Ps
23
’n PSALM van Dawid. Die HERE is my herder;
niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na
waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in
die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in ’n
dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met
my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my
aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my
beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my
lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
“My beker loop oor” ... pragtige woorde van hierdie
kosbare Psalm waarmee ons almal grootgeword het. My beker loop oor,
Dawid se beker loop oor. Ek hoop regtig jy kan vandag sê jou beker
loop oor. As ek jou in die middel van die nag sou wakker skud en vra:
Hoe gaan dit daar met jou beker? Wat sou jy sê? Sou jy sê die beker
is leeg... die beker is maar so halfpad... die beker is so
ampertjies vol... of die beker loop oor. Het jy al gesien hoe die
Bulle tekere gaan as hulle die Curriebeker wen? Almal juig, hol rond,
skreeu, spring op en af, spring op mekaar se skouers – want die
beker is by die huis. Vir hulle loop hulle beker oop. Beker van
geluk, vreugde en blydskap.
Hoe lyk jou beker? Wel, in baie opsigte gaan dit oor
hoe jy na jou beker kyk. As hy so halfpad is, kan jy sê hy is of
halfleeg, halfvol. Dit hang van jou persoonlikheid af, en soms van
jou omstandighede, of jou gemoedstoestand.
'n Uiters geseënde mens, is iemand wat leef asof sy
beker oorloop, terwyl die beker maar half leërig is. Ek kry iemand
jammer wat nooit die oorvloei van sy beker kan raaksien nie. Eintlik
verdien so iemand nie 'n beker nie.
Het jy 'n beker? Weet jy wat beteken hierdie vraag?
Mense probeer met twee hande so bietjie van God se seën vasvat,
intussen het hulle kruike nodig.
2 Kon 4:1-7
'n Vrou van 'n profeet het haar nood by
Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien
het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle
sy slawe te maak.” Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir
my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek het niks in die
huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.” Hy het toe gesê: “Gaan leen
nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie.
Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns
toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol
word, moet jy hom wegpak.” Sy is van hom af weg. Sy het die deur
agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar
toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. Toe die kruike vol was, sê
sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog 'n kruik.” Maar hy het
gesê: “Daar is nie meer 'n kruik oor nie.” Toe het daar nie meer
olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom
en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal
jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”
Treffende stukkie hierdie. Hoor die vraag van Elisa:
wat het jy in jou huis? “Ek het niks nie, behalwe 'n kannetjie
olie”. En dan kom die wonderwerk waar die Here al die kanne wat sy
in die hande kan kry, laat oorloop. Nou vra ek jou weer: het jy 'n
beker? En as jy nie het nie, kry een of sommer baie. Wat het jy in
jou huis? So 'n ou klein kannetjie olie? Wat verteenwoordig daardie
kannetjie olie in jou lewe? Gesondheid dalk? Genoeg kos vir 'n dag
of twee? 'n Klein beknopte blyplek? 'n Goeie vriend of twee? Iemand
wat jou ondersteun? 'n Werk, al is dit vir 'n klein salaris? 'n
Klein karretjie? Kinders, in wie jy vreugde vind? Of dalk so 'n
bietjie geloofsekerheid? Vrede in God? Gebedsverhoring? Vrede – wat
alle verstand te bowe gaan?
As jy vir my sê jy het nie eers 'n klein bietjie olie
in jou kannetjie nie, sê ek vir jou jy moet anders na jou beker kyk.
Ek dink die meeste mense se kannetjies is duisend keer groter, hulle
bekers baie voller as wat hulle dink of besef. Soms moet ons net
bietjie met 'n positiewe bril na ons beker kyk. Die vraag is nie
noodwendig hoe groot jou beker is nie, die vraag is of hy oorloop
ongeag van sy grootte. En dit behoort vir jou vreugde te gee.
Toe die weduwee die kanne gaan leen, het sy haar seën
beperk tot die aantal kruike wat sy in die hande kon kry. Eers toe
die kruike vol was (en oorloop), het die olie opgehou loop. Ek sê
vir jou ek en jy doen dieselfde. Hoe meer jy gaan kyk wat die Here
doen, hoe voller gaan jou kruike word. En nee, ek praat nie van geld
nie. Party mense wil nie sê “my beker loop oor” nie, hulle wil sê my
spaarvarkie loop oor, want dis al waaraan ons partykeer die Here se
seën meet. Ons kyk graag na ander se bekers en sien net hoe die seën
so spliesh splash oorstort, en in tussentyd sien ons dalk nie die
hele prentjie nie. Intussen kyk die ander persoon dalk groot-oog na
jou beker en dink: as my beker maar net so kan lyk. Ons kyk te
maklik ons vol bekers mis, want ons meet die volume aan die
verkeerde goed; en dan laat ons toe dat dit ons lewens definieer.
Het jy al gedink dat negatiewe goed in jou lewe 'n
vol beker kan verteenwoordig? Besef jy dat dinge wat nou sleg lyk 'n
ongelooflike goeie nadraai kan hê? Die inhoud (en volume) in jou
beker word deur God bepaal. Dit wat ons as bietjie leërig sien, kan
in die Here se oë propvol beteken. Hoe sien jy? Wat sien jy?
My beker loop oor, wanneer:
1. Ek genoeg lewensmiddele het vir een dag. In die
Onse Vader-gebed bid ons “gee my vandag my daaglikse brood”, en dit
beteken dat jy net genoeg moet hê vir een dag. As jy dus meer as dit
het, stort jou beker soos 'n waterval oor sy kante.
2. Ek relatiewe goeie gesondheid geniet. Daar staan
geskrywe: waar daar lewe is, is daar hoop. As jy dus, soos ek,
gesond is, stort daai beker oor sy kante.
3. Ek goeie verhoudinge met mense het; met familie,
vriende, werksmense, huweliksmaat, want dan beteken dit dat jy
ondersteuning het in moeilike tye. Spr 17:17:
Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken.
4. Ek die genade van geloof het, want dit is 'n gawe
uit die hand van God. As jy in God glo, en in Jesus se
versoeningswerk, dan maak dit vir jou die poorte van die hemel
summier wyd oop.
5. God homself aan my openbaar. Hoe sou jy voel as
Madiba jou vandag bel? Of Barak Obama? Of Bill Gates, Brad Pitt of
Charlize Theron? Besef jy dat hulle ou oproepie NIKS is teen Hom wat
alles in hierdie heelal geskep het nie. Hy wat elkeen van hierdie
hooggeplaastes met Sy eie hande gevorm het! Wow, die grootste Een in
die hele heelal, roep jou vandag. Openbaring 3:20: Kyk Ek staan by
die deur en klop ...
6. Ek besef ek spring die kruis vry, want Jesus het
dit klaar gedoen.
Vriend, jou beker loop oor ... glo dit, en leef so!
Ps 23 uit Die Boodskap:
Die Here sorg vir my soos 'n herder wat sy skape oppas; ek het niks
meer nodig nie.
Hy gee vir my die heel beste van alles: kos,
veiligheid en vrede.
Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie.
Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer
anders sien.
Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe.
Soos 'n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens Sy
wil te lewe.
Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is.
Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek
nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my
onderkry nie, want U is altyd by my.
Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my
veilig voel.
Soos 'n gasheer sit U net die beste van die lewe aan
my voor; hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk.
U behandel my soos 'n spesiale gas; ek geniet alles
in oorvloed.
U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek
lewe; ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.
|