ONGEKOMPLISEERDE CHRISTENSKAP


"Shalom! Baruch Be Ha Bi'Shem, Adonai". Geseënd is hy wat in die Naam van die Here kom … of so iets. Of dalk kan ek sommer net sê: "Hallo jong, ons gaan lekker saam met Jesus kuier vanoggend!" of "Jitte, dis pret om die Here saam met jou te aanbid". Of moet ek dalk eerder sê: "Kom ons onderwerp onsself vanoggend in nederigheid voor Yeshua, seun van Yahweh"? Al hierdie moontlikhede is reg - so dink ek.

Matt 11:25-30
25 Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.
26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.
27 "My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.
28 "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
30 My juk is sag en my las is lig."

'n Eenvoudige boodskap. Klink dit nie vir jou ongelooflik ongekunsteld en gemaklik nie? So sonder aansit, groot woorde en voorwaardes. Jesus se uitnodiging vir jou en my: "Kom, Ek is sagmoedig en nederig van hart". Jesus met 'n "marshmallow"-hart (met respek gesê!). Hy is ongekompliseerd, sonder fieterjasies. Dink jou in, jy loop daar in Jerusalem en Jesus loop verby jou. Wanneer Hy jou sien verhelder Sy gesig, Sy stappie raak so bietjie dringend en haastig. Met 'n breë glimlag op Sy gesig gooi Hy sy arms oop en druk jou met mening teen Sy bors was. Gee jou sommer so 'n piksoentjie op jou voorkop en sê: "Kom, Ek wil saam met jou kuier!" Lekker né? Dís Jesus, jou Redder en Verlosser aan die werk. Ongekompliseerd, ongekunsteld, liefdevol.

Voel jy nie ook deesdae so bietjie geïntimideer deur ideologieë en dogma en sogenaamde nuwe openbarings nie? Ek kry die anderdag 'n e-pos met 'n amper militaristiese strekking oor 'n sogenaamde nuwe openbaring - God wat iets aan iemand in die Midde-Ooste openbaar, wat uitwys dat ons as Christene skuldig is aan sekere goed, sonder dat iemand dit ooit geweet het! Verskriklik om te dink: hier sit ons voorouers jare gelede rondom die vuur en langs die ossewa, en mis die punt hééltemal, want hulle het te vroeg vir hierdie "nuwe openbaring" geleef… en pleeg onwetend die een of ander groot sonde! Intussen sit hulle net in afhanklikheid en nederigheid en bid vir krag vir nog 'n swaar dag wat voorlê. So ook probeer die arme verhongerde vrou in Zimbabwe miskien uitroep: "Nkosi, stuur vir my kind wat sterf bietjie kos". Sy weet niks van die dreigende eindtye nie, of dat sy dalk bevryding moet kry sodat dit manna kan reën nie. Of meer nog, is sy "reg" gedoop, en waaruit sal sy haar nagmaalwyn drink? Ek wonder … oorkompliseer ons nie dinge soms te veel nie? Ja, miskien moet hierdie vrou ook nog die boodskap wat sy so pas gekry het vir sewe ander in die sand gaan skribbel, en natuurlik ook weer voor die een wat dit pas vir haar gegee het - net om te wys sy's nie skaam nie, weet jy? (Ons stuur mos deesdae sulke e-posse vir mekaar …) NEE, haar geloof in haar Skepper is ongekompliseerd, net sy en God.

Jy weet, Jesus het ongekompliseerd te werk gegaan. Geen moeilike wette, geen gekompliseerde openbarings. Hy het nie eens gekom as 'n Fariseër of 'n Skrifgeleerde nie. Nee, sommer net as 'n skrynwerker.

Luk 2:46-47
46 Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra.
47 Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.


Klink nogal of die geleerdes nie so geleerd was nie, of hoe? Jy sien, die geleerdes het in daardie tyd met moeilike konsepte, en wettiese godsdienstige reëls gekom. Sóveel dat Jesus vir die Fariseërs berispe het oor die ondraaglike laste wat hulle op die mense gesit het.

1 Kor 1:19
Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.

Matt 11:25
Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.

…. Laat my nogal dink aan 'n sekere plaasboer daar van Natal …

Vir wie moet ons luister? Ek dink ons moet maar soms vra: "Sê wie?", want net té veel mense wil "sê jou sê"! Ek dink ons moet vir Jesus luister.

Hoe lyk ongekompliseerde Christenskap?
- Moet daar geleerdes wees? Ek dink beslis so - ek het al só baie by die Stefan Joubert's van hierdie wêreld geleer.
- Moet profesieë gebruik word? Natuurlik, maar verseker nie waarsêery nie. Vir my is daar 'n eenvoudige toets: As 'n profesie iets van 'n toekomsvoorspelling bevat, is ek versigtig daarvoor.
- Openbaar God Homself nog op 'n besonder manier aan mense, met 'n boodskap vir ander? Jip, ek dink so. Maar .. daar is deesdae BAIE "cheap, spiritual talk" in omloop. Hopeloos te veel! Ek glo in elk geval net 10% daarvan.

Hoe is dit by Jesus? Kom ons gaan weer terug na die stofstraat in Jerusalem. Nadat Jesus jou 'n vet druk gegee het, vra Hy hoe dit met jou gaan, en dan praat jy met Hom soos met 'n vriend. Ja, Hy is heilig, maar nie 'n onverbiddelike MD nie. Hy het regtig 'n "oop-deur-beleid". Ja, Hy is Koning, maar nie 'n diktator nie. Redder, maar nie veroordelend nie. En nee, as jy Hom aanspreek as Pappa, dan gryp Hy nie Sy swart boekie en skryf jou naam op omdat jy Hom "verkeerd" aangespreek het nie. En as jy op sy skoot wip, dan is daar nét deernis en sagtheid in Sy oë, want jy, sy kosbare besitting is by Hom.

Ongekompliseerd, ongekunsteld. Hy "laaik" jou nes jy is, man!

Ef 4:14
Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)