As
jy dink aan Jesus se karakter, hoe sou jy dit opsom? Dink net, Hy
gaan meng met die melaatses, die prostitute, sondaars, Hy was Sy
dissipels se voete. Wat sou een van die mees opvallende
karaktertrekke wees waarmee jy vir Jesus sou beskryf? Wel, ek dink
dit sou nederigheid wees. Op geen enkele plek in die Bybel, sou
Jesus deur enige mens of party, as hoogmoedig beskryf kon word nie.
En, Hy was baie uitgesproke daaroor. In Gal 5 : 22 sien ons dat dit
onder andere die vrug van die Gees is. Liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en
selfbeheersing. Hierdie is al die kwaliteite wat Jesus getoon
het, met nederigheid wat baie sterk gestaan het in Sy optrede.
Die teenoorgestelde is eie aan die karakter van
Satan: In Jes 14 lees ons van die lot van die satan. Jes 14 : 11
"Jy het met jou hoogmoed, met die klank van
jou harpmusiek en al in die doderyk beland. Jy lê tussen die maaiers,
jy is oortrek van die wurms. Jy wat die helder môrester was, is in
die grond in verpletter."
En dis die lot van die duiwel. As gevolg van sy
hoogmoed het hy probeer om hom bo God te stel. Hy het probeer om hom
tot bokant die Here te verhef, en het tot 'n liederlike val gekom.
Satan se grootste en bekendste karaktertrek, is sy eie ek. Hoogmoed!
Hoe lyk hoogmoed vs. nederigheid?
Luk 18 : 9 - 14 Met die oog
op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op
ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10 Twee
mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n
Fariseër en die ander een 'n tollenaar. 11 Die Fariseër het gaan
staan en by homself so gebid: "O God, ek dank U dat ek nie soos
ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos
hierdie tollenaar nie. 12 Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n
tiende van my hele inkomste." 13 Maar die tollenaar het daar ver bly
staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie Hy het bedroef op sy
bors geslaan en gesê: "O God, wees my, sondaar, genadig." 14 Ek sê
vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe
gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig
is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.
Sjoe, nogal sterk woorde. Elke een wat hoogmoedig is
…..
In die Bybel word baie gesê oor hoogmoed en
nederigheid, maar kom ons kyk hoe lyk dit hier rondom ons:
1. 'n Vinnige toets vir hoogmoed hoor jy by iemand
wat BAIE graag en baie gereeld die woord "ek" gebruik. Ek dit, ek
dat, been there, done that, het vir sus of so "uitgehelp", jy weet,
was dit nie vir MY nie …..
2. Om met ander se kalwers te ploeg en dan die eer vir jouself te
neem. Ken jy sulkes? My ma het jare terug vertel dat 'n sekere dame
gereeld ingebel het na my ma-hulle se werk toe. Sy sou sê dat sy is
Mev. Lt. Genl. sus en so. Jy sien, dit het vir haar baie oulik
geklink, maar almal het vir haar gelag oor haar aanstellerigheid. My
vrou het altyd gespot en gesê sy is Mevrou Tegnikus Botha. Nou ja,
antie se range het ook seker geklim saam met manlief s’n, maar ek
twyfel of sy destyds eers Mev. Kandidaat Offisier sus en so was.
Inderdaad 'n baie goor karaktertrek. Ek het gewerk saam met Dr Wally
Grant. Hy het baie tyd spandeer om met die skoonmakers te gesels,
stories uit te ruil en oor hulle families uit te vra. 'n Pragtige
mens en vir my ’n sprekende voorbeeld van nederigheid. Mev. Lt.
Genl. sou seker nooit by 'n bedelaar stop nie.
Nederigheid is wonderlik. Engelse woorde daarvoor is
"humbleness, modesty, humility, submission". Om jouself onder ander
mense in te skuif, minder te wees as ander, om die ander wang te
draai, dit is nederigheid.
Matt 5 : 38 - 42 Julle het
gehoor dat daar gesê is: "'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand."
39 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige
mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook
die ander wang na hom toe. 40 As iemand jou hof toe wil vat om jou
onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41 As iemand jou dwing
om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.
42 Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil
leen, nie afwys nie
Dis nogal moeilik, of hoe? 'n Baie moeilike toets vir
nederigheid is om daardie ander wang te draai.
Hoe tree iemand op wat nederig is? So iemand vat
nooit krediet vir homself wat iemand anders toekom nie. Jy sal ook
nie sommer aggressie, of woede by so iemand sien nie. Toegeeflikheid
, bedaardheid, kalmte, is woorde wat nogal by mens opkom as jy aan
’n nederige persoon dink. Dis iemand wat die gawes wat God hom gegee
het uitleef en gebruik, maar die linkerhand weet nie wat die
regterhand doen nie. ’n Nederige persoon laat ook iemand anders toe
om hulle gawes voluit te gebruik, sonder om jaloers te wees of
bedreig te voel. Dis iemand wat maklik vir ander erkenning gee vir
goeie prestasie, wat graag komplimente uitdeel en wat self nie
maklik oor sy eie prestasies praat nie.
Johannes die doper was ook ’n voorbeeld van
nederigheid. In Joh 1 : 27 lees ons "Dit is Hy wat na my kom, wie
se skoene ek nie werd is om los te maak nie." Johannes was 'n
prominente figuur, maar hy het net die pad vir Jesus kom reguit
maak. Toe staan hy terug, sodat Jesus se werk kon begin.
Jy sien, hoogmoed maak dat ons in God se pad staan,
want dit blok die liefde van Jesus uit. Dan maak ons 'n houtdeur toe
tussen Jesus en ander wie Hy deur ons wil bereik. Nederigheid is
soos 'n glasdeur wat oopstaan, sodat ons verlengstukke van Jesus se
hande kan wees.
Hier is so ’n paar toetse vir hoogmoed:
· Wanneer ek graag seker maak dat almal van my
prestasies weet.
· As ek nie tyd het (of iets oor het) vir armes nie.
· As ek die arme kelner in die grond in vertrap in die restaurant,
want, hoogmoed gee vir ons "power", mag, wat ons sukkel om te
gebruik soos ons moet.
· As ons mense voor ander verkleineer, sleg maak, skinder,
swartsmeer en dan is dit gewoonlik boon-op leuens.
· As ek myself konstant met ander vergelyk en dink my huis, kar,
kinders, ens. is altyd beter as ander s’n.
· As ek dit nie kan hanteer om te verloor nie.
· As ek dit nie kan hanteer om goeters te verloor nie.
· As ek selfgeldend, vergeldend, onvergewensgesind is.
Nederigheid, daarenteen is:
· Om ander op te hef.
· Die eie ek te begrawe
· Iets oor het vir ander, veral tyd.
· Eerder regmaak as veg.
· Mense vryspreek wat jou seergemaak het.
· Ander 'n plekkie in die son gun.
· Liefde betoon, selfs vir mense wat jy nie ken nie.
Onthou net, nederigheid is nie papbroekigheid nie.
Dis nie hoe Jesus was nie. Nie met die Fariseërs of niemand anders
nie. Hy het gestaan vir wat reg is.
So moet ons ook wees, sonder om mense te vertrap.
1 Pet 5 : 5 - 6 En julle wat
jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet
trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want God
weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 6
Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God,
sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.
|