Dink
bietjie saam met my aan 'n aflos resies. 'n Paar persone wat aan
dieselfde wedren deelneem, wat 'n aflosstokkie van die een na die
ander aangee, en uiteindelik, as die laaste persoon oor die
wenstreep hardloop, wen die hele span - nie net die laaste een nie.
Die stokkie gaan van die een persoon na die ander, wissel 'n paar
keer hande, en almal wen. Ek wil hierdie wedren vergelyk met 'n
lewenswedren waar die pa die stokkie oorgee aan sy seun.
In die Ou Testament (veral in Genesis) lees ons dat
die pa sy seuns geseën het. In Genesis word daar dan ook baie klem
gelê op die seën wat uitgespreek word op die eersgeborene. Hierdie "seën"
was baie, baie meer as om net 'n "blessing" op iemand uit te spreek
('n handeling wat ons vandag redelik maklik met ons geestelike
vriende doen). Die seën was om die familiewaardes oor te dra, die
"gees" van die familie. Die pa (wat 'n patriarg was) het sy stempel,
sy gesag oorgedra aan die volgende geslag. Die man het 'n baie sterk
rol in die familie gespeel en was ook die middelpunt waarom alles
gedraai het. Vandag egter, is die pa meer en meer afwesig, en die ma
neem die rol van die pa oor en probeer om die familiewaardes by die
kinders te vestig, en dan uiteindelik die seun uit te stuur in die
wêreld in. Die pa gee dus nie meer die aflosstokkie aan nie, maar
die ma.
Wat dra ons oor? Wat is vandag op daardie
aflosstokkie geskryf?
Gen 25:29-34: Op 'n dag
terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die
veld daar aan en sê vir Jakob: "Laat my gou van die rooi goed
wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!" Daarom is hy Edom
genoem. Toe sê Jakob vir hom: "Verkoop eers jou reg as eersgeborene
aan my." Esau het geantwoord: "Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om
die eersgeborene te wees?" Jakob sê toe vir hom: "Beloof my nou met
'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak." Esau het dit
gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. Daarna het hy
vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar
was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as
eersgeborene.
Hier lees ons hoedat Esau sy eersgeboortereg vir 'n
pot sop verruil het aan Jakob. Esau verstaan nie dat hý die
aflosstokkie moes aanvat nie, en hy betaal 'n geweldige duur prys
daarvoor.
In Gen 27 lees ons hoe Rebekka en Jakob vir Isak
verkul, en Jakob word in die plek van Esau geseën. Hier tref dit vir
Esau tussen die oë en hy pleit by sy pa dat hy ook geseën word.
Gen 27:36-38: Esau het
geantwoord: "Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer
bedrieg Toe vra Esau: "Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?" Isak
het vir hom gesê: "Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers
en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van
koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my
seun." Esau het toe vir sy pa gesê: "Pa, het Pa dan net een seën?
Seën my tog ook, Pa!" Toe Esau daarna begin huil ..
Het pa nie vir my ook 'n seën nie? … en so verbeur
Esau sy seën, sonder dat dit sy pa se skuld was. Wat se seën dra ek
en jy aan ons kinders oor? Besef ek en jy as pa regtig watter rol
ons in ons gesinne se lewens speel?
In Matt 1 en Lukas 3 lees ons die geslagsregister van
Jesus. Matt 1:1 begin met Abraham, en dan eindig dit in vers 16:
"Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is
Jesus, wat Christus genoem word". Is jy dalk effens verras om
dit te lees? Ons sê Jesus is uit die geslag van Dawid gebore, maar
die geslagsregister eindig by Josef, wie nie Jesus se biologiese pa
was nie. Is hier nie iets fout nie? Jy sien, God wil hê die stokkie
moet aangegee word, en dalk was hierdie die meganisme wat God
gebruik het.
In Gen 49:1-28 lees ons hoedat Jakob sy seuns seën,
hoewel party daarvan soos 'n vloek klink! Kyk bv vers 3-5:
Ruben, jy is die oudste, toonbeeld van my krag, gebore toe ek in my
fleur was; jy is die vernaamste, die sterkste. Maar jy sal nie
langer die vernaamste wees nie, want soos stormwater was jy
onstuimig: jy het jou vergryp aan 'n vrou van jou vader, jy het my
bed verontreinig toe jy daarin geklim het. Simeon en Levi is die een
soos die ander: altyd gereed vir geweld.
Vir Josef is daar 'n baie spesiale seën (en hy was
nie eens die oudste nie). Vers 22-26: Josef
is 'n boom wat vrugte dra, 'n vrugteboom by die fontein, sy takke
groei oor die omheining. Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan,
hulle is baie en hulle is sy vyande. Maar hulle boog misluk elke
keer, hulle sterk arms bewe, want die magtige God van Jakob gryp in,
die Rots van Israel beskerm hom. Die God van jou vader sal jou help,
Josef, die Almagtige sal jou seën, Hy seën jou met reën uit die
hemel, met water diep onder die grond uit, met moeders wat hulle
kinders voed, met baie kinders. Die seëninge wat jou vader gegee
het, is sterk, sterker as dié van die ou-ou berge, as die
kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is.
Watter seën het ons vandag vir ons seuns? Besef ek en
jy wat ons oordra? Hoekom soveel klem op die seun en nie die dogter
nie? Vir my lê die antwoord in Gen 2:24: "Daarom sal 'n man sy pa
en pa verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word".
Die man se hoofrol is dié van hoof van sy huis (ja, mevrou, die Here
sê so), in die huwelik (as hy getroud is met 'n vrou, met die opdrag
om 'n nageslag te bou wat God sal eer). Maleagi 2:15: "Die Here
het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een?
Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag moet wees wat Hom eer". Ek
dink nie ons besef altyd die verantwoordelikheid van man-wees en pa-wees
nie! Wat bou ons in ons seuns se lewens in? Hoe lyk die stokkie wat
ons oorgee?
Seën jou seun. Dit klink eenvoudig, maar hoe doen ek
dit?
1) Deur in 'n gesonde verhouding met hom te staan,
sodat daar 'n punt kan kom dat hy die aflosstokkie WIL aanvat. Ja,
so 'n jongman is vol draadwerk. Hy laat jou verstaan dat hy groot
is, maar hy laat kort-kort die stokkie val. Maar hou maar aan om dit
aan te gee.
2) Leer hom van kleins af van manwees, van verantwoordelikhede, en
bo alles, leer hom van God. Hy moet verstaan dat hy die volgende
geslag se hoof is.
3) Maak hom betyds los en gee die stokkie betyds oor, sodat hy nie
parasiteer nie, en jy later die verantwoordelikheid van twee
geslagte moet dra nie.
4) Gee 'n skoon stokkie oor. Moenie dat enige gemors van jou geslag
oorgaan na syne toe nie. Drink jy te veel, dan gaan hy ook te veel
drink. Slaan jy sy ma, dan gaan hy ook sy vrou slaan, Leef jy 'n
standvastige lewe, dan sal hy ook. Leef jy goeie waardes uit, dan is
dit wat hy sal leef, en na die volgende geslag oordra.
5) Leer hom dat 'n man 'n mens is. Net mens. Laat hom verstaan dat
mans ook emosies het, en ook sukkel met spanning, en met
teleurstellings. Leer hom dat man-wees verseker nie volmaak-wees
beteken nie.
Seën jou seun, dra die geslag oor in bekwame hande.
Probeer om die slegte uit te sif, sodat daar 'n nageslag kan wees
wat God eer.
|