REDDING


Hoe baie gebruik ons nie die woorde: "ek is gered" nie? Ons gebruik dit om te sê: "ek is God se kind", "ek is afgesonder vir die Here", "ek gaan hemel toe", "ek spring die ewige oordeel vry". Ons sê ook: "ek het tot bekering gekom, en is nou gered". Ons weet ook dat redding van God af kom. Nét Hy kan red. Mense wat Jesus as hulle Saligmaker aangeneem het, is gered.

Jes 45 : 20 - 25
" Kom almal bymekaar, kom nader vir die beslissing, vlugtelinge uit die nasies. Dié wat afgodsbeelde dra wat van hout gemaak is, en tot 'n god bid wat nie kan red nie, het geen insig nie. 21 Stel julle saak en bring julle bewyse, beraadslaag gerus met mekaar daaroor. Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig? Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur? Is dit nie Ek, die Here, nie? Daar is buiten My geen God nie; net Ek is 'n God wat regverdig is en red. 22 Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie. 23 Ek lê 'n eed af in my eie Naam, wat Ek sê, is betroubaar, dit is 'n woord wat nie onvervul sal bly nie: voor My sal elke knie buig, in my Naam sal elke tong 'n eed aflê. 24 Hulle sal sê: Net van die Here kom daar redding en krag. Almal wat teen Hom te kere gegaan het, sal beskaamd daarvan afkom wanneer hulle voor Hom moet verskyn. 25 Maar al die nakomelinge van Israel sal gered word omdat hulle aan die Here behoort, en hulle sal in Hom roem."

"Net van die Here kom daar redding en krag". Nou ja, dit lyk dus of redding van die begin af nodig was.

Ons lees in Genesis 1 van die sondeval, waar daar op 'n dramatiese manier skeiding kom tussen God en die mens, en dan uiteindelik volg God se straf:

Gen 3 : 23 - 24 " Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. 24 Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg."

Van toe af is die volmaaktheid wat God vir die mens bedoel het, verlore. Die mens kies die verkeerde pad en redding het nodig geword.

Wel, dit lyk my ons sal heel goed op aarde regkom sonder redding! Die goddelose kom heel goed reg. Hulle kan sonder skuldgevoel deur hierdie lewe ploeter, alles wat hulle bymekaar maak maar vir hulleself hou. Hulle kan hulle vrouens verneuk, oneerlike transaksies aangaan, ál die wette verbreek (solank hulle nie gevang word nie). Hulle hoef nie ag te gee op ander mense nie, hulle kan egosentries lewe. Man! Wat wil jy meer hê? Doen wat jy lus is. Daar is vele tekste wat verwys na die welvaart van die ongelowige! So asof mens dan uiteindelik vir jouself afvra, "is al hierdie Christelike goed dan die moeite werd?" As dit dan so goed gaan met die ongelowige, hoekom hoegenaamd bodder om die Here te volg.

Is redding hoegenaamd nodig? Wel, as ons net op hiérdie lewe staatmaak is dit seker nie nodig nie. As ons net die hier en nou die lewe noem. As ons visie net strek tot aan die einde van hierdie bestel. As ons dus nie glo dat daar 'n hemel en 'n hel is nie. As ons dink dat daar nie 'n God is nie. Dan is redding seker nie nodig nie! Maar boetie, daar wag 'n groot verrassing. Redding IS nodig!

Die vraag is dan:

"Waarvan moet ek gered word? En hoekom?" Die Sondagskool antwoord sê ons moet gered word van die hel. En dit is so. Maar, wat maak dat die hel ons voorland is? Ons moet gered word van die effek van sonde, en daarvoor is daar ernstige sondebesef nodig. As ek en jy nie verstaan dat dit sonde is wat ons in die ewige verderf laat beland nie, is daar niks waarvan ons gered hoef te word nie. Daarom moet ons die erns van sonde besef! Dit het God baie duidelik in die wet uitgespel:

Eks 20 : 1 - 17 " Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: 2 Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3 Jy mag naas My geen ander gode hê nie. 4 Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5 Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6 maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. 7 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. 8 Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10 maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11 Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. 12 Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. 13 Jy mag nie moord pleeg nie. 14 Jy mag nie egbreuk pleeg nie. 15 Jy mag nie steel nie. 16 Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie. 17 Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie."

Alles wat God bedroef, lê in die wet opgeskryf. Dus lyk dit vir my dat as ons alles sou nakom wat in die wet staan, ons okei is. Dan hoef ons van niks gered te word nie, dan is die oordeel weg en die hemel ons voorland. Nou ja, gou 'n kort toets. Hoeveel van die 10 gebooie kan jy opnoem? En dan, die moeilike een. Aan hoeveel van die goed is jy en ek skuldig? Het jy al iets gesteel, by die werk? Dan is jy 'n dief. Het jy al gelieg? Dan is jy 'n leuenaar. Dien jy ander gode, soos bv. geld en eie ek? Dan is jy 'n afgode dienaar! Ons is dus sondig en dit beteken dat ek en jy nie in die hemel kan kom nie.

Daarom, is redding nodig.

Kan jy dit op jou eie maak? Kry jy dit reg om goed te leef? Is dit goed genoeg om te sê "Here, Here"? Nee! Daarom is redding nodig! Maar, eers as ek en jy tot die besef kom dat ons van die vervloeking van sonde gered moet word. Daar is dus sondebesef en sondebelydenis nodig. En dan moet ons dit laat staan, ons moet wegdraai van die sonde en daarteen kies. Kry jy dit reg? Wel, ek ook nie! Daarom is Jesus nodig. Net Hý kan die effek van sonde wegneem. Dis net as ons die finale offer vir die sonde onvoorwaardelik aanvaar, dat ons vrygestel word van die uiteinde van die sonde! Is dit moontlik? Natuurlik!

Hand 16 : 30b "Menere, wat moet ek doen om gered te word? Hulle antwoord hom, glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou gesin."

Jy sien, ons kan glo in die bestaan van Jesus, maar as ons nie die volle inhoud van hoekom Hy aarde toe gekom het, verstaan en aanvaar nie, kan ons nie gered word nie. As ons nie glo dat sonde na die verderf lei, en Jesus die finale offer is nie, verstaan ons nie waarvan ons gered moet word nie.

Ja, gee jou hart vir Jesus, ja, weet Hy is die Saligmaker, maar verstaan die hele prentjie. As Jesus net die maklike uitweg is vir 'n goddelose lewe, maak ons Sy Saligmaking cheap!

Ek en jy kan nie die wet onderhou nie, en juis daarom moet ons gered word van die effek van sonde. Die wet is dus nie sleg nie, en die wet sal nooit opgehef word nie, (allermins deur Jesus), maar die onvolmaaktheid van die mens word vervolmaak in Jesus Christus.

Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.


 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)