Rigters
13:1-5
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die
Here, en Hy het hulle veertig jaar lank oorgegee in die mag van die
Filistyne. Daar was 'n man uit Sora uit die stam van Dan. Sy naam
was Manoag. Sy vrou was kinderloos. Die Engel van die Here het aan
haar verskyn en vir haar gesê: “Jy is nou kinderloos, maar jy sal
swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Jy moet jouself goed
oppas en nie wyn of bier drink nie en ook nie iets onreins eet nie.
Trouens, jy is reeds swanger en jy sal 'n seun in die wêreld bring.
Sy hare mag nie geskeer word nie, want die kind sal van sy geboorte
af aan God gewy wees. Hy sal die Israeliete begin red uit die mag
van die Filistyne.”
Die geboorte van Simson. ‘n Sterk ou, ‘n kragman, ‘n
man wat voor sy geboorte reeds ‘n doel gehad het, nl. om die
Israeliete uit die mag van die Filistyne te bevry. Eintlik is
hierdie ‘n verstommende verhaal wat hom afspeel van Rigters 13 tot
17.
Ek dink as ek jou sou vra oor Simson se verhaal, sal
jy dalk ook die hooftrekke as volg kon opnoem:
-
Simson het lang hare gehad
-
Hy
het ‘n Filistynse vrou gehad
-
Hy
het ‘n leeu kaalhand verskeur
-
Hy
het ‘n duisend Filistyne met ‘n donkie kakebeen doodgeslaan
-
Hy
het heuning uit ‘n leeu karkas geëet
-
Hy
het driehonderd jakkalse gevang en hulle sterte aanmekaar
vasgemaak.
-
Hy
is deur Delila verlei om die geheim van sy krag te verklap
-
Hy
is gevang, sy oë is uitgesteek en hy het die tempel inmekaar
laat tuimel bo-op 3000 Filistyne
... laat mens amper dink aan die liedjie: Jan, Jan,
die Bielie van die Bosveld! In Amerika sal hulle waarskynlik sê hy
was amper so sterk soos Chuck Norris, of in die Ooste soos Jackie
Chan. Of in Suid-Afrika soos Vernon Koekemoer... As Simson hom
vererg het, moes daai Filistyne bontstaan. Dit klink soos die een of
ander wrede karakter wat alles voor hom sou platvee as hy kwaad
geword het. Ek sê jou, as Simson aangekom het, het die ouens op die
anderkantste sypaadjie gaan loop.
Wilde karakter, maar Simson was ‘n man van God.
Rigters 13:1 sê: Die Israeliete het verkeerd gedoen, en is in die
mag van die Filistyne oorgegee – deur God. Rigters 13:7 ... want die
kind sal van sy geboorte aan God gewy wees; vers 5: Sy hare mag nie
geskeer word nie, en dan die kerngedeelte: Hy sal die Israeliete
begin red uit die mag van die Filistyne.
Rigters 13:24
Die vrou het 'n seun in die wêreld gebring en sy het hom Simson
genoem. Die kind het groot geword en die Here het hom geseën.
Een mens, met sewe lokke, met ongelooflike krag, aan
God gewy voor sy geboorte, met sy krag wat in sy hare sit. ‘n
Israeliet wat met ‘n Filistynse meisie wou trou. Sy ouers was
daarteen gekant; hulle het egter nie besef dat God aan die werk was
nie.
Rigters 14:4 Sy ouers het nie besef dat dit alles
van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid skep om die
Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers.
Werk God nie soms op misterieuse maniere nie? Hy wou
die Filistyne straf en sou Simson daarvoor gebruik. Simson was God
se “oorlogsmasjien”, een wat deur God voorberei is om die Filistyne
uit te roei.... hy is opgeroep vir ‘n bepaalde taak.
Ongelukkig verloor Simson sy krag omdat hy toegegee
het aan die geneul van sy Filistynse vrou. Gaan lees gerus in
Rigters 6 hoedat hy tot ‘n val kom. Dit klink amper soos Jakob en
Esau. Esau gee in ‘n swak oomblik sy eersgeboortereg prys vir ‘n pot
lekker lensie sop; Simson gee sy lewe prys omdat hy nie hakke
ingekap het toe sy Filistynse vrou nie kon ophou “nag” nie. Die hele
verhaal word in Rigters 16 vertel hoe sy by hom aanhou neul het oor
die bron van sy krag en elke keer jok hy vir haar. Maar tog –
uiteindelik gee hy in met die waarheid. Nou wonder ek: hoekom is sy
krag in sy hare? Ek weet nie, maar miskien is dit omdat God dit in
iets tasbaar gesit het, wat dan van Simson gehoorsaamheid sou vra.
Onthou, God het Simson gekies om die Filistyne te straf, en Hy het
vir Simson tussen hulle ingestuur (amper soos ‘n “spy” in ‘n
007-fliek wat die vyand infiltreer). Simson se taak is afgehandel
toe 3000 Filistyne sterf, en hy sáám met hulle sterf. Daar is meer
Filistyne by hierdie geleentheid dood as in enige van die vorige
insidente.
Waar lê JOU krag? O ja? Jy dink jy het nie krag nie?
Kom ons kyk na ’n paar lesse wat daar in Simson se verhaal is vir
jou en my:
-
Net soos Simson is
jy met ‘n doel geskep, nog voor jou geboorte. Jy het ‘n taak,
dalk baie take; daar kan dalk selfs party wees waarvan jy nog
glad nie eens weet nie.
-
Ons almal se krag
lê nie in dieselfde plekke nie. Simson se krag was fisies, maar
miskien is joune in
- Liefde: jy het dalk die vermoë om met liefde ‘n
verskil te maak. Dalk moet jy ook plekke infiltreer om liefde daar
te gaan saai.
- Persoonlikheid: Hetsy jy ‘n sagte mens is, of ‘n
sterk persoonlikheid het, dit kan vir jou soos Simson se haarlokke
wees.
- Leierskap: Dalk lê jou sterkte in jou vermoë om
mense te kry om jou te volg, sonder dat jy hulle hoef te vra om dit
te doen.
- Wysheid, kennis en begrip vir situasies;
mensekennis of jou onderskeidingsvermoë kan alles ook die bron wees
van jou buitengewone krag wat God kan gebruik om Sy doel te bereik.
Jy hét ‘n Simson-haredos – ‘n ingeboude krag. Simson
het toegelaat dat sy haredos afgesny word, en sodoende het hy sy
krag verloor. Waar verloor jy jou krag? Wat laat jy toe om jou
kragteloos te maak? Wie is dit wat jou Simson-haredos afsny, sodat
God jou nie meer kan gebruik nie?
Simson hét uiteindelik sy taak afgehandel, maar moes
daarvoor sterf. Rigters 16:22 – sy hare wat afgeskeer was, het weer
begin groei, en hy het die Filistyne oorwin. Jy kan ook wen. Vat jou
krag terug – jy IS deur God gekies vir ‘n bepaalde taak en doel.
|