| 
			
  Daar 
			is ‘n spreekwoord wat sê: “Spyt kom altyd te laat”, en hoe waar is 
			dit nie! Dalk het jy ook al iets aangevang wat jy nie moes nie, en 
			dan was jy later spyt, veral as jy niks aan die uitkoms en nadraai 
			van jou dade kan verander nie. Soos Judas. Hy verraai vir Jesus vir 
			30 silwer stukke, en toe hy besef wat hy aangevang het, gaan gooi hy 
			die geld terug vir die priesterhoofde. Judas was nou maar eenmaal 
			lief vir geld en hy het selfs die beursie gedra, waaruit hy homself 
			dikwels gehelp het. Vir geld het hy toe vir Jesus gaan verraai, en 
			later spyt gekry. 
			Matt 27:3-5 Toe Judas, die verraaier, sien dat 
			Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die 
			dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die 
			familiehoofde toe en vir hulle gesê: "Ek het gesondig. Ek het 'n 
			onskuldige man verraai." Maar hulle antwoord: "Wat het ons daarmee 
			te doen? Dit is jou saak!" Judas het toe die geld in die tempel in 
			gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.  
			Judas se spyt het te laat gekom, toe pleeg hy 
			selfmoord. Judas se probleem was dat hy nie iets gaan doen het aan 
			sy spyt nie.   
			Petrus verloën vir Jesus, en kry ook spyt. Petrus, 
			die dapper, onverskrokke Petrus wat sommer op die water gaan loop 
			het. Jesus sê vir hom dat hy Hom gaan verraai en ewe grootbek vertel 
			hy dat hy dit nooit sal doen nie. Toe hardloop hy vir 'n diensmeisie 
			weg! Hy gaan nie eers saam Golgota toe nie. Later het hy egter 
			bitter berou gehad.  
			Daar is ‘n groot verskil tussen Petrus en Judas se 
			spyt. Judas is spyt en pleeg selfmoord. Petrus is spyt en het berou 
			en draai terug na Jesus toe. In Joh 21:15-19 vra Jesus vir Petrus of 
			hy Hom liefhet, en Petrus maak openlik ‘n liefdesverklaring teenoor 
			Jesus. Jesus het nie vir Petrus verwyt nie, inteendeel, Hy gee 
			eerder vir hom 'n reuse opdrag! In Handelinge lees ons hoedat Petrus 
			ontpop in ‘n ongelooflike kragtige evangelis en prediker (al het hy 
			Jesus verloën) en word 'n groot instrument in Jesus se hande.  
			Judas kry spyt en pleeg selfmoord. Petrus kry spyt en 
			draai terug – vir Judas het die spyt te laat gekom, maar nie vir 
			Petrus nie. Petrus se spyt verander in berou.  
			Luk 16:19-31 Daar was 'n ryk 
			man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en 
			weelderig geleef het. En daar was 'n arm man met die naam Lasarus 
			wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die 
			oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van 
			die swere en selfs die honde het daaraan kom lek. "Toe die arm man 
			te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs 
			Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die 
			doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die 
			verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: “Vader Abraham, ontferm u 
			oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in 
			water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie 
			vuur”. Maar Abraham sê: “My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd 
			die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed 
			met hom, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof 
			tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle 
			toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom 
			nie.” Toe sê hy: “Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se 
			huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku 
			sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.” Maar 
			Abraham sê: “Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat 
			hulle daarna luister.”  Hy antwoord egter: “Nee, vader Abraham, maar 
			as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.”  
			Maar hy sê vir hom: “As hulle na Moses en die profete nie luister 
			nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood 
			opstaan.”  
			Hierdie is vir my ‘n skrikwekkende verhaal. Die ryk 
			man besef te laat dat sy lewenstyl, sy traak-my-nie-agtigheid hom 
			ingehaal het. Waarskynlik het talle waarskuwings op dowe ore geval. 
			Miskien het baie mense hom gewaarsku. Die Here het verseker sy hele 
			lewe lank aan die deur van sy hart geklop, maar alles tevergeefs.   
			Luister bietjie mooi na hierdie vraag: “Hoeveel 
			ongelowiges is in die hel?” As jy mooi daaroor dink is die antwoord: 
			NIKS! Elke enkele een is nou gelowig, sonder uitsondering, ALMAL!  
			Hulle was almal voor God se regterstoel en elkeen het die aaklige 
			finale oordeel aangehoor. My vriend, jy kan voor ‘n aanstormende 
			trein gaan staan en sê: “Ek glo nie in treine nie” , dan gaan jy 
			gaan ‘n verrassing kry. Jy sien, in teenstelling met wat jy mag 
			dink, gaan almal, maar almal, die ewige lewe hê. Elke siel op aarde, 
			maar, nie in dieselfde plek nie. Vir party (volgens Matt 7:13-14 die 
			meeste) gaan spyt te laat kom. Volgens Luk 16, is dit onomkeerbaar. 
			Vir die ryk man was die prys baie duur. Nie eens sy baie geld kom 
			hom help nie. Inteendeel, dit lyk asof geld juis sy probleem was.  
			Toe die ryk man in die doderyk in pyn en angs verkeer, 
			probeer hy sy toestand verlig. Dit moes baie erg gewees het, want 
			hier pleit mnr Rykman by Abraham dat hy vir Lasarus moet stuur met 
			net ‘n vingerpunt vol water. Hy vra nie vir geld of enige aardse 
			goedere nie, net ‘n vingerpuntjie vol water. Ek dink hy het ge-“suffer”! 
			Toe kom spyt te laat en hy besef dat hy niks kan doen aan sy lot nie. 
			Daar kom toe ‘n interessante wending: hy is nou bekommerd oor sy 
			broers se lewenswyse – vyf van hulle wat net so verlore is soos hy. 
			Al gehoor van geloofsekerheid? Hierdie wete dat jy verseker hemel 
			toe sal gaan? Wel, hier verstaan die ryk man iets van 
			geloofsekerheid. In dié geval, van sy  broers se 
			geloofs-on-sekerheid. Net nogal verskriklik dat Abraham sê hulle sal 
			nie luister nie; hulle het dan nie eers geluister na die wet en die 
			Woord van God nie. Die ryk man is nou nog in die verderf (die hel) 
			en waarskynlik sy vyf broers ook en die verskriklikheid daarvan het 
			absoluut niks verander nie. Dalk roep hy vandag nog vir miljoene om 
			te draai of braai!  
			Spyt kom, maar eers as dit te laat is. Ek en jy wat 
			nog lewe, het álles in ons guns. Ons het die wet en die profete, ons 
			het die Nuwe Testament en ons het tonne en tonne bewyse dat dit 
			alles waar is. Ons het die getuienis van ander mense, ons het die 
			Heilige Gees wat in ons harte werk en ons oortuig, ons het boeke, 
			flieks, radioprogramme, en talle wonderwerke… wat glo ons? Wat kies 
			ons?  
			Maar, my vriend, dis meer as dit! Die heerlikheid 
			daarvan om God te dien is nou al die moeite werd. Dis lekker, want 
			daar’s tonne vrede, daar’s lewe in oorvloed, daar’s ‘n Vriend, ‘n 
			Advokaat, ‘n Middelaar.   
			Is jou saak met God reg? Indien nie, maak nou reg … 
			want spyt kom altyd te laat. En as jy iemand ken, miskien selfs jou 
			kinders, wat nie op die regte pad is nie, gaan praat. Die ryk man 
			kon vir Lasarus erken. Hoe sal dit wees as jy in die hemel is en jy 
			erken jou kinders aan die verkeerde kant van die kloof? Gaan jy okei 
			wees daarmee? Maak dit vir jou saak? Maak dit vir jou genoeg saak om 
			iets daaraan te doen?
 |