Hoe
praat mens oor iets wat die slegste moontlike entiteit op aarde is?
Dié party wat die meeste vernietiging denkbaar saai, wat die bron
van álles is wat onvolmaak is, wat absoluut niks goed bevat nie…
mens kan dalk wonder hoekom mens hoegenaamd oor só iets wil praat.
Wel, as mens jou vyand se strategie ken, sy sterkpunte en swakhede,
kan jy seker enige situasie waar dié een is beter hanteer.
Wat noem die Bybel hom? Die aanklaer, die bose, die
god van hierdie wêreld, dier uit die see, dier uit die aarde, draak,
duiwel, moordenaar, owerste van hierdie wêreld, slang van ouds,
vader van die leuen, verleier, versoeker, vors van hierdie wêreld,
vors van die onsigbare magte. Sy naam? Satan. Dis ’n lelike naam,
klink soos ’n vloekwoord, die naam hou verskrikking in! Hy is vyand
nommer 1. Nou ja, ek hou nie daarvan om oor hom te praat nie en ek
verwys selde na hom; ek is nie bang vir hom nie, en verkies om
geensins eer aan hom te gee nie.
Wel, so sleg as wat die kalant is, verkies ek
gewoonlik om my te distansieer van praatjies waar hy die skuld gegee
word vir alles wat sleg is. Die volgende hoor mens gereeld: Satan
het my sonde laat doen; hy het my gekeer om dit of dat te doen; hy
het gemaak dat my wekker nie afgaan nie, toe verslaap ek; hy het in
die klankstelsel by die kerk ingevaar; hy het my kar laat breek op
pad na ‘n goeie geleentheid toe. Soms wonder ek: dis darem maklik om
iemand die skuld te gee vir my eie swakhede, of wanneer ek dinge
nalaat, ens. Karre breek maar, weet jy? Klankstelsels ook – die goed
raak oud, en kan onklaar raak op ongeleë tye. En verslaap? Party
mense verslaap gereeld in die naam van die bose. Sonde? Nee, as ek
besluit om sonde te doen, kan ek dit nie eers voor sy deur gaan lê
nie. Dis ‘n keuse. Die feit dat sonde so aan ons vaskleef, is ons
eie keuse.
Openb 12:7-9
Daar het toe oorlog gekom in die hemel:
Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy
engele het oorlog gevoer, maar hulle is verslaan. In die hemel was
daar geen spoor meer van hulle te vind nie, want die groot draak,
die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat
die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die
aarde gegooi en sy engele saam met hom.
2 Pet 2:4
God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy
het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis
gevange gehou te word vir die oordeel.
Sien, dis laaankal wat hierdie ou met sy streke besig
is. Hy was ‘n engel, van alle dinge! In die hemel begin hy met sy
truuks, en verloor sy hemelse tuiste. Onthou, Jesus was nog altyd
daar – alles is deur Hom en vir Hom geskep. Toe Satan die stryd
verloor, het hy verseker nie vir hom ‘n pizza-oond gaan bou om hom
en sy vriende warm te broei nie. Nee, TOE breek daar oorlog uit.
Selfs ook toe Jesus op aarde met sy openbare bediening begin, was
Satan heel eerste by.
Matt 4:1-11
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die
duiwel versoek te word. Veertig dae en veertig nagte het Hy niks
geëet nie en naderhand het Hy honger geword. Die versoeker het toe
gekom en vir Hom gesê: "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe
moet brood word." Maar Hy antwoord: "Daar staan geskrywe: 'n Mens
leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van
God kom. Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat
Hom op die hoogste punt van die tempel staan en sê vir Hom: "As U
die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy
engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. Jesus sê vir hom:
"Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef
stel nie. Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom
al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: "Dit
alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid." Maar Jesus sê vir
hom: "Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God
moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom met rus
gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.
Vers 8: “Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë
berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en
sê vir Hom: "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid."”
– Satan is só arrogant dat hy selfs iets vir Jesus aanbied wat
nie eens aan hom behoort nie.
Openb 12:9 praat van die slang van ouds. In Genesis
IN die paradys was hy teenwoordig. Verstommend waar hy dit waag om
sy kop uit te steek, nè? Skrik vir niks.
Vandag is die Satan verseker ook baie aktief. Daar is
een ding wat ons goed moet weet: hy háát jou. Met alles wat in hom
is. Hy haat die Here, hy haat elke Christen, en hy haat selfs elke
Satanis wat op hierdie aarde loop. Nogal jammer Sataniste verstaan
dit nie. En dis nogal baie keer só dat mense wat nooit liefde ervaar
nie, hulle toevlug neem tot iemand wat hulle meer haat as enige
iemand anders.
Wat doen hy vandag?
-
Volgens 1 Joh 5:19
beheer hy die sondige wêreld. Daar staan “Ons weet dat ons
aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van
die duiwel is” . Wel, onder wie se beheer is jy? Net een van
2: of jy behoort aan God, of aan die Satan. Dis wat hierdie deel
sê. Lyk my daar is niks tussen-in nie.
-
Hy probeer om die
saad (die Woord) wat in mense se harte gesaai word, weg te vat.
Matt 13:19: “Die bose kom by elkeen wat die woord van die
Koninkryk hoor, maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in
sy hart gesaai is”. Dis nogal erg, nè? Dis hoekom selfs
hooggeleerdes soms die pad byster raak.
-
Hy smag om aanbid
te word. Matt 4:9: “En hy sê vir Hom, dit alles sal ek vir U
gee, as U neerval en my aanbid”. Jesus het nie vir sy truuks
geval nie, en jy en ek hoef ook nie.
-
Hy probeer
daagliks om ons te oorrompel. 2 Kor 2:11: “Die Satan moet nie
die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed”
Sien jy? Hy is besig … dag en nag.
Nou waar los dit ons dan?
-
Met Jesus by jou,
hoef jy NIKS te vrees nie. 1 Joh 3:8: “En die Seun van God
het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak”.
Verstaan jy dat die werk van Satan tot niet gemaak is, al is ons
nog sondige wesens? Want juis omdat ons nie volmaak kan wees nie,
het Jesus Satan se werk tot niet kom maak.
-
Joh 12:31: “Nou
kom die oordeel oor hierdie wêreld, nou sal die owerste van
hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe”. Hier praat Jesus
oor Sy kruisiging. Die kruisiging wat Satan moontlik gedink het
is die finale spyker in sy vyand (Jesus) se doodskis. Maar, hy
het nie rekening gehou met Jesus se opstanding en hemelvaart nie.
Kan jy sien waarom geen wedergebore Christen die opstanding en
hemelvaart in twyfel trek nie? Dis deel van die kern van ons
geloof. Net ‘n wedergebore, nuutgemaakte mens verstaan dit. En
daarom, as hooggeleerdes dit in twyfel trek, en as waarheid
verkondig, praat hulle nie uit Jesus se mond nie.
-
Die finale
oorwinningstrompet blaas vir jou en my. Rom 16:20:
“God wat vrede gee, sal die Satan
spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here
Jesus is by julle”
Sien jy? Geen vrees is nodig. Geen knie-buig voor hom
nie. Hy is klaar oorwin. Jesus sê: “Tetelestai”
|