dis ‘n slegte monster om te voer.
Pred 9:11 Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die
vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog
wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges
wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Sien jy, dit is nie
noodwendig die sterkstes of vinnigstes of slimstes wat dit maak nie.
Sommige mense het alles in hulle guns, maar hulle lewe is ‘n gemors,
ander kere kry mens hierdie doodgewone ou wat homself so positief
programmeer dat hy bo sy omstandighede uitstyg.
3) Gebrek aan toekomsvisie: Mense vertel mekaar
heeldag hoe toekomsloos ons land is, of sy werkplek. Is dit regtig
waar? Wel ek waarborg jou die ou wat ‘n toekomsvisie het sal altyd
‘n wenner wees. Mense wat nie die einddoel visualiseer nie, is op
pad na nêrens. Verlede jaar op die 9de van die 9de maand 2009 het
ons gepraat oor “plant ‘n boom”, en ek het vir my ‘n Koorsboom gaan
plant, as teken dat ek hoop het vir ‘n toekoms … ek gaan die boom
sien grootword. Die monster van “toekomsloosheid” sal altyd die pad
vorentoe met swart verf hale toeverf – moenie dit in jou lewe
toelaat nie. Onthou jy die gedig wat sê: voor in die wapad brand ‘n
lig? Daar ís lig - vestig jou hoop daarop, en laat die
toekomsloosheid-monster wegkwyn.
4) Swak selfbeeld: Dit is
so dat baie van ons sukkel met ‘n swak selfbeeld en dat ons daardie
aaklige monster in ons lewe voer. Jy vertel voortdurend vir jouself
jy is nie goed genoeg nie. Dit kan nie waar wees nie, want die Here
het jou gemaak na Sy beeld, Hy het jou goed gemaak, Hy het jou ‘n
wenner gemaak en jou met eer en heerlikheid gekroon (soos wat Ps 8
sê). Moenie asseblief nie verder vir hierdie monster kos gee nie.
Wat moet ons maak met die monsters? Moenie hulle voer
nie, dan sal hulle kwyn en self vrek. Hier is die positiewe raad
weer uit Pred 9:4-10:
Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond
wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet hulle
sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks
meer nie, hulle is vergeet; dit is klaar met hulle liefde, hulle
haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in
hierdie wêreld gebeur nie. Eet dus jou brood met vreugde, drink jou
wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.
Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met
die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God
jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie.
Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg
in hierdie wêreld. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te
doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of
insig of kennis of wysheid nie.
In elektronika kry mens blykbaar sulke microchips
waarop jy inligting kan oplaai, en dit bepaal dan die stelsel waarin
dit ingebou word se gedrag. So, brand vir jou ‘n nuwe “chip”,
herprogrammeer jouself.
Hou op om die monsters te voer wat jou ware lewe
bedreig, kyk na die positiewe dinge, doen die goeie dinge wat jou
hand vind om te doen, geniet wat jy doen, maak jouself mooi, eet en
drink en kuier met jou vriende, spandeer tyd met mense wat positief
is, en jy sal lewe. Lewe met ‘n uitroepteken! ‘n Hond wat lewe is
beter as ‘n leeu wat dood is. Alles word bepaal deur tyd en
geleentheid – sien die geleenthede raak wat oor jou pad kom, wag vir
die regte tyd om jou kanse te benut. Moenie die monsters voer nie,
voer die klein maar belangrike dinge wat die lewe lekker maak.
Geniet die lewe.
|