NÉT BROOD EN WATER


Het jy al gehoor van die beste dieet ooit? Dis die mees voedsame, dis ál wat jy nodig het . Dis baie basies , maar 100% vullend. Dit laat jou groei en maak jou sterk. EN …. Dis heeltemal beskikbaar. Ja, dis brood en water. Nét brood en water. En nee, ek is nie besig om jou ontbyt te bederf nie, ek praat van 'n geestelike dieet . Geestelike brood en water. Die mens is nou maar eenmaal honger en dors vir iets geestelik, 'n dieper honger en 'n dieper dors. Dit is ons wese. Elke mens soek na iets hoër as hyself, iets sterker, iets wyser. Die meeste noem dit God, of 'n god. Dis hoe die mens geskep is - soekende wesens. (Hand 17:27 "God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind")

Die Bybel gee die volmaakte antwoord van hoe hierdie honger gestil kan word, en hoe hierdie dors geles kan word. Weet jy, die mens is baie liggelowig en sal agter enige "godsdiens" aanhardloop wat opgedis word; meeste mense is bereid om enige geestelike kos te eet wat voorgesit word. Ja, selfs hoogs  geleerde mense is bereid om enige iets te eet. Party sal selfs omkom van geestelike honger, maar hulle sal nie die eenvoudige dieet wat die Bybel gee aanvaar nie. Want jy sien, die antwoord in die Bybel klink te basies, dit klink nie of hierdie dieet van brood en water kan versadig nie. Dan soek hulle verder, en verder … sonder om versadig te word.

Joh 6:25-35
25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: "Rabbi, wanneer het U hierheen gekom?"
26 Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.
27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen."
28 Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?"
29 En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het."
30 Hulle sê toe vir Hom: "Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?
31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.
32 Jesus het hulle geantwoord: "Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.
33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee."
34 Hulle sê toe vir Hom: "Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood."
35 Maar Jesus sê vir hulle: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie".

Sien jy hoe soek dié mense. En dit terwyl Jesus vóór hulle staan? Hulle vra vir Hom: watter wonderteken gaan U nou vandag weer vir ons doen sodat ons kan glo? Doen 'n wonderteken Here, dán sal ons glo. En vandag is dit nog net so. Mense soek na wondertekens, maar Jesus sê: "Eet die brood"

Joh 6:47-58
47 "Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.
48 Ek is die brood wat lewe gee.
49 Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.
50 Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.
51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe."
52 Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: "Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?"
53 Maar Jesus sê vir hulle: "Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.
54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
55 My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.
56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.
57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.
58 Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe."

Volmaakte, vullende, ewigdurende voedsel. Kan jy sien dat Jesus ál is wat nodig is? Niks meer nie. Geen godsdienstige gebruike nie, geen geestelike fieterjasies of foefies nie. Net Jesus. Nie "Jesus plus.." nie. Niks anders as Sy liggaam nie. Vers 56: "Wie My liggaam eet, en my bloed drink, bly in My en Ek in hom"

Water … het jy al water gedrink in 'n bergstroompie? Water wat eintlik soet proe. Hoe verfrissend is dit nie!

Joh 4:6-14
6 Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.
7 Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: "Gee My 'n bietjie water om te drink."
8 Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.
9 Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: "Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?" Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.
10 Jesus het haar geantwoord: "As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: 'Gee My 'n bietjie water om te drink,' sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het."
11 Die vrou sê toe vir Hom: "Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?
12 Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?"
13 Maar Jesus antwoord haar: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;
14 maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee."

Hierdie is 'n bekende verhaal. Dit is só diep, daar is só baie lesse daarin, dat 'n mens seker 'n hele dag lank daaroor sal kan praat. "Maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie". In alle ewigheid! Onthou jy Lasarus en die ryk man? Die ryk man is in die verderf (die hel) en smag na 'n druppel water, omdat hy ondraaglik swaarkry. Maar hy het niks. Jesus sê: "In alle ewigheid". Nie net hier op aarde sal jy nie weer dors kry nie, nee, inteendeel, vir ewig en ewig en ewig …

Luister verder wat gebeur in hierdie gedeelte. Die Samaritane was die uitgeworpenes. As jy iets van rassisme wil leer, moet jy gaan kyk wat tussen die Jode en die Samaritane gebeur het. Die Jode het seker nie gedink dat die Messias vir die Samaritane gekom het nie. Jesus bied egter hierdie water wat ewigdurende dors les ook vir die Samaritane aan. Vriend, moet groot asseblief nie dink dat daar enige iemand is wat nie gered kan word nie. Jesus bied hierdie lewende water vir álmal aan. Enige een wat dit wil hê, kan dit kry. Jy ook! Gratis!

Jesus Christus is waarlik die enigste brood en water wat ek en jy nodig het. Geen bykosse! Ons het partykeer so baie bykosse - ons noem dit dogma. Byvoorbeeld: neem Jesus aan, en word só gedit en gedat, lofprys op hierdie manier, verander die Bybel bietjie sus en so, verstaan dit op hierdie en daardie manier, woon dié en daai by, ens. ens. Weet jy wat gebeur? Op die ou einde eet ons nét die bykosse. Die bykosse word vir ons só belangrik, dat ons die basiese hoofmaal los. Dit nogal interessant dat Jesus Homself met brood en water vergelyk en nie met kaviaar en Franse Sjampanje nie. Hoekom nie? Miskien omdat Jesus met 'n dienaars houding aarde toe gekom het - die Koning word 'n slaaf. Die Leeu van Juda, maar eintlik 'n vlekkelose lam. Die Opperheerser, maar Hy het kom voete was.

Jy sien, ons probeer so dikwels die verkeerde elemente inbring, die verkeerde dinge beklemtoon, en sodoende besoedel ons die water. Ons los die brood om hard en vol muf te word. Ons kies om dit nie te eet nie.

Weet vandag dat Jesus ons wil versadig. Daarom sê Hy in Openbaring 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met Hom die feesmaal hou, en hy saam met My" en Openbaring 2:17 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry"

Oorwinning saam met Jesus, in Jesus. Kom eet en drink van die brood en water wat lewe gee.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)