| 
              
			
			 Rom 
			9:13 Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob 
			het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat. Die besluit van God 
			is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens 
			doen nie, maar van Hom wat jou roep”    
			
			Uitverkiesing is ‘n baie moeilike konsep. Omdat ek 
			dit self nie eintlik verstaan nie, wil ek nie myself hieroor te veel 
			probeer uitlaat nie. Maar, hier in Romeine 9 lees ons ‘n klompie 
			wonderlike gedagtes oor God se raadsplan. Dis ‘n Bybelgedeelte wat 
			baie van ons nie verstaan nie, maar tog is dit ‘n deel waarin God se 
			soewereiniteit so duidelik uitkom. Voordat ons kyk na Rom 9, wil ek 
			jou vra: “Bevraagteken jy ook soms die Here wanneer Hy besluite neem 
			wat ons nie verstaan nie? En in hierdie geval, wanneer Hy besluit om 
			Hom te ontferm oor partye wat ons glo dit nie werd is nie. Of mense 
			wie ons dink nie God se ontferming verdien nie. Het jy al ‘n 
			wenkbrou gelig as iemand in die tronk tot bekering kom? Dan dink 
			mens: Ja, jong, lekker gerieflik – nes jy in die moeilikheid kom wil 
			jy kamtig gou-gou die Here aanneem. Of as ons dink ander 
			bevolkingsgroepe wil in dieselfde heerlikheid as ons deel. So asof 
			ons jaloers is op “ons” hemel. En in die ou dae (en dalk vandag nog..?) 
			ons “wit” hemel.   
			
			Rom 9:1-8, 13-18 
			In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; 
			en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met 
			my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my 
			broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny 
			van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. Hulle is tog 
			Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy 
			heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit 
			en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die 
			beloftes; hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die 
			Christus as mens gebore - Hy wat God is, verhewe bo alles en 
			lofwaardig vir ewig! Amen. Dit wil nie sê dat die woord van God nie 
			meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik 
			Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik 
			kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: "Uit Isak sal 
			daar vir jou 'n nageslag kom." Dit wil sê: Dit is nie die kinders 
			wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God 
			is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore 
			is, wat as Abraham se nageslag gereken word.    
			
			Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog 
			niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: "Die 
			oudste sal die jongste dien." Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob 
			het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat. Die besluit van God 
			is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens 
			doen nie, maar van Hom wat jou roep” Wat moet ons hieruit aflei? Dat 
			God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: "Ek sal 
			barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm 
			oor wie Ek My wil ontferm."  Dit hang dus nie af van 'n mens se wil 
			of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God 
			immers vir die farao: "Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand 
			laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele 
			aarde verkondig kan word."  Dit is dus inderdaad so dat God Hom 
			ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil. 
			   
			
			Lekker moeilike gedeelte, of hoe? Hoe kan ons dan 
			verstaan wie God se kinders kan wees en wie nie?   
			
			Rom 9:19-24 
			Nou sal jy vir my sê: "Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan 
			tog teen sy wil ingaan?" Mens, wie is jy per slot van rekening dat 
			jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: "Waarom 
			het jy my so gemaak?" Het die pottebakker nie die reg om uit 
			dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? 
			En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag 
			bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat 
			reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook 
			die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy 
			ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy 
			heerlikheid deel te hê. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net 
			uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het. 
			 
			
			Nou ja, dis duidelik dat die Here doen wat Hy wil. In 
			Matt 7:14 lees ons “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en 
			die pad daarheen smal, en dié wat dit kry is min”. Nou lyk dit of 
			die siele-oes vir God se koninkryk aan die minderheidskant is. Hoe 
			werk dit dan? As dit lyk of God dan vooraf al die besluit geneem het 
			wie Hy wil red, hoe weet ek of ek deel is? Jy onthou mos hoe ons 
			geglo het toe ons jonk was: regte velkleur, regte kerk, en daar gaat 
			jy! Vir my was dit so half ‘n uitgemaakte saak. Dan is daar weer 
			ander wat sê: nee, jy doen nie reg nie, onderhou nie die wet nie, en 
			leef nie nougeset genoeg nie, en daarom sal julle dit nie maak nie. 
			Dit lyk dan boonop vir my God doen wat Hy wil. Is dit so? Of is daar 
			iets wat ons miskyk? Een groep soek saligheid, maar kry dit nie. ‘n 
			Ander groep wil dit verdien, maar kry nie genoeg gedoen nie, en God 
			besluit wat Hy wil doen … waar los dit ons?   
			
			Rom 9:25 
			So sê Hy dan ook in die boek Hosea: "Hulle wat nie my volk is 
			nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang 
			het nie, om my geliefde te wees."   
			
			Wie kies Hy toe?   
			
			Rom 9:30-33 
			Wat is nou ons gevolgtrekking? Dít: heidene het nie God se vryspraak 
			gesoek nie, maar dit wel gekry - die vryspraak deur die geloof. 
			Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se 
			vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie. 
			Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die 
			geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die 
			struikelblok gestruikel waarvan daar geskrywe staan: "Kyk, Ek sit in 
			Sion 'n klip neer waaroor 'n mens struikel, 'n rots waarteen jy jou 
			stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie."  
			 
			
			Die Israeliete soek vir hulle ‘n wet wat goed genoeg 
			is, en kry dit nie. Die Heidene, daarenteen, soek nie ‘n wet nie, 
			probeer nie om dit te verdien nie, maak nie staat op hulle eie 
			prestasies nie (vers 32), en kry die vryspraak deur geloof in 
			Christus. Die heidene was die groep onder wie Paulus die meeste van 
			sy werk gedoen het. Hulle kry dit, sonder verdienste, want hulle 
			snap toe wat genade beteken. Die Israeliete aan die anderkant soek 
			‘n wet. Die Jode soek nou nog ‘n wet. Jy sien, die wet hang af van 
			jou eie prestasies. Die Fariseërs, wat hierdie afgryslike, 
			ondraaglike laste op die mense gepak het, het die vreemdste rituele 
			probeer nakom, maar hulle kon dit nie maak nie. Kyk wat sê vers 33: 
			“Ek sit in Sion ‘n klip neer, waaroor ‘n mens struikel, ‘n rots 
			waarteen jy jou stamp …” Daardie rots is Jesus Christus. Hy is dáár, 
			vir party is Hy ‘n rots, vir ander ‘n struikelblok. Maar Hy is altyd 
			daar. As Hy vir jou ‘n aanstoot is, sal jy teen Hom stamp, en oor 
			Hom struikel. Iets wat jou aanhoudend sal konfronteer, altyd in die 
			pad. Maar … as jy kies, word die struikelblok ‘n rots; ‘n anker, 
			standvastig, ‘n steunpilaar. Altyd daar. Of in die pad, of iets wat 
			jou hoop sal gee.   
			
			Rom 9:33(b) “.. maar wie in Hom glo, sal nie 
			teleurgestel word nie”. Belofte! Nou wat nou van hierdie 
			Israeliete? Hierdie volk. Uitverkies of verlore? Ek dink ons moet 
			volk en individu van mekaar skei.  Kyk hoe persoonlik raak dit in 
			Rom 10:10-13: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en 
			met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: "Niemand 
			wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." "Niemand nie!" Dit maak 
			dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want 
			dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, 
			ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered 
			word.    
			
			Jood of Griek, swart of wit, Amerikaner of Afrikaner 
			– almal kwalifiseer, solank jy nie ‘n wet soek wat dit vir jou kan 
			doen nie. Nou, as iemand dan nog ‘n wet soek, en dis iemand wat jy 
			ken, is dit dalk tyd om vir daardie persoon reg te help. Dalk het jy 
			so ‘n stukkie sendingveld by die huis, of by die werk, of daar op 
			die golfbaan …   
			
			Rom 10:14-15 
			Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe 
			kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy 
			van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy 
			nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink 
			die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring."   
			 
			
			Dit gee vir ons elkeen ‘n opdrag om te gaan vertel – 
			gaan sê vir hulle dis nét geloof.   
			
			Rom 10:20(b) 
			"Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het 
			verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie."  
			 
			…. Rots of struikelblok?  
			   |