NALATENSKAP


Almal op aarde, elke mens, ook jy, laat iets na in hierdie lewe. Of liewer, ná hierdie lewe. Dalk sal jy baie nalaat op materiële gebied, miskien min, maar hierdie dinge het 'n vervaldatum want dit gaan opraak. Hulle sê mos erfgeld is swerfgeld. 

Jy besit egter iets wat niks daarmee te doen het nie, wat ander aan jou nagelaat het, wat van geslag tot geslag in die familie afkom en sal voortgaan in die toekoms in na jou nageslag toe. Dit is die invloed wat jou familie se gewoontes, hulle optrede en hulle karakter op jou gehad het, of dit nou goed was en of dit nou sleg was. Dit het jou gewoontes en jou karakter gevorm en in 'n mate van jou gemaak wie en wat jy is. 

Sommige van hierdie invloede kon dalk diepgewortelde letsels op jou wese gelaat het, ander kan jy dalk kies om te laat staan en agter jou sit. Maar daar is ook 'n wonderlike positiewe kant. Dalk kom jou sprankelende geaardheid van jou ouma af, of jou eerlikheid en inbors van jou pa af. Die punt is, die negatiewe dinge dra net so maklik oor na die volgende geslag as die positiewe goed. Die vrug van hierdie saad sal dus in jou kinders en kleinkinders wortel skiet. Soos ‘n aflosstokkie word hierdie dinge oorgegee van geslag tot geslag. Goeie goed en slegte goed. 

2 Tim 1:3-11
Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met 'n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my 'n groot vreugde wees. Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.  

Timoteus se ouma Lois het hierdie diepgewortelde geloof oorgedra aan sy ma, Eunice wat dit op haar beurt oorgedra het aan Timoteus. En Paulus por hom aan om dit oor te dra na sy volgende geslag toe. Paulus sê hy moet hierdie genadegawe wat hy van God ontvang het, soos 'n vuur aanblaas. 

Nou kom die vraag: wat blaas jy aan, wat dra jy oor van geslag tot geslag? En as jy sleg ontvang het, kan jy dit in goed verander en DIT aanblaas? Dit is in ‘n groot mate jou keuse. Almal los iets agter en jy gaan ook, of jy wil of nie en dit sal 'n invloed hê, positief of negatief. 

Vincent Willem van Gogh is sekerlik een van die mees bekende skilders wat ooit geleef het. Van 1853 tot 1890. Hy was 'n Hollander en het 121 jaar gelede gesterf. Hy was brandarm en het net een skildery in sy lewe verkoop. Hy het ernstig gely aan geestesversteurings, was in en uit inrigtings. Hy het 'n stuk van sy oor af gesny en homself in die bors geskiet. Twee dae later het hy gesterf weens infeksie van die skietwond. Hy was 37 jaar oud en was 'n tipiese “nut case”.  Hy het nooit geweet dat hy ander mense multi-miljoenêrs sou maak nie, of dat hy die hele kunswêreld onherroeplik sou verander nie. 

Miskien is ons invloed nie Van-Gogh styl nie, maar daar sál iets wees.  Selfs iets belangriker. Vandag, 2000 jaar nadat Timoteus geleef het, is dit bekend dat sy ma en ouma gelowige mense was en hy ook. Daar sal verseker nasate van Timoteus leef hier op aarde, selfs al weet hulle dit nie. Dalk vloei geloofsbloed reg deur die eeue steeds in hierdie mense se are. Terloops, van Gogh was 'n diep gelowige mens en het ook lank as leke prediker opgetree. 

Ongelukkig was daar 'n ou met die naam Hitler en hy het ook iets nagelaat. Sy nalatenskap was egter gekenmerk deur massamoord, wreedheid, mag-malheid en uiteindelik selfmoord. As daar iets goeds in Hitler gesteek het, word dit totaal verdoesel deur die res van sy nalatenskap. Ek het nog nooit die getuienis gehoor dat hy 'n wedergebore Christen was wat die Here gedien het nie. 

Wat gaan jy nalaat? Waarvoor sal jy onthou word en watse invloed sal jy hê op jou  nageslag? 

Dink bietjie oor hierdie beeld rondom nalatenskap:
Hoeveel pitte is in 'n appel? Weet jy? So tussen vier en agt. Soms bietjie meer. Maar, hoeveel appels is in 'n pit? Plant 'n pit en wag totdat die appelboom opkom. Hierdie boom sal duisende appels dra wat elk duisende pitte in het. Hierdie pitte kan duisende der duisende bome tot gevolg hê, wat miljoene appels dra! Alles uit een pit. Hoeveel appels is in 'n pit? 

Net so sal my en jou lewe ook appels dra, duisende der duisende! Gaan dit goed of sleg wees?

Tweeduisend jaar gelede kom Jesus as 'n nalatenskap van God die Vader. Jesus raak soveel mense aan dat dit die appel-analogie soos 'n speletjie laat lyk en dit kry nie klaar nie. Mense verander elke liewe dag as gevolg van hierdie nalatenskap, deur Iemand wat hulle nie kan sien nie, nie aan kan vat nie en waarvan daar nie eers 'n foto bestaan nie. DIT is 'n nalatenskap! Blywend vir ewig en ewig. As Jesus nie regtig geleef het nie is ons darem maar 'n klomp gekke en dwase!

Jy sien, dis nie 'n foto van Hom, of  'n stukkie gereedskap wat Hy besit het wat mense verander nie, dis iets anders. Daardie iets anders is só kragtig dat dit al vir 2000 jaar hou en net van krag tot krag gaan! “Dit” sal nooit ophou nie. 

Joh 14:15-20
“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.  

Toe Jesus hierdie aarde verlaat met Sy hemelvaart, het Hy die Heilige Gees gegee as nalatenskap, vir jou en vir my. Sodat ons nie alleen agtergebly het nie. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie...“ Dis 'n belofte. En 'n wonderlike nalatenskap! 

Net so sal ek en jy ook iets nalaat. Wat sal dit wees? Dalk 'n Hitler-nalatenskap? Of dalk 'n Lois en Eunice nalatenskap?  Die probleem is, ons kan nie soos Hitler leef en soos Eunice glo nie. Daai twee werk nie lekker saam nie. Dis of die een of die ander.  

Ek het meer van my pa geleer na sy dood as toe hy geleef het, want ek sien my pa in myself en ook reeds in my kinders. My pa het nie 'n goeie nalatenskap ontvang nie, glad nie! Daar was maar baie slegte elemente, maar goddank hy het dit nie aangegee nie. Hy het besluit dat sy nalatenskap nie die een sal wees wat hy ontvang het nie. Hy het goeie keuses gemaak, verantwoordelikheid vir sy lewe geneem, die slegte gewoontes van sy familie verbreek en 'n goeie nalatenskap agtergelaat. As ek vandag vrot keuses sou maak is dit nie my pa se skuld nie, hoewel hy nogal sy voorsate sou kon blameer as hy foute gemaak het. My nalatenskap kan egter maklik my nageslag beïnvloed. 

Ons nalatenskap begin in ons huise, ons gedagtes, ons optredes, by ons eie kinders. Meneer / mevrou, drink jy te veel gaan jou kinders dit dalk ook doen. Loop jy rond buite jou huwelik gaan jou kinders dit dalk net ook doen. Pa-slaan-vir-ma (of anders-om) gaan jou kinders dit dalk ook doen.

Maar ek sê jou nou, hou jou lewe skoon, loop die reguit pad, dien die Here en leef in 'n verhouding met Hom, dan sal jou kinders ook miskien eendag 'n Lois en Eunice nalatenskap voort blaas. 'n Ongekende voorsprong! 

As ons kinders en kleinkinders ons geloof kan laat voortleef, maak dit nie saak as jy nie 'n sent nalaat nie. Dit gaan in elk geval opraak, maar liefde, geloof en hoop het nie 'n raklewe of vervaldatum nie. Dit mag dalk net hou tot in die duisendste geslag. Klink dit vir jou bekend? Mag ons kleinkinders en agterkleinkinders eendag sê: “My oupagrootjie was 'n gelowige man, en ons pluk die vrugte daarvan”.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)