SIMON PETRUS


Dissipels, die manne wat deur Jesus geroep is om Sy boodskap op aarde te verkondig, was 'n spesiale groepie ouens wat Jesus een vir een gekies het. Vandag wil ek stilstaan by Petrus. Simon Petrus. Simon die seun van Johannes. Ek wil stilstaan by Petrus se storie net so voor Jesus se hemelvaart. Ons lees:

Joh 21 : 15 - 19 Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier? Ja, Here, antwoord hy Hom, U weet dat ek U liefhet. Hy sê toe vir hom: Laat my lammers wei. 16 Jesus vra hom weer 'n tweede keer: Simon seun van Johannes, het jy My baie lief? Ja, Here, antwoord hy Hom, U weet dat ek U liefhet. Hy sê toe vir hom: Pas my skape op. 17 Jesus vra hom die derde keer: Simon seun van Johannes, het jy My lief? Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: Het jy My lief?, en hy antwoord Hom: Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet. Hy sê toe vir hom: Laat my skape wei. 18 Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie. 19 Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: Volg My!

Petrus, oftewel Simon, seun van Johannes. "Het jy My waarlik lief?" Wat 'n vraag - drie maal vra Jesus vir Petrus: het jy My waarlik lief? "Meer as hulle hier?" Jesus vra hierdie vraag vir Petrus totdat hy eintlik bedroef word. Dit lyk vir my Jesus het 'n baie besondere bedoeling gehad met hierdie vraag.

Petrus, het jy My waarlik lief? Om hierdie gebeurtenis in perspektief te sien, moet ons eers so bietjie teruggaan in tyd. Joh 13 : 37 "Petrus sê vir Hom:- Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê."

Baie dapper woorde. Jesus antwoord hom:- "Sal jy jou lewe vir My aflê? Dit verseker Ek jou, nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën". Jesus het geweet wat kom en vir Petrus gewaarsku. Jy gaan My verloën. Nou vra Jesus in Joh 21 "Het jy My waarlik lief?" Ons lees nie dat Jesus na Sy opstanding met Petrus in gesprek was oor hierdie saak nie. Jesus vra hom drie keer dieselfde vraag, en Petrus raak bedroef. "Here, U weet dat ek U liefhet! Miskien het Petrus by homself gedink: "Hoekom vra Hy dit so baie, het Hy my dan nie vergewe nie? Dan sou Jesus seker sê: "Nee Petrus, ek het net die volgende dag gesterf vir daardie oortreding." Jy sien, Jesus is besig met iets anders hier. Die opskrif van hierdie gedeelte in Johannes is: "Petrus kry opnuut sy opdrag". Jesus is besig om vir Petrus opnuut in te stel in sy amp as apostel. Jesus maak vir Petrus gereed vir groot dinge, ja, selfs vir sy dood (- vers 19).

Met hierdie vraag gee Jesus vir Petrus 'n baie groot opdrag: "Laat My lammers wei, pas My skape op, laat My skape wei". Wat is die opdrag wat Petrus verloor het? Dit wat Jesus vir hom bedoel het.

Matt 16 : 17 - 19 Gelukkig is jy, Simon Barjona, het Jesus vir hom gesê, want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18 En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Die rots op wie Ek My kerk sal bou! Verstaan jy nou hoekom Jesus wil weet of Petrus regtig vir Hom lief is? Jesus vra nie vir hom: Petrus, glo jy in My, of Petrus, gaan jy gereeld kerk toe, Petrus, lees jy jou Bybel, hou jy stiltetyd, praat jy met mense oor My? Nee, Hy vra: “Petrus, het jy My waarlik lief? Jy sien, Petrus, as Ek jou uitstuur om My lammers te laat wei, wil Ek net een ding hê en dit is jou onvoorwaardelike liefde! Dan kan Ek jou gebruik. Dan kan ek jou vertrou om My skape op te pas. Ek hou nie jou foutjie teen jou nie, Petrus, jy is vergewe. Wees net lief vir My, meer as hulle hier. Ek verwag nie 'n volmaakte wese in jou nie, Petrus, wees lief vir My. Want Ek is lief vir jou, net soos jy is!” Wil jy nie vandag jou naam in die plek van Simon Petrus sit nie? Willem, het jy my waarlik lief? Linda, Sean, Gerhard, Pieter, het jy My waarlik lief? Dan kan Ek jou gebruik!

Wat beteken hierdie vraag vir jou en my? 1 Joh 5 : 3 (Boodskap) sê: "Om God lief te hê, beteken om Sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer".

Dis wat die Here van ons verwag. As die Here vir Petrus die vraag vra, gee Hy ook 'n opdrag. "Pas My skape op, laat My lammers wei". As ons waarlik kan sê: "Jesus, ek is lief vir U", dan kry ons hierdie opdrag. Wat beteken dit? Om die opdragte van Jesus uit te voer. Versorg My kudde, vertel hulle van My verlossingswerk. Versorg die armes onder julle. Dien mekaar met liefde. Hierdie liefde wat ons vir Jesus het, moet ons aan ander gaan betoon. My vriend, ons leef in 'n stukkende wêreld. Miskien is jy die enigste Bybel wat iemand vandag gaan lees. As ander nie vir Jesus in ons lewens raaksien nie, hoe gaan hulle weet van Jesus se liefde? Jesus berei selfs vir Petrus voor vir die dood wat hy sal sterf. Miskien het ek en jy nie so 'n radikale pad voor ons nie, ons moet net dit wat oor ons pad kom, hanteer. Vandag. Jesus het 'n plan met ons wat Sy kinders is. Die voorwaarde is egter. "Het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?"
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)