Is dit nie so dat die mens maar
altyd op soek bly na die betekenis van alles nie? Hoekom, hoekom.. hoekom
dit, hoekom dat … hoekom kry ek swaar, hoekom het ek my vrou of my kind
verloor, of my werk verloor .. hoekom gaan dit so moeilik in my huwelik?
Waar is die Here? Waar is die beloftes van die Bybel? Hoeveel kan ek nog
verduur? Hoekom maak Christene my so seer? Moet daar nie meer in die lewe
wees nie? Wat is die sin van hierdie gesukkel?
Ek glo ons is of was al almal op
hierdie punt gewees. Die lawwe spreekwoord is waar: "die bosveld is nie
vir sissies nie". Jy sien, ek glo dat hierdie talle vrae beantwoord sal
word, as ons net kan weet wat die betekenis van dit alles is. As ek kan
weet wat die uiteinde sal wees, hoe lank dit gaan vat en hoekom dit nodig
is, sal ek dit seker makliker aanvaar. So was dit vir my gewees in my twee
jaar diensplig, 30 jaar gelede: die tentlewe, bitter koue, slegte kos,
afsondering, vernedering, byna geen warm water nie, dood gesien op die
grens, ens. Dit was uithoubaar, want ten spyte van alles, was daar
betekenis agter dit alles: ons het geweet hoekom ons daar is, vir hoe lank
dit gaan aanhou, en ons het geweet dat beter dae SAL aanbreek. Maar die
lewe is nie so regverdig nie - dit voel vir baie mense of niks sin maak
nie.
Het jy al gedink wat maak die lewe
moeilik? Dit is nie weerpatrone, seisoene of natuurwette nie, nee, dit is
net die mens. Dit wat mense aanvang. Die lewe is nou maar een maal in die
mens se hande… dit is mense wat dominees is, en dis mense wat terroriste
is, dit is mense wat dokters is en gesond maak, en dit is mense wat moor
en verkrag, dit is mense wat werk skep en dit is mense wat bedrog pleeg….
Waar sal ek betekenis in dit alles kry?
Ek het onlangs 'n boek gelees van
Viktor Frankl, "Man's search for meaning". Hierdie ou was drie en 'n half
jaar in konsentrasie kampe (o.a. in Auschwitz). Vir drie en 'n half jaar
het hy nie geweet of hy die volgende dag nog sou leef nie. Maar tog het hy
elke dag voortgeveg. Hoekom? Omdat daar hoop was - solank hy nog asem
gehaal het, was daar nog hoop. Ek en jy het baie meer as asem beskikbaar!
Viktor Frankl skryf dat die mens met enige iets kan saamleef, en aan enige
iets gewoond kan raak, as jy net weet hoekom dit nodig is. As jy weet
hoekom jy moet vasbyt, raak die "hoe" minder belangrik.
Kom ek gee vir jou "slegte nuus" -
die Bybel sê ook nie dit sal maklik wees nie!
2 Tim 3:1-7
1 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.
2 Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand,
beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers,
ondankbaar en ongodsdienstig;
3 hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en
wreed, sonder liefde vir die goeie;
4 hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder
liefde vir genot hê as liefde vir God.
5 Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van
die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
6 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met
sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle
mag,
7 vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die
waarheid kan kom nie.
In die laaste dae sal daar swaar
tye kom. Dus, die Bybel sê eintlik "verwag dit"! Viktor Frankl het die
oorlog oorleef en is in 1997 oorlede. As sielkundige het hy dikwels vir 'n
pasiënt met wie dit swaar gaan gevra: "hoekom pleeg jy nie selfmoord
nie?". As hy dit vandag vir my sou vra, sou ek sê: "nee, jitte man, daar
is veels te veel sin in die lewe. Ten spyte van alles."
Maar WAAR kry ek die sin van die
lewe? 'n Vriend gee anderdag die antwoord, of te wel, ek dink 'n groot
deel van die antwoord. Ons is nou in hierdie situasie: die krag gaan af,
petrol raak vinnig duurder, die politiek is deurmekaar, misdaad is buite
beheer … Die vraag is: "wat maak ek daarmee?" Hoekom het Viktor Frankl nie
homself opgehang nie? Sy situasie was totaal hooploos, hy kon nie veel
daaraan doen nie, MAAR ek en jy KAN! Hoe? Ek dink dit gaan oor "attitude".
As die lewe regtig só sonder betekenis is soos ons sê, is ons almal
verskriklike leuenaars. Hoekom sê ek so? As ek jou vandag raakloop en vra:
"hoe gaan dit met jou?", wat gaan jy antwoord? "Baie goed, skitterend,
voor die wind, dankie" …. Of hoe? Weet jy hoekom sal jy só antwoord? Want
jy het nog hoop. Want jy weet dat die mens se vermoë om te oorleef
ondenkbaar goed is. Want jy het nog 'n dak oor jou kop. Want jy het werk
(wel, miskien is jy werkloos, maar jou CV is al uitgestuur). Want jy weet
dat jou voorouers deur baie slegter tye oorleef het. Want jy het mense
sien gesond word. Want jy hoor mense se getuienisse. Want jy kyk terug en
sien dat daar rampe agter jou lê, berge, brûe, slote en jy is daardeur.
Dit is hoe God jou gemaak het: Hy louter jou soms met vuur maar jy brand
nie uit nie.
Wat is jy bereid om te doen, wat
sal jy maak dat die lewe vir jou betekenis kan kry? Dit hang net af van
jou verwagting, en van jou reaksie op die negatiewe.
Dit hang ook verder af van watter
"lewe" jy praat. Jy sien, as jy verstaan dat hierdie lewe oorgaan in die
"ewige lewe", dan hoef hierdie een nie noodwendig vreeslik sin te maak
nie. Maar dit sal tog lekker wees, of hoe?
Kom ek sê hoe hierdie lewe vir my
sin maak:
1) Ek het 'n wonderlike gesin, wat elke dag vir my vreugde gee
2) Ek het puik vriende wat saam met my die pad stap
3) Ek sien hoe die Here besig is om herlewing te laat uitbreek
4) Ek probeer om iets vir ander te beteken - geestelik, maar ook deur my
besigheid
5) Ek besef hoe bevoorreg ek is om in die mooiste land op aarde te woon,
ek geniet die weer, en die mooi van die verskeidenheid mense.
6) Ek sien die wonderwerke van God raak.
7) Ek geniet dit as ek hoor van 'n mens wat tot bekering gekom het.
8) Ek verander wat ek kan, en dan maak ek vrede met dit wat ek niks aan
kan doen nie.
Weet jy wat? Die lewe maak WERKLIK
sin as jy agter die Here aanstap. As Hy die middelpunt van jou lewe is,
jou Hoop, jou Vreugde, jou Verlosser.
|