OM IN JOU SONDES TE STERWE


Iemand sê gister vir my hy het die volgende vraag by iemand gehoor: “Moet ek elke dag my sondes bely?” Nog iemand vra: “Kan iemand wat selfmoord pleeg hemel toe gaan, want hy kon dan nie vergifnis vra vir sy sonde nie?”  Toe ons jonk was het ons altyd gevra: “Is dans sonde?”  (mmm, miskien nie, solank jy dit net nie geniet nie!) 

Vandag is die vraag: hoe werk sonde en sondebelydenis? As ‘n ongeredde persoon sonde doen, en ek, as wedergebore Christen, doen sonde, wat is die verskil dan? As sonde mens uit die hemel uit hou, hoekom kan ek dan hemel toe gaan as ek self met sonde sukkel, maar ‘n ander ou mis die hemel as gevolg van sy sonde? 

Joh 8:21-30
Verder het Jesus vir hulle gesê: "Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie."  Die Jode het toe gesê: "Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?" Toe sê Hy vir hulle: "Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe." Hulle vra Hom toe: "Wie is jy?" Jesus het hulle geantwoord: "Waarom praat Ek eintlik nog met julle? Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld." Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Daarna sê Jesus vir hulle: Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit My eie doen nie maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil." Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.  

Jesus is hier aan die woord waar Hy praat met die Jode. As jy so paar verse terug lees (nog in dieselfde gesprek) sien ons in vers 12-14 dat daar Fariseërs by was met hierdie gesprek. Jesus sê: “Julle sal in julle sondes stewe”. Dit lyk dus of hier so ‘n bietjie van ‘n teenstrydigheid is rondom sondes. Party gaan in hulle sondes sterwe en party nie.

Jy sien, hierdie Jode en Fariseërs het dieselfde probleem gehad: hulle was vasgevang in die wet ; hulle het nie in Jesus geglo nie, hulle het in “godsdiens” geglo; hulle was verknog aan die wet. Hierdie Jode en die Fariseërs het nie die verskil tussen sondevergifnis en wetsonderhouding verstaan nie. Volgens hulle moes hulle sélf iets doen om God te behaag. Volgens Jesus moes HY iets doen om God die Vader te behaag. Hulle kon Hom sien, Hom hoor, aan Hom vat, maar hulle het nie verstaan hulle moes Hom aanneem nie. ‘n Interessante stuk geskiedenis speel homself hier af. Jesus sê: “Waar Ek heengaan kan julle nie kom nie”, en ook: “Ek is van daar bo” (dus ‘n ander plek en dimensie) , en “Julle behoort tot hierdie wêreld”. Hier skei Jesus die Geestelike dimensie van die aardse dimensie. Die plek waarvandaan Hy kom, is die volmaakte dimensie. Toe verlaat Hy dit en kom na die aarde, sodat Hy die deur vir ons kan oopsluit na die Vader toe. Ek voel baie sterk daaroor dat die maagdelike geboorte en die hemelvaart twee elemente is wat krities belangrik is om te verstaan en te glo, om die hele kwessie van wedergeboorte waar te maak. 

Maar … hierdie Jode en Fariseërs steek steeds by die wet vas. En ja, die wet is goed, maar bring nie verlossing nie. Vers 21: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sondes sterwe” . Hoekom? Want as Hy weg is, en hulle bly agter, kan daar niks meer oor wees wat vir hulle sondes kan sorg nie. “Ek gaan, julle bly”. Gaan jy in jou sondes sterwe? 

Wat is die verskil dan tussen die twee partye wat albei sondig, maar net een is gered? Vers 24: “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe”. Vir my is DIT die Evangelie in een sin. 

“Ek is wat Ek is”. Klink bekend, of hoe? “Ek is..” . Wat is Hy? * God die Seun * Die Verlosser * Middelaar * Lam ter slagting. Ek is wat Ek is, en dan sê Hy “glo dit”. Geloof is die instrument tot redding. Glo dat Hy is wie Hy sê Hy is. Hy moes van die hemel afkom sodat ons nie meer in ons sondes hoef te sterwe nie. Die geheim is om te verstaan dat sondevergifnis iets is wat eintlik eenmaal, finaal gebeur as ons vir Jesus aanneem. Want Hy het mos eenmaal gesterwe vir dit wat ons gesondig het, wat ons nou sondig en wat ons nog gaan sondig. Hy hoef mos nie oor en oor te sterf nie, of hoe? Dus, as ons sondebesef verstaan, vergifnis verstaan, en vir Jesus kan aanvaar vir wie Hy is, is die totale oorwinning oor sondes behaal. Vir dit wat was, is en gaan kom. Ek en jy kan dus lééf in vergifnis. Ek is ook vergeef vir die toekoms, maar dit gee nie vir my ‘n blanko tjek om te doen wat ek wil nie. God haat steeds sonde. 

Natuurlik moet ons ons sondes bely en vergifnis vra, maar sonde word nie eers vergewe wanneer ons daarvoor vra nie. Dis klaar vergewe. Nou, hoekom dit dan vra? Dis om die verhouding te herstel.  Jy sien, as ek en my vrou kwaad is vir mekaar, maak dit ons nie ongetroud nie. Al voel ek selfs nie getroud nie, ek bly steeds getroud, al voel ek vir daardie kort tydjie nie gelukkig nie. As ek nou na haar toe gaan en sê ek is jammer, en sy sê dis reg so, sy aanvaar dit, het ons nie gou-gou weer getrou nie. Dis mos nou net die verhouding wat weer herstel is. ‘n Argument tussen ons verbreek nie ons “verbond” wat ons met mekaar gesluit het nie. Daarom is vergifnis vra nie die sleutel tot skoon kom voor die Here nie; dit is om te aanvaar wie Jesus sê Hy is – DIT is die sleutel tot vergifnis. Jesus vergewe ons nie eintlik insident vir insident nie, maar Hy vergewe ons sondige natuur. Daarom is ons voor God die Vader skoon, al rol ons in die modder. Jesus skrop ons onmiddellik, sonder dat daar tyd verloop, weer silwerskoon.  Dit is ‘n kontinue proses. Ja, ons vra vergifnis, maar nie om elke keer die dood vry te spring nie. Jesus het reeds die volle prys betaal. 

“… maar julle sal in julle sonde sterwe”. Nie ek en jy nie! Skoongewas in die bloed van die Lam. Vir altyd. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)