PLANT ‘N BOOM

As jy by die gevangenis in Potgieterstraat inry by die hoofhek en jy draai links nadat jy deur die sekuriteitshekke is,  dan kom jy by ‘n parkeerterrein uit waar daar een van die grootste bome staan wat ek nog ooit gesien het. Iemand het gesê dis ‘n wildevy boom. Dit is regtig ‘n massiewe boom! Miskien het iemand lank, lank gelede besluit om die boom te plant met ‘n spesifieke doel. Dalk vir sy skaduwee, miskien om van die hout te gebruik – wat ook al, die punt is, daardie boom is massief, en die persoon wat hom geplant het lewe lankal nie meer nie. 

Ek het onlangs die volgende by my vriend, Wally, geleer: om ‘n boom te plant simboliseer ‘n hoop op die toekoms, ‘n verwagting dat daar ‘n nageslag gaan kom. Om te glo dat daar ‘n toekoms voorlê, maar ook ‘n era wat ek as mens nooit gaan sien nie. Wally is vreeslik lief vir bome, en plant nog steeds … 

Willem plant 'n boom

Vandag wil ek jou vra: glo jy in ‘n toekoms, het jy ‘n verwagting vir ‘n toekoms, ongeag van waar jy jou vandag bevind – of dit nou in Suid-Afrika is, of New Zealand, Australië of Zimbabwe? 

Jer 29:11-13
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.
 

“Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting..” Hierdie is geskryf vir ‘n volk in ballingskap … watter toekomshoop kon hulle tog daar in Babel hê? Luister verder hierna:  

Jer 29:4-11
So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!
 

Wow, kan jy dit glo? In ballingskap, IN Babel, IN ‘n vreemde land, sê die Here hulle moet met ‘n toekomsverwagting leef. 

Nou kan jy vir my vra: waar kom die boom nou in? Wel, om ‘n boom te plant simboliseer ‘n hoop en verwagting op iets wat jy nie self gaan leef om die uiteinde te sien nie. Jy sien, baie mense is tans in ‘n staat van hoop loosheid vasgevang, soveel dat ons oordrewe na die eindtyd smag.  Ons hoor daagliks boodskappe van die eindtyd wat om die draai is. Ons soek na die tekens in die lug en kry dit ook. Maar hoe ver is “naby”? Miskien sien ons die “eindtyd” as ‘n uitkoms vir hierdie wrede wêreld. Gaan ons ophou lewe as ons sou weet dat ons aardse bestaan oor ses maande tot ‘n einde gaan kom? Nou vra ek jou: sal jy bereid wees om ‘n boom te plant saam met my, as ‘n simbool van verwagting vir ‘n toekoms? Om die Here te vertrou vir ‘n môre en ‘n oormôre, waar ons kinders en kleinkinders nog hierdie aarde gaan bewandel? 

Jes 44:3-4
Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope.
 

Dink jy regtig die Here het opgegee op Sy skeppingswerk, Sy skepsels wat na Sy beeld gemaak is? Hoekom kyk ons dan so kortsigtig? As jy op pad is Kaap toe, gaan jy mos nie halfpad stop en omdraai as die pad vol slaggate is nie? ‘n Slegte pad beteken tog nie die Kaap het verdwyn nie? “Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting”, so sê die Here. En vir julle kinders en kleinkinders. 

Kom ons plant ‘n boom, piep hom op, voed en versorg hom en GLO in die toekoms, want daardie boom sal bly staan lank nadat jy jou hemelse tuiste begin bewoon het. 

Boomplant met ‘n verwagting sê:

1)     Jy is positief. Dit sê dat ek kan glo dat daar meer voor my in die toekoms lê as dit wat ek kan sien, en gaan sien in my lewe.

2)     Jy het hoop, wat aangevuur word deur die beloftes van God. Die hoop wat die Here in jou kan laat brand, vra dat jy verder kyk as dit wat jy voor jou kan sien. “Hoop” vra dat jy al die elemente wat sleg lyk sal ignoreer, verby dit sal kyk, en na Jesus Christus se kruis te kyk. Met watter hoop het Jesus aan die kruis gehang? ‘n Verwagting van nog ‘n paar jaar in hierdie wrede, onregverdige lewe? Of dalk ‘n  hoop wat dekades en eeue vir Sy kinders voorlê.

3)     Jy het geloof. Heb 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”. DIS geloof.

4)     Jy is optimisties. Pessimistiese mense kan nie iets doen om die toekoms beter te maak nie. Optimistiese mense sê: “Nee, daar kom goeie tye”, of “Nee, die huidige tye is nie so sleg nie”. Optimistiese mense fokus op dit wat positief en goed is. 

Jy sien, ‘n boom is ‘n wonderlike ding. In die dag, as die son op sy blare skyn, vind fotosintintese plaas, en hy vervaardig lewegewende suurstof. ‘n Boom simboliseer LEWE! ‘n Toekomsverwagting skreeu vir lewe. Hemel, mensdom, is ‘n tonnel dan net donker? Nee, verseker nie. Ek wil bou aan ‘n toekoms waar my nageslag kan woon en werk. Dit vra vir optimisme, en geloof, en hoop, en vooruitkyk na groei en lewe! Maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie. 

Ek gaan ‘n boom plant in my tuin, om ‘n toekoms verwagting te simboliseer, deur te sê: “Boom, miskien sien ek nie nessies in jou takke nie, maar ek glo dat God nie opgee met hierdie skepping van Hom nie. My nageslag sal weet dat ek jare terug ‘n hoop, en ‘n toekomsverwagting gehad het. Kinders sal daarin speel en sê: ‘Iemand het genoeg in die toekoms geglo om hierdie boom te plant’” . Wat van jou, neem jy deel? 

Die teenpool van boomplant is om jouself al dieper en dieper in ‘n gat in te grou. As jy ondergronds is sien jy niks… absoluut niks. As jy saam met daardie boom groei, sien jy ver, oneindig ver! Ek wil nie ‘n gat-grou lewe lei nie. Ek wil ‘n boomgroei lewe lei. 

Jer 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)