RIGTINGWYSERS IN DIE LEWE


Daar is so baie plekke in die Bybel waar ons kan lees wat God se bedoeling vir ons lewens is. Hoe wil die Here hê moet ons dag vir dag leef? Jesus se koms aarde toe het vir ons alles geleer wat ons nodig het. Maar die Bybel in sy geheel is die totale rigtingwyser wat ons nodig het om 'n goeie, sinvolle bestaan te voer. Niks meer is nodig nie, alles is daar. Ja, selfs ongelowiges sal maklik verwys na die sogenaamde Goeie Boek. Inderdaad is daar niks anders wat die Bybel in hierdie konteks verbysteek nie. As jy enige enkele skrywer oor boeke, opvoedingsboeke, kinderboeke, besigheidsetiek, verhoudinge, of wat ook al jy in die hande kan kry, bymekaar sit, sal dit steeds nie die Bybel oortref nie. Niks kan die insig, of wysheid van die Woord van God in die skadu stel nie.

Die Bybel is ons rigtingwyser in die lewe soos wat padtekens op die pad ons aanwysers is. Soos jy dalk nou ry, gaan jy verby baie padtekens, wat daar gestel is om die beste padgebruik te verseker. Daar is waarskuwingstekens, inligtingstekens, reëlingstekens, gevaartekens wat wys waar en hoe ons moet beweeg. Hierdie tekens se doel is nie om ons te frustreer nie, maar om orde op die pad te verseker.

As ons almal al hierdie reëls nakom, kan daar bykans niks verkeerd loop nie. So gee die Bybel vir ons al hierdie reëls en rigtingwysers vir dieselfde doel. Jy sien, mense sien hierdie dinge verkeerdelik as wettiese handelinge - om weer die wet getrou en slaafs na te volg, maar dis nie die bedoeling nie. Die Bybel vertel vir ons wat nodig is om 'n goeie sinvolle bestaan te maak. Dis nie om ons te straf nie, dis om ons te lei. Die Here het net die beste vir ons in gedagte.

Soos jy ry, sien jy hordes padtekens. Van nou af, as jy 'n padteken sien, probeer om dit te vergeestelik en kyk watter interessante dinge gaan jy besef.

1. Roete-aanwyser: Dit is so 'n blou bord met inligting. Joh 14 : 6 "Jesus het vir hom gesê, Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." As Jesus sê "Ek is die weg", dan bedoel hierdie bord dat Jesus die pad is wat na die Vader lei. Geen ander pad gaan jou daar bring nie. Jesus sê duidelik dat nét hierdie roete jou daar gaan bring. Daar is geen ompad, kortpad, lang pad, snelweg, niks anders wat soontoe lei nie.

2. Parkeer teken
Luk 10 : 38 - 42
38 Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het.
39 Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.
40 Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: "Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!"
41 Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge,
42 maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie."

Soms wil die Here hê ons moet net so bietjie by Sy voete kom sit en rustig raak. Stil word saam met Hom en net Sy teenwoordigheid geniet. Stiltetyd saam met die Here is soos om te parkeer in Sy teenwoordigheid en net Sy teenwoordigheid te geniet.

3. Stilhou verbode. Moenie hier stop nie, nie eers stilhou nie. Hou net verby.

Spr 6 : 24 - 35
24 My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei.
25 Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie.
26 Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos.
27 Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak?
28 Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?
29 Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.
30 'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil,
31 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit.
32 Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe.
33 Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie.
34 Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie;
35 hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.

Sjoe, hierdie waarskuwing is hard. Daar is baie dinge in die Bybel wat die Here nie toelaat nie, soos in Sy wet uiteengesit. Dit is alles waarskuwings wat sê "moenie". Hier lees ons in Spreuke van 'n element van die lewe waarvoor ons so versigtig moet wees. Die boodskap is duidelik: "Moenie".

4. Waarkuwingsteken - Rivieroewer. Ek sien nou die dag so 'n teken met 'n karretjie wat in die water val.

Spr 14 : 12 "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood".

Hieroor kan ons sekerlik vir 'n paar dae praat. Soveel mense wie se lewe op 'n ramp afstuur, maar hulle leef asof hulle dit nie weet nie. Sagte misdaad, wit leuens, ietsie vaslê of vat wat nie joune is nie. Baie dinge wat mense doen wat hulle oënskynlik nie weet verkeerd is nie. Dalk ken jy ook so iemand wat jy sê hierdie persoon gaan nog in die tronk land - of 'n vroeë dood tegemoet gaan. Almal waarsku, maar hulle luister nie, en hulle weet klaarblyklik nie waarheen hulle op pad is nie. 'n Lewenswyse wat reg mag lyk, maar die uiteinde is die dood.

5. Nou ja, die lewe is darem nie net vol swaar goeters nie, nee wat, die Here het ook die lekker vir ons in gedagte. Soek bv dié teken: 

Inligtingsteken - die bruine wat wys daar is 'n restaurant voor.

Pred 2 : 24 - 26a
24 Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is.
25 Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?
26 Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap

En so wys die Here ook vir ons dat Hy die goeie en die lekker van die lewe vir ons bedoel en ons mag dit geniet.

6. Waarskuwing: Oppas vir diere Het jy al so 'n  bord langs die pad gesien wat sê jy moet oppas vir diere?

Spr 12 : 10 "Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed".

So maak die Here ook vir die res van Sy skepping voorsiening.

7. T-aansluiting, Toegeeteken, Geen U-draai, Hobbelpad Die Here weet in alle opsigte wat die beste vir ons is. Soms kom ons by 'n T-aansluiting, dan moet ons keuses maak. Links of regs. Dis die Here wat vir ons die oordeel leer om reg te kies. Dalk sê die toegeeteken vir ons om ons medemense eerste te stel. Draai die ander wang. Geen U-draai sê dat as ons vir die Here gekies het, draai ons nie weer om nie. Hobbelpad voor maak voorsiening daarvoor dat ons soms bietjie gaan swaarkry, maar die Here kry ons daardeur.

8. Padvernouing Hierdie teken herinner ons dat die weg na saligheid 'n smal weg is. Soms bietjie moeilik, maar die uiteinde is salig.

Kom ons gehoorsaam die Here en ons lees die padtekens van die lewe. Dis wat die Here vir ons gee sodat ons  die beste van die lewe kan hê.

As almal gehoorsaam is, is daar geen probleme nie. Dan gee die Here vir ons die LEWE en dit in oorvloed.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)