Ons
leef in ‘n soekende wêreld. Jaar na jaar, eeu na eeu, soek die mens
na God. In elke kultuur, elke taalgroep, in al die uithoeke van die
aarde soek mense na ‘n Oppergesag. Dit lyk my ons as mens is so
aanmekaargesit: ‘n soekende wese. Miskien is dit omdat ons grootheid
en grootsheid om ons sien wat ons in verwondering laat, dat ons soek
na dié een wat alles gemaak het. In elke kultuurgroep sal jy mense
vind wat verwys na “ons” God. Almal aanbid hulle gode verskillend,
en maak afbeeldings van hulle gode, en rig altare op vir hulle gode.
Die mens wéét dat daar iets groter as hyself is, en dan wil hy
hierdie entiteit aanbid en vereer… en dit wat hieruit spruit, word
“godsdiens” genoem, en sluit rituele, danse, sang ens. in om hierdie
god te vereer. Selfs binne “erkende” godsdienste en strukture, selfs
onder Christene vind ons die soekendes. Ja, natuurlik soek ons as
kinders van die Here daagliks na Hom. In swaar tye soek ons kliphard,
want dan wonder ons waarheen Hy dan nou is. Ons wil Hom verklaar en
verstaan, ons vra “waar is die Here?” en “wie is die Here”, en dan
begin ons met Godsdiensbeoefening: rituele, sekere manier van sing,
aksies, aktiwiteite, ens.
Hand 17:16-34
Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie
verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is.
Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer
en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 'n Paar
wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê:
"Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?" Ander het gesê: "Dit
lyk of hy 'n boodskapper van vreemde gode is." Dit was omdat Paulus
die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het. Hulle het
hom na die Areopagus toe geneem en gesê: "Kan ons te wete kom wat
hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? Party van die dinge wat jy sê,
klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken."
Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het,
het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te
hoor nie. Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan
en gesê: "Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie
godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die
plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe
staan: 'Aan 'n onbekende god.' "Nou ja, wat julle aanbid sonder om
daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God, wat die wêreld
met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en
aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy
het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy
wat aan almal lewe en asem en alles gee. Uit een mens het Hy al die
nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy
het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God
het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om
Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom
lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters
ook gesê het: 'Ons stam ook van Hom af. Aangesien ons dan self van
God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud,
silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike
vaardigheid en verbeelding. "God het die tye van onkunde oorgesien,
maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy
het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel
deur 'n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy
Hom uit die dood laat opstaan." Toe hulle van die opstanding uit
die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal
jou weer hieroor wil hoor." So het Paulus van hulle af weggegaan. 'n
Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder
hulle was daar Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met
die naam Damaris en nog ander saam met hulle.
Hier kom Paulus af op afgodsbeelde, hy sien
godvresendes, mense maak praatjies, hulle stry, en hulle beskuldig
hom selfs dat hy die boodskapper van vreemde gode is. Paulus gee
erkenning aan hulle godsdienstigheid met “ek sien dat julle in alle
opsigte baie godsdienstig is”, en praat dan met hulle oor die altaar
waarop daar geskrywe staan: “aan ‘n onbekende god”. Sjoe, kan jy
sien hoe soekend hiérdie klomp is. Hulle weet daar moet een of ander
god wees, hulle bou ‘n altaar om te offer – vir iemand wat hulle nie
kan sien nie, en nie ken nie, en dan gaan aanbid hulle daar.
Interessant om te besef dat hulle nie misken het dat daar ‘n god
moet wees nie. Ek dink ons kan dalk selfs op ons eie Christelike
bodem daarvan getuig dat altare gebou word, offers gebring word,
godsdiens beoefen word, maar mense bly soekend, omdat hulle nie die
ware God gevind het nie.
Paulus gebruik nou die geleentheid om hulle aan die
Here voor te stel. Hy sê: “ek ken die Een wat julle soek, die regte,
en enigste, ware Een”. Hy bly nie in tempels nie, Hy het nie nodig
dat mense Hom versorg nie. “God het hulle gemaak om Hom te soek, al
sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind”. As hulle hom werklik
soek, sal hulle Hom vind. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie,
want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”. Die ware
Godsdiens berus nie op die bou van altare en bring van offers nie,
maar op ‘n verhouding met die lewende Here; ons het ‘n Middelaar
nodig, ons kan nie onsself red nie, ons het nodig om ons te bekeer.
"God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die
mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het 'n dag bepaal waarop
Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy
uitgekies het."
As Paulus praat oor die opstanding van Jesus dan word
hy uitgelag. Is dit nie ironies nie: die Ateners bou ‘n altaar vir
‘n god wat hulle nie kan sien nie, maar lag vir Paulus uit as hy
praat van die Een wat deur baie mense gesien is, selfs na sy
opstanding. Hulle is soekend, hulle sal selfs ‘n klomp absurde dinge
glo en rituele doen, maar die ewige God en Koning, dié mis hulle.
Hier kom Paulus en hy gee vir hulle die antwoorde, maar hulle vat
dit nie. So, hulle soek, maar wil nie eintlik vind nie! Klink dit
nie bekend in vandag se lewe nie? Mense sien dinge om hulle, ervaar
die getuienisse van mense, hoor hoe mense nuwe hoop kry, hoor hoe
mense hulle bekeer en nuut word, maar dan draai hulle maar net weer
die rug op God. Hulle lag vir die opstanding, maar dan aanbid hulle
by ‘n klip altaar…!
Dalk word jy ook uitgelag oor jou getuienis, of
verwerp, of vermy. Dis okei, hoor? Dit lyk my dit moet maar so wees.
Daar het darem ‘n hele paar mense tot geloof gekom nadat Paulus met
hulle gepraat het. Ek sou dink Paulus moes soms moedeloos geword
het, maar hy het nie, want hy het die enigste, lewende God geken, en
in ‘n verhouding met Hom gestaan. Ons het partykeer hierdie prentjie
dat dit vir Paulus maklik was om sommer net so te loop en preek,
maar hy het baie ontberinge beleef. Hy was egter ‘n evangelis, en
het graag vertel van sy God, ten spyte van teenkanting.
Kan ek en jy ook mense aan die ewige God voorstel?
Verseker! Kan ek en jy ook preek? Definitief! Die vraag is net:
doen ons dit? Gebruik ons elke geleentheid om oor die Here te getuig?
Ons moet onthou dat die mense om ons soekend is; ons moet reg wees
met ‘n verduideliking oor die hoop wat in ons leef (1 Pet 3:15).
Moenie skaam wees nie, enige tyd is die regte tyd om vir mense te
vertel. 2 Tim 4:2: “verkondig die woord: hou daarmee vol, tydig en
ontydig”.
|