DIE STORMS VAN DIE LEWE


Ons ry nou die dag terug van Middelburg af, en beland in 'n woeste storm op die snelweg. Die weerlig slaan verwoed, en die reën val so hard dat ons net-net die motor voor ons kan sien. Dit was baie gevaarlik, jy kou omtrent jou naels stomp af en bid net vir die beste. In hierdie stryd om heel anderkant uit te kom, is jy elke enkele oomblik bewus van die gesukkel, en elke oomblik voel soos 'n ewigheid.

Ons praat vandag oor die storms van die lewe, daardie tye wat kom wat niks lekker is nie, wanneer dit voel of jy nie in beheer is nie, wanneer jy voel jy kom net nie bo uit nie. Dalk is jy vandag in so 'n storm. OF, dalk sien jy hom met 'n spoed aankom, en jy voel totaal magteloos.

Mark 4 : 35 - 41 Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê. 35 Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: Kom ons vaar oorkant toe. 36 Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37 Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38 Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie? 39 Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: Hou op! Bedaar! Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom. 40 Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie? 41 Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?

'n Storm in ons lewe is baie goor (veral as jy 'n man is), en soms voel dit of hierdie storm nooit gaan ophou nie. Die slegte van hierdie ding is dat ons as Christene nie van storms gevrywaar is nie. Inteendeel, Dawid wonder dikwels in die Psalms hoekom dit dan so goed gaan met die onregverdiges, en so sleg met dié wat die Here dien. Wat egter waar is, is dat die Here ons as Christene nie met storms straf omdat ons Sy kinders is nie. Nee, die storms kom, maar Jesus is daar vir ons, in die storms. Storms is nou maar eenmaal deel van die lewe. Dalk was jy al daarin, dalk is jy nou daarin, en dalk is daar een (of meer) op pad. Ek weet een ding, ek wil nie sonder die Here deur 'n storm gaan nie. Vir wie sal 'n ateïs aanroep in tye van nood, en vir wie sal hy bedank as die storm verby is? Nee, met die Here kan ons deur enigiets gaan.

Daar is 'n klomp lesse uit hierdie gedeelte wat ek raaksien:

1. Die eerste een is, ten spyte van die gevare van storms, moet ons deurdruk om aan die anderkant uit te kom. Ons moes net op daardie snelweg aanhou beweeg, want stilstaan langs die pad was nog baie gevaarliker. So ook kan ons nie ons hele lewe lank onsself toesluit en hoop dat die storm nooit kom nie. Om anderkant te kom, kos moed, geloof en vertroue. 

2. Soms is die lewe "plain sailing", maar ons sien dit nie raak nie, want sê nou net 'n storm breek uit. Partykeer skud ons skuite omdat iemand anders in 'n storm is. Ek het eendag die gesegde gehoor:- "Smee die anker terwyl die water glad is". Dis die tyd wat ons onsself moet voorberei, ons geloofslewe vestig, ons verhouding met God versterk, sodat Hy saam met ons deur die storm kan gaan, en nie net as 'n lewensredder ingeroep word nie. Maar meer nog, geniet die kalm waters en tel jou seëninge en sê elke dag vir die Here dankie vir nog 'n gladde dag. Ons is so bang vir 'n stormagtige dag, dat ons sommer partykeer sit en spartel op gladde water. 

3. Die Here reageer nie altyd onmiddellik nie. Ek dink nie Hy straf ons noodwendig in die stormtye nie, maar Hy louter ons verseker. Saam met wie sal jy graag in 'n boot in 'n storm wil wees? Iemand wat nog nooit deur 'n storm op see was nie, of juis saam met iemand wat al groot storms oorleef het? Toe Jesus nie dadelik gereageer het in die storm nie, was dit nie omdat Hy nie omgegee het nie. Hy was steeds daar. 

4. Jesus is groter as enige storm. Toe Hy opstaan en die storm bestraf, het dit onmiddellik bedaar. Maar dit is ook so dat die Here nie elke storm bestraf nie. Soms is dit nodig dat 'n storm homself moet uitwoed. Al verstaan ons dit nie nou nie. Was jy nie ook al in 'n situasie wat onmoontlik lyk, maar wat dan tog op die ou end goed was nie? Verseker, wanneer die boot so wegsak in die deinings, sien ons net water. Maar as die bootjie weer tot bo-op die deining kom, sien ons dalk die land. 

5. 'n Storm hou nie vir altyd aan nie. Al lyk die situasie nou vir jou hopeloos, kan jy verseker daarop staat maak dat die see weer gaan kalm word. Dis 'n natuurwet. En al maak 'n storm skade, word die skade mettertyd herstel. Al maak 'n storm ons seer en ruk dit soms ons fondasie onder ons uit, is dit steeds die Here wat die genesing bring. Dan is Hy steeds in beheer en kan ons steeds op Hom staat maak. Dink net terug aan die slegte tye wat toe op die einde goed ge-eindig het. Die storm gaan ophou en die uitkoms gaan kom, ons moet net vasbyt.

Ps 94 : 18 "Toe ek gedink het my voete gly, het U troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het U vertroosting my tot rus gebring".

Dis God se belofte. Hy lig ons op, te midde van storms.

Hoe bly ek bo in die storm?

· Fokus op God, Hy is immers saam met jou in die boot. Glo dat Hy groter is as die storm. Kyk terug in jou lewe en vertrou die Here dat hierdie storm ook sal bedaar. 
· Moenie die storm misken nie, moenie maak asof dit nie bestaan nie. Doen van jou kant af wat jy kan om bo te bly in die storm - moenie ophou roei nie, want dan gaan jy nooit anderkant kom nie. 
· Leer uit die storm. Ondervinding maak dat mens leer hoe om die tipe storm te lees en te hanteer. 
· Moenie dat ander se storms jou oorweldig nie. Help waar jy kan, maar moenie negatief raak en jou eie seëninge miskyk nie. Soms is jou stormpie maar klein teen ander mense s'n, maar joune moet steeds opgelos word. Moenie dit ignoreer nie. 
· Stuur 'n SOS uit. Dikwels is hulp nader as wat jy dink. Soms sit die Here ander mense baie naby jou neer om jou te help. Moenie dinge alleen probeer dra nie. Partykeer klaar 'n paar woorde 'n groot storm op. 
· Moenie meer spartel as wat nodig is nie. Dis soms nodig om net kalm te probeer bly en water te trap. Dan gaan die storm vanself oor. Spartel maak mens moeg en moedeloos. Soms spartel ons kalm waters in 'n orkaan in. 
· Fokus op God, en op Sy beloftes. Wees eerlik met die Here oor die omstandighede. Partykeer laat Hy nie dadelik die storm stil word nie, maar hou jou net styf vas tot dit verby is. 
· En as dit verby is? Leer daaruit, vermy dieselfde tipe storm as jy kan. Wees daar vir ander wat in 'n storm kom. 

Prys die Here vir die storms, al is dit moeilik, want Hy sien die hele prentjie.

Ps 20 : 1 - 9 Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 2 Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van die God van Jakob u beskerm. 3 Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom, u bystaan uit Sion. 4 Mag Hy al u graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind. 5 Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk. 6 Ons sal juig oor u oorwinning en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi. Mag die Here alles gee wat u vra. 7 Dit weet ek: die Here sal aan sy gesalfde die oorwinning gee! Uit die heilige hemel verhoor die Here sy gebed; die Here gee deur sy groot mag aan hom die oorwinning. 8 Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God. 9 Húlle sal struikel en val, maar óns sal regop en vas bly staan.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)