SATAN - DIE VERSOEKING IN DIE WOESTYN


Wie is hierdie kalant wat soveel vrees inboesem? Wat is sy strategie?

Matt 4 : 1 - 11 " Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word. 4 Maar Hy antwoord: Daar staan geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom. 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. 7 Jesus sê vir hom: Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. 8 Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid. 10 Maar Jesus sê vir hom: Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg."

Dit is ’n baie interessante verhaal wat hom hier afspeel. Dis nie 'n storietjie nie, dit het regtig gebeur. Ons weet die satan is uit die hemel gewerp met 'n klomp van die engele en hier is hy besig om sy truuks op Jesus uit te haal. Ek wil van hierdie gebeure op ons van toepassing maak, want alles wat Satan op Jesus probeer het, probeer hy op ons ook. Voor ek na 'n klompie van hierdie punte kyk, net 'n paar interessante goed wat ek hier raaklees:

Vers 1: Toe is Jesus deur die Gees (hoofletter, Heilige Gees) die woestyn ingelei. LW. Dit was met die volle goedkeuring van God dat dit plaasgevind het. En die gedeelte eindig in vers 13 met, "die engele het Hom kom versorg". God die Vader het nooit vir Jesus verlaat nie, maar Hy het dit toegelaat.

Satan se strategie. En hy is so arrogant om by Jesus te begin. Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie. Hoekom nie? Omdat hy niks gehad het nie? Ek glo nie. Want toe was die duiwel nog nie by Hom nie. Waarskynlik eerder omdat Hy in daardie tyd gevas het. Om te vas beteken om jouself aan God af te sonder. Daar staan: "Die versoeker het toe gekom." Dus na veertig dae, toe Hy begin honger word het. "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." Hier probeer hy vir Jesus tot op die been toets. Toe Hy honger word, kom probeer hy om vir Jesus te verlei met iets wat Hy baie nodig het. En Jesus sê: "'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom." Kan jy sien dat die duiwel self Jesus se wonderwerkende krag erken, en dit wil gebruik om Hom te verlei? Net so kom die duiwel vandag na my en jou toe met kennis, en insig, maar hy verdraai dit so dat ons daarvoor val. En soos wat hy vir Jesus probeer onderkry toe Hy honger was, doen hy dieselfde met ons. Hy gebruik ons swak punte, of kom na ons op tye wat ons kwesbaar is. Neem net hierdie bietjie geld daar by die werk, jy gaan dit mos die einde van die maand terugsit. Dit word leen genoem, maar dis diefstal. OF: Hoe kan liefde verkeerd wees, dis dan absoluut 'n goddelike beginsel. Jy raak betrokke in 'n buite-egtelike verhouding, want jy is kwansuis nie meer lief vir jou vrou nie, sy verstaan jou nie meer nie; of iets soos, ek het nie gevra dat dit gebeur nie. O ja, jy het. Dit word liefde genoem, maar dis eintlik wellus.

Die Satan word die verleier genoem. En dis presies wat dit is. Soos 'n suikerlagie om 'n bitter pil. Pilletjie proe lekker, tot die suiker weg is.

Satan neem vir Jesus na die tempel toe en sê: "spring dan af." Verse 5 - 7. Kan jy sien dat Satan die skrif ken. Wat hy sê, is heeltemal waar. Maar hy haal dit net uit konteks uit. En dan sê Jesus iets wat ek en jy vir onsself kan neem. Daar staan óók geskrywe. Die duiwel kom en misbruik skrifgedeeltes om hom te pas. Iets soos "Jy hoef net te glo, en niks te doen nie". Jakobus sê, sonder dade is die geloof dood. Ons moet seker maak dat ons die hele Bybel lees en leef. Ons wil so graag hoor wat God in Sy liefde doen - en dis reg so - maar ons wil nie hoor van Sy opdragte nie. Jesus noem dit: "Jy mag nie die Here jou God op die proef stel nie." Ons hoef nie Sy beloftes te toets nie. Ongelukkig doen ons dit dikwels net vir ons eie gewin.

Die volgende versoeking waarvan ons lees in vers 8 en 9, is 'n baie sterk toets. Kyk wat doen die duiwel, hy bied vir Jesus iets aan wat reeds aan Hom behoort. Alles behoort in elk geval aan God. Satan probeer as't ware vir Jesus met materialisme omkoop. Die wêreld met al sy prag. Val neer en aanbid my, dan is alles U s’n. Net so kom Satan na my en jou toe en sê: Jy kan alles kry, op 'n skinkbord, moet net nie meer vir Jesus aanbid en dien nie. 'n Mens kan nie God en Mammon dien nie. Satan se leuens laat dit alles so aanloklik lyk. So maak die duiwel ook met God se verlossingsplan. Hy probeer iets aanbied wat so reg lyk. Al sê die Bybel iets pertinent, probeer hy vir jou sê "Dis nie so erg nie", of "nee wat, die Bybel word eintlik net verkeerd geïnterpreteer". Dan bied hy vir jou iets aan wat hy nie eers besit nie. Hy probeer selfs  'n weg tot saligheid bied; wat hy beslis nie het nie.

Ons lees hoedat Jesus hom net wegjaag. "Gaan weg Satan, die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien". Net een God, net een verlossingsplan, net een Messias. Ek en jy het ook die mag om te sê, "gaan weg, Satan. Ek dien die Here."

Sê nou Jesus het net op een ding toegegee, dan sou Sy hele Goddelikheid daarmee heen wees. Sy integriteit sou weg wees. Satan wou Jesus uitdaag om Sy Goddelikheid te bewys, terwyl dit reeds vas gestaan het. Hy wou Hom iets voer toe Hy swak was. Hy wou vir Hom iets gee wat Hy reeds besit het. En Jesus jaag hom net weg. As ek en jy vandag sukkel met sonde, dan lees ek vir jou …

Hebr 4 : 15 - 16. " Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."

Hy was totaal mens en is aan baie versoekinge onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Dis omdat Hy kon vasstaan, dat Hy aan die kruis kon uitroep: "Dit is volbring". Volmaak God, asof Hy nooit mens was nie, volmaak mens asof Hy nooit God was nie. Die volmaakte God vir die volmaakte mens. As Jesus toegegee het aan een ding, sou Sy hele verlossingsplan daarmee heen gewees het, want dan het Hy voor 'n ander god die knie gebuig. Ek en jy is nie volmaak nie, maar as ons die oog net op Jesus gerig hou, sal ons ook kan uitroep: "Gaan weg Satan, ek het gekies om net Een God te dien. En as jy vir my iets aanbied wat jy nie besit nie, beteken dit dat jy dit iewers probeer steel. Ek hoef nie hierdie gesteelde goed te vat nie, want ek is 'n mede-erfgenaam van Jesus." As Satan jou probeer onderkry met slim stories, ja, selfs die Bybel, lees net verder. Daar staan ook geskrywe ………..

Die verleier gaan jou probeer vang met 'n slap riem, maar lees en ken God se Woord.

Maar ons, ons dien die Here.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)