Godsdiensbeoefening
word soms as een van die groot moordenaars van ware geloof genoem.
Wat dit beteken is dat ons so streng hou by gewoontes, rituele,
gebruike en bygelowe binne ons geloof dat ons verhouding met God op
die einde nie meer eerste staan nie. Nou is dit so dat ons uit
verskillende denominasies kom, verskillend glo en einde ten laaste
by verskillende nuwerwetse groeperinge aansluit. Skakel jy nou in
die weeksoggende jou radio aan, moet jy luister na ons kiepies wat
probeer om elke denkbare gelowige gelukkig te maak, hoewel ons nie
een homogene groep is nie. Glo my, dis nogal moeilik. As jy kerk toe
gaan, verbind jy jou aan ’n groep wat jou soos ’n handskoen pas en
daar kan jy jou uitleef en gelukkig wees. Maar o wee, nou kom jy
tussen ander mense, dan begin ons gou skouers skuur en krapperig
raak. Hierdie gesprek gaan nie oor Rippel nie, maar ek wil tog net
gou daaraan vashaak. Ons ouens wat in die oggende hierdie program
aanbied kry soms die vreemdste korrespondensie oor dinge soos
interpretasie van tekste, watter Bybel ons moet lees, oor
spreekwoorde wat ons gebruik, oor mannerismes, oor dinge wat ons
anders moet doen, anders moet sê, ens. Sommige van hierdie goed hou
water en word oorweeg, maar party dinge moet ons sommer net afmaak
as Godsdienstige geite. Jesus het nogal met dieselfde soort situasie
gesit met die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hulle het letterlik
gewag dat Hy ’n voet verkeerd moet sit sodat hulle Hom kon aanvat.
Ek dink nogal Hy het dit van alle kante gekry.
Mark 7:1-13
Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af
gekom het, kom toe by Jesus. Hulle het gesien party van sy dissipels
eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is
nie. Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers
nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou
hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. En
wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers
gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike
waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele
te was. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom
handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die
voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?” Hy antwoord hulle:
“Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges,
soos daar geskrywe staan: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar
hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien
deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.
“Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde
gebruik van mense vas.” Hy het verder vir hulle gesê: “Julle
verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle
oorgelewerde gebruike in stand te hou. Moses het gesê: ‘Eer jou
vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet
sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of
sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil
sê: 'n offergawe vir God. En so laat julle hom toe om hoegenaamd
niks vir sy pa of sy ma te doen nie. So ontneem julle die woord van
God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle
beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge
wat julle doen.”
“Waarom handel U dissipels nie
volgens die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte nie...?” Vir
hulle was dít baie belangrik. Dan vat Jesus hulle vas met die
volgende woorde: “Julle laat die gebod van God los en hou aan die
oorgelewerde gebruike van mense vas”. Voorts sê Jesus: “Dit help
niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as
gebooie van God voor te hou nie”.
Hierdie saak wat 2000 jaar gelede
’n probleem was, is vandag steeds net so ’n groot probleem. En ek is
net so aan die stoei daarmee. Kom ek vertel jou my eie storie. Baie
jare gelede verwissel ons van kerk en beleef in daardie tyd ’n
geestelike verdieping. Ons gooi ou gewoontes af en geniet onsself in
’n nuwe groep met nuwe gewoontes en gebruike en rituele. En boeta,
ek is trots op myself oor al hierdie oulike goed wat ek nou doen.
Toe my pa my eendag vra hoekom ek dan nou sonder ’n das en pak klere
kerk toe gaan, was ek reg met baie antwoorde. Jy sien, ek glo toe
dat ek die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte afgegooi het.
Maar weet jy wat ek toe jare later besef? Ek het een tipe van vorm
godsdiens vervang met ’n ander tipe. Op die koop toe het ek
hiperkrities en veroordelend geword en sommer mense se geestelikheid
in twyfel getrek as hulle nie soos ek gedink en gedoen het nie. Toe
word ek eintlik net soos die Fariseërs.
Toe Jesus in hierdie gesprek
vasval met die Fariseërs het Hy net een ding bepleit en dis die
verhouding met God. As Hy hier praat van die wet, of liewer die
gebod van God, wil Hy hê dat dit wat regtig belangrik is, prioriteit
moet kry. Jy kan bv. seker tog met vuil hande eet en wel jou vader
en moeder eer; jy kan dalk nalaat om jou koppies, borde, bakke en
stoele te was, maar wel lief wees vir jou naaste. Jy kan met of
sonder ’n pak klere aan die Here eer en lofprysing doen. Terug na
my pa se storie toe. Vir hom was ’n pak en ’n das belangrik en ek
het dit half veroordeel. Dit het my lank geneem om te besef dat dit
sy manier was om respek aan God te betoon. Dit het nie sy verhouding
met die Here benadeel nie, dit was sý manier om sy geestelike lewe
uit te lewe en ek het nie die reg gehad om dit te veroordeel nie.
Jesus se punt was dat hierdie
oorgelewerde gebruike vir die Fariseërs belangriker was as hulle
gehoorsaamheid aan God. Hulle het ondraaglike laste op mense geplaas
om die dinge van die Here te gehoorsaam, maar nie die Here van die
dinge nie. Hulle geestelike geite was as’t ware ’n muur tussen hulle
en die Here. Hy wou dalk vir hulle sê: gee tog net jou hart vir God
en vergeet van al hierdie reëls en dingetjies.
Hoe gaan ek en jy vandag om met
hierdie oorgelewerde gebruike? Wat is belangrik en wat nie? Hier is
’n paar punte wat by my opgekom het toe ek daaroor gedink het:
1)
Ons (ja, ek ook!) moet baie versigtig wees om nie te
veroordeel as mense dinge anders as ons doen nie. Ons kom uit
verskillende agtergronde en ons moet vir mekaar ruimte toelaat.
2)
Ek dink mens moet versigtig wees vir groeperinge wat geweldig
swaar op een ding of een styl hamer, want dit word dalk belangriker
as God.
3)
Ons moenie ondraaglike laste op mense plaas nie. Ek het al
gesien dat dit soveel verwarring by mense bring dat hulle sommer aan
hulle eie saligheid begin twyfel.
4)
Moet nie elke CD of DVD wat versprei word onvoorwaardelik as
die waarheid aanvaar nie. Daar is báie goed wat niks werd is nie.
5)
Ons het ongelooflike onderskeidingsvermoë nodig, juis omdat
ons gebombardeer word met soveel inligting. Die internet kan net
soveel gevaarlik as goed wees. As iemand iets gesê of geskryf het,
is dit nie noodwendig waar nie.
6)
Ondersoek alles. Ook dit wat ons hier op die radio kwytraak,
is nie noodwendig waar nie, want dit is ook maar net menslike opinie
en interpretasie.
7)
Spandeer meer tyd met die Here – in gebed en in Sy Woord, met
bepeinsing, in lofprysing – as om net goeters te dóén en “nuwe”
dinge na te jaag.
8)
Kom ons verdra mekaar met geduld.
9)
Wees lief vir die Here, wees lief vir mekaar, doen dié dinge
wat belangrik is en doen alles volgens die vrug van die Gees.