Job 1 : 1 - 5
1 In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom
en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.
2 Hy het sewe seuns en drie dogters gehad
3 en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie
duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en
baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste
man.
4 Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By
sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam
met hulle fees te vier.
5 Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel
om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het
hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, want, het Job gesê:
miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.
Job het dit elke keer gedoen.
Hier lees ons van Job wat sy kinders se belange op
die hart gedra het. Ek wil net so een en ander uit hierdie gedeelte
haal oor Job as pa.
1. Job het so baie vir sy kinders se geestelike
welstand omgegee, dat daar staan dat hy elke keer na partytjies
hierdie reinigingsaksie uitgevoer het.
2. Job het sy kinders hulle genietinge toegelaat, maar hy was deel
van hulle lewens, ook in hulle sosiale lewe.
3. Job was 'n baie welgestelde man, maar het tyd gemaak vir sy
kinders.
4. Job het sy kinders te lief gehad om hulle aan hulle eie genade
oor te laat.
5. Job het seker gemaak dat hy alles moontlik doen vir hulle
geestelike welstand.
Hoe vorder óns as ouers? Wat laat ons na in ons
kinders? As iemand sou sê jou kind is nes sy pa, sal dit vir jou 'n
kompliment wees of nie?
Spr 17 : 6 "Kleinkinders is vir oumense 'n trots;
vaders is vir hulle seuns 'n sieraad" Volgens die HAT is 'n
sieraad: "Voorwerp van edel metaal; 'n verfraaiing; iemand wat
uitblink; iets eervol." Ja jitte, iemand wat uitblink - deesdae is
die enigste blink wat ons kinders sien, die feit dat ons skitter in
ons afwesigheid. Die gemiddelde kind, het net 10% van 'n pa. Want
die werk het 90%.
Spr 20 : 7 "Wie reg doen, en eerlik lewe, met sy
kinders gaan dit goed." Wat sien ons kinders by ons? Hoor hulle
hoe jy 'n 'deal' gekook het? Of suggestiewe taal uit jou mond uit?
Of dalk so 'n dubbele standaard. Nou só en by die kerk só?
Spr 29 : 17 "Gee jou seun 'n goeie opvoeding en
jy sal gerus wees oor hom, hy sal jou baie vreugde verskaf."
Nou vra ek jou in die lig van hierdie teks: kan jy jou Maltees oor
e-pos leer om deur 'n hoepel te spring? Of 'n papegaai 'n deuntjie
leer fluit per SMS? Net so min kan jy jou kind 'n opvoeding gee as
jy nooit daar is nie. Dan leer hy die waardestelsel van die
dagmoeder, onderwyseres, bediende, en dan uiteindelik van sy
vriende. Al gehoor van kwaliteit tyd? Glo jy daaraan?
Hoe is 'n steak in die restourant, perfek gaar
gemaak, gegeur, supersag, rypgemaak, volmaak voorberei - en dis so
groot soos 'n vuurhoutjieboksie? Dis wat ons doen met ons kinders as
ons hulle kwansuis kwaliteit-tyd gee. Hulle word ouerloos groot, en
hulle is nie eens weeskinders nie. Baie van ons probeer om ons
kinders te “koop” met te veel geld - dan het hulle darem iets van
ons lang ure by die werk – skrikwekkend, nè!
1 Kor 13 - vir pa's.
"Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW
ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my
teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met
'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie
met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom,
en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek
meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die
Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en
krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met
gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die
gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel
of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.
Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al
beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien en
vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te
doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of
naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat
sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel
nie,
hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders
nie,
soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek
nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper
hulle nie met verwyte nie.
'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot
hulle eie nadeel.
Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
in hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer
bly lank in 'n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer
in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd
nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en
besittings gerelativeer.
Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my
voorkoms, my motor en my geleerdheid,
maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.
En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!"
Sjoe, is hierdie nie so waar nie. Hoe kan ons
kinders heel agter staan teenoor alles anders? Dis eers wanneer
ouers 'n kind aan die dood afstaan, dat hulle besef wat die kind
beteken het. 'n Pa sê eendag dat hy so wens sy kind se kamer is
deurmekaar, en sy huiswerk en skool punte nie heel bo in die klas
nie, en die kind is tog net so 'n bietjie rebels. Maar nou is die
kind dood, en al sy lang ure by die werk het gemaak dat hy sy kind
se lewe gemis het.