ONDRAAGLIKE LASTE


Christenskap word nogal partykeer ‘n komplekse storie. Daar word gesê dat die internet ons met so baie inligting bombardeer, dat ons ongekende onderskeidingsvermoë aan die dag moet lê om te sif tussen feit en fiksie. Dit geld ook vir Christelike idees, konsepte, ideologieë, en allerlei gelofies en gebruike. Hoe meer mense, hoe meer opinies. So word ons as Christene dan ook soms belas met ander se gelowe en gebruike, tot op ‘n punt waar Christenskap net eenvoudig nie meer lekker is nie. Die laste word te swaar, ons voel ontoereikend, kan net nie goed presteer nie en meer en meer gebruike word deur ander op ons afgedwing.

Lukas 11:37-39, 46
Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie"
 

Jesus aan die woord oor ondraaglike laste. Die Fariseërs was goed hiermee, want hulle het nie net die wet onderhou nie, maar was ook besonderlik ingestel op wettiese reëls en voorskrifte. Die Jode het gevolglik baie swaar gekry met al hierdie reëls en hulle godsdiensbeoefening het vir hulle meer ‘n las as iets anders geword. Wat sleg was hiervan, is dat dit slegs “godsdiens” was en daar geen sprake was van ‘n verhouding met God nie. Die lekker het ontbreek, die Fariseërs het regte pretbederwers geword. En net so, is Christenskap vandag vir baie mense moeilik, want ons kan nie alles byhou wat ander glo nie. Wat maak ons met ander se opinies, en veral as dit ‘n las is wat iemand anders op ons plaas? 

1 Kor 8:8-13
Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, 'n aanleiding tot sonde word nie. As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het. Deur so teen die broers te sondig en 'n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.    
 

Paulus het ‘n wonderlike oplossing. Baie eenvoudig: hy vra net vir wedersydse respek. As die gewoontes vir iemand belangrik is, dan sal hy net sorg dat hy nie die ander een laat struikel nie. Sien jy dat Paulus dus by omstandighede aanpas, en daarop reageer, sodat die ander nie tot ‘n val kom nie? Hy gebruik nogal ‘n kontroversiële situasie want vleis wat aan ‘n afgod geoffer was mag beslis nie geëet word nie.  Vers 8 sê: wat ons eet bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie, en as ons eet wen ons niks nie. 

Gal 5:1-12
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan. Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid. 'n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg. Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf. Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat 'n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim. Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!  

Sjoe, Paulus gee hier darem maar ‘n reguit en harde woord. Sien jy hoe erg die Bybel is oor mense wat ander so in verwarring bring met hulle gewoontes en gebruike? Miskien sou Paulus vandag oor dinge soos Kersfeesvieringe, eet gewoontes, gebruike, die doop, ens. op dieselfde wyse gereageer het. Miskien is die vraag vandag: Is jy geestelik volwasse genoeg sodat jy self die Bybel kan lees en self kan besluit oor wat God verwag? Of laat jy toe dat ander jou so belas dat net ‘n stel reëls oorbly van jou Christenskap, en dit die vreugde en vrede van ‘n liefdesverhouding met die Here blus?

Dis amper Kersfees. Wanneer ons van Kersfees praat, is daar twee groeperinge. Die een groep wat daarna uitsien, en wat daarvan ‘n spesiale gebeurtenis gaan maak. Dan is daar dié groep Christene wat nie Kersfees gaan vier nie. Hulle sê dis ‘n heidense gebruik, dit is die verkeerde datum, die Bybel sê nie ons moet dit doen nie, ens. Albei groepe is wedergebore Christene. Ek respekteer albei groepe.  

Verder word daar gesê die Kersfeesboom is heeltemal uit. Mense wat só se gebruik gewoonlik hierdie teks om hulle siening te staaf:

Jer 10:1-6
Luister wat die Here vir julle sê, Israeliete!  So sê die Here: Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie. Moenie bang wees vir die tekens aan die hemel nie, want dit is die heidennasies wat daarvoor bang is. Hulle voorskrif om 'n god te kry, is sinloos: hulle kap 'n boom in die bos af, 'n ambagsman kerf dit uit met 'n beitel, hy versier dit met silwer en goud, met hamer en spyker slaan hy dit vas dat dit nie omkantel nie. Sulke gode kan net so min praat as 'n voëlverskrikker in 'n komkommerland; hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie.  Waar is iemand soos U, Here? U is groot, die mag van u Naam is groot.

Sommige mense glo Jer 10 verwys na ‘n Kersboom. Hulle sê jy kap die boom af en versier hom en hy word nou ’n afgod. Ander sê ek aanbid nie die boom nie, ek soek nie ‘n ander god nie, inteendeel, ek vier juis Kersfees om my Koning se geboorte te herdenk. Die boompie is sommer net ‘n simbool van Kerstyd. Die probleem is wanneer die een groep nie die ander groep se mening respekteer nie. Wat is my mening? Dis eenvoudig, doen soos jy glo. Ek aanvaar nie meer ondraaglike laste wat mense op my plaas nie. Ek is mooi groot, ek is ‘n wedergebore Christen, en ek kan self besluit. Ek wil my Christenskap ten volle geniet. Ek stel belang in God se opinie, maar leer wel graag by ander oor hulle menings.  

Dieselfde geld vir die eet van Halaal-kos. Sommige mense kom ernstig in opstand daaroor en wil nie eet waar daar kos voorberei is vir ander gelowe nie en is onrustig oor kos met die Halaal teken daarop. Is dit nie juis ook waaroor 1 Kor 8 gaan nie? Jy gaan mos nie jou geloof in Christus verloor nie, of hoe? 

Rom 14:6
Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.
 

Heb 13:7-9
Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.  Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie
.  

Moet jou nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die hart word deur genade versterk, nie deur gebruike nie. Jou liefde vir Christus moet jou gebruike en gewoontes bepaal. Iemand het eendag ‘n baie waar ding gesê: enige gemeente, of Christelike groep, sal noodwendig leemtes hê, jy sal waarskynlik nie met alles saamstem nie, want mense is mense. Moet egter nie toelaat dat mense se gebruike jou van die Here af weghou nie. 

As jy vir God wil wys hoe lief jy vir Hom is, gaan jy dit wys in jou liefde vir mense  - nie gebruike of rituele nie. Of wettiese reëltjies nie. Ek sien ‘n foto van ‘n ortodokse Jood wat by die klaagmuur in Jerusalem staan en ‘n selfoon teen die muur druk sodat die een aan die anderkant ook by die muur kan bid. Dink jy dit het iets met sy liefde vir die Here te doen? Dis net godsdiens. Baie fieterjasietjies is nét godsdiens. 

Lééf vir die Here, ontdek Hom, kom al hoe nader aan Hom, wees lief vir Sy skepsels, en geniet jou Christenskap.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)