MY HUIS MOET VOL WORD

Openbaring 21:9-27 
Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. "Kom," het hy gesê, "ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam." Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder opaal. Die stad het 'n groot hoë muur met twaalf poorte. By die poorte is daar twaalf engele, en op die poorte is daar name geskrywe, dié van die twaalf stamme van die volk Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié van die twaalf apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer. Hy het ook die muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die engel het die mate van mense gebruik. Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk. Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos 'n spieël. 'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring. Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.

WOW! Die kasteel op die koppie. Die paleis in die dorp. Die grootste plek op skuldbult. Dit alles is sommer niks! Hoe klink HIERDIE plek vir jou? Die beste van die beste boumateriaal, die duurste konstruksie denkbaar, die mooiste, grootste, mees indrukwekkende, weelderigste, mees asemrowende... Man, geen mens op die hele aarde kan hierdie plek bekostig nie. Geen Gates, Jackson, olie-sheik, filmster, niemand, maar niemand kan hierdie plek bekostig nie. Daar bestaan op die hele aarde nie 'n struktuur wat hierdie plek kan ewenaar nie. Neverland, Graceland, Disneyland is maar 'n vulletjie teen hierdie plek. Kan jy dink hoe 'n eiendomsagent dit sou bemark? Duisende slaapkamers, duisende woonkamers, die mees weelderige boumateriaal denkbaar, ja... selfs strate van goud! En dan op die koop toe 100% veilig. Wat sou dit kos om DAAR te woon? 

Nou ja, wil jy daar woon? Vir ewig en ewig? Jip, jy kan, en boonop verniet. Heeltemal verniet. Glo jy dit? 

Kom ek vra jou: Sê nou maar iemand vra jou of jy soontoe wil trek, gratis, om vir altyd daar te bly. Daar is net een voorwaarde, jy moet sê jy wil. Dis al. Jou trek word gery, al die hervestigingskostes word gedek, jy moet NET WIL. Jy deel in al die voordele, jy het onbeperkte toegang tot alles en jy hoef NIKS te doen nie, behalwe om dit te geniet. Boonop kom die uitnodiging van die hoogste vlak denkbaar, met die nodige dokumentasie wat bewys dat hierdie Amptenaar volmag het om jou te nooi. Nou sê jy: Ag nee, jong, nie nou nie, ek het 'n nuwe fiets gekoop en ek wil eerder  bietjie met hom gaan ry. Die Amptenaar vra: hemel mens, weet jy wat jy gaan mis? Weet jy dat jy net een kans het? Besef jy hoe bevoorreg jy is? Dan sê jy: ja, maar wat van my nuwe fiets, ek wil so graag eerder met hom gaan ry. En jy moet sien, hy is rooi met 'n klokkie, en 'n “carrier” vir my boeksak.

Sjoe, sou jy saamstem dat dit stapelgek moet wees? 

Luk 14:15-24
Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: "Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem." Toe sê Jesus vir hom: "Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: 'Kom, die maaltyd staan klaar.' Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: 'Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.' 'n Ander een sê: 'Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my asseblief.' Nog 'n ander een sê: 'Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.'  "Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: 'Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.' Later kom die slaaf sê: 'Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.' Toe sê die man vir die slaaf: 'Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word. Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.' "

Is dit nie presies wat hierdie mense doen nie? Bid jou dit aan, 'n os vir 'n paleis. 'n Stukkie grond vir 'n Koningswoning. Uitgenooi, deur die Hoofamptenaar Homself, uitgekies, uitverkies, afgesonder, die witbroodjie wat alles aangebied word. Die hoof erfgenaam. Dan sê hy, nee, ek wil liewer bietjie met my nuwe osse gaan ploeg. Verskriklik wat die mens vir sy saligheid sal verruil. 

“Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat MY HUIS KAN VOL WORD”. Sien jy dat God elke vierkante millimeter van Sy huis gevul wil hê met sy kinders? Gaan dring by hulle aan om te kom... verniet! Daar staan nêrens in die gelykenis dat die mense iets moet betaal nie. Free lodging, forever. En toe dié by wie die Here aangedring het om te kom, nie wou nie, sê Hy toe: “Los dit”. Los hulle. Openbaring 3:20 sê:- “Kyk, ek staan by die deur en ek klop…”- 'n Sagte, kalm, “gentle” stem wat smeek en uitnooi. KOM! 

Onthou jy hoe ons as kinders gesê het as ons iemand iets smeek en die persoon wil nie? Dan het ons gesê: “Stick dit”. Toe se die Here: “Gaan haal dan die kreupeles, armes en blindes om My huis vol te maak”. Ek sal vir die kreupeles weer 'n huppel in die stap gee, die blindes weer oprig om te sien, en die armes weelde wat hulle nie sal glo nie. En die wat dit nie wil hê nie, kies outomaties die krot van die hel. 

Gaan dring by die mense aan om in te kom, My huis moet vol word. Jy sien, daar is baie plek, genoeg vir almal. Dis net verstommend hoe roekeloos mense omgaan met die plek waar hulle hulle Saligheid gaan deurbring. Almal, maar almal, gaan die ewige lewe he, maar nie op dieselfde plek nie. Party sê, nee man, onthou ek het osse gekoop, 'n ander ou het die grondjie en nog een 'n nuwe vrou. Maar, dan mis mens die beste Bruidegom denkbaar, Jesus Christus. 

Matt 7:14: “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min." 

Volgens hierdie teks gaan die minderheid mense in die hemel eindig, en eindig mense teen 'n enorme tempo in die verderf. Die vraag is: Maak dit vir jou saak? En nog meer, maak dit vir jou genoeg saak om iets daaraan te doen? Vandag sê die Here vir jou en my, gaan sleep die mense nader, dring by hulle aan, moenie nee vir 'n antwoord vat nie, hou aan, smeek, sleep, want my huis moet vol word. Nog, nog, meer, jou broer, jou swaer, buurman, jou pa, jou kind, kollega, almal. 

Wat is dit wat mense weghou uit God se huis? Wat is die osse, stukkies grond, vrou-vat wat vir mense belangriker is? Is dit dalk poppie by die werk, of liefde vir die bottel, dalk Mammon? Of dalk onvergewensgesindheid? Jesus het mos gesê dat jy nie vergewe word as jy nie kan vergewe nie. 

Maak reg, kies, die trek lorrie is dalk al op pad. Gaan jy of bly jy? Os of paleis? Kies man, kies. Gaan smeek daai ander, klop die kollega op die skouer en sleep hom saam. Kom jy of bly jy? 

Die Koning se huis moet vol word!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)