SUUR DRUIWE


Suur druiwe ... mmm, glad nie lekker nie. Veral as mens so ‘n boksie druiwe oopmaak en vol verwagting aan een byt. Kyk, lekker druiwe is darem maar lekker, maar suur druiwe is vrek sleg. Die ergste is dat mens niks daaraan kan doen nie. Soos hy is, so is hy. 

Volgens die HAT beteken die uitdrukking “suur druiwe”: “gesê van iets begeerlik wat ‘n mens minagtend afkeur as jy dit nie kan kry nie. 

Jes 5:1-6
Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel.  Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het 'n wagtoring daarin gebou en 'n parskuip uitgekap. Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly. En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, beslis tog tussen My en my wingerd.  

Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra? Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word. Ek gaan hom tot niet maak. Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie, maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid. Ek sal die wolke verbied om daarop te reën.    

Baie harde woord dié van die Here. “Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly” Teleurstelling, woede, waarskuwing. Dan sê die Here in vers 6: “Ek gaan hom tot niet maak”. Sjoe, dis nogal erg as mens jou druiwe se suiker inhoud toets en uitvind dis suur. Oneetbaar. Onaanvaarbaar. 

‘n Klompie jare gelede was ons op ‘n druiweplaas anderkant Brits wat net uitvoergehalte tafel druiwe geproduseer het. Alla wêreld, dit was lekker druiwe! Stroop soet, net die beste. In die verbouing van hierdie druiwe het baie ingegaan. Ek ken nie die detail nie, maar ek onthou hoe streng die gehaltebeheer was. Hoe die druif fisies gelyk het, was nie die belangrikste nie. Sy suikerinhoud was die bepalende faktor. As daardie druiwe gepluk was en die druiwe was suur, is die hele oes daarmee heen. Ek dink nogal ‘n boer sou baie teleurgesteld wees as so ‘n oes die uiteinde van sy harde werk is.

Hier in Jesaja 5 lees ons hoe die Here teleurgesteld is in Sy oes. Na baie werk, harde werk, kom hierdie oes van suur druiwe. 

Jes 5:1-2
Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het 'n wagtoring daarin gebou en 'n parskuip uitgekap. Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly.  
 

Omgespit, klippe verwyder, parskuip, uitgekap... alles net  vir slegte vrugte. Ek wil amper sê: Vervlakste Israeliete, hoe kán julle? Hoe kán julle die Here so  teleurstel? Terwyl Hy alles gedoen het wat nodig was. Sy bedoeling vir Sy wingerd is só goed, maar dit het niks gehelp nie. Die Here het alles in hulle ingebou wat Hy kon, maar dit was nie goed genoeg nie. Steeds neem hulle die verkeerde besluite. Mens kan sê die Here het Sy kant ten volle gebring, hulle eintlik bederf, maar toe kies hulle om suur te wees. Ai, ons mensdom is darem maar goed daarmee om die Here teleur te stel.

Het jy ook al vir jou kinders gesê (soos ek ook), “jou ondankbare kind, kyk wat vang jy aan, ten spyte van alles wat ek vir jou gedoen het”, of “verdien ek regtig hierdie behandeling?”. En so praat die Here hier met Sy volk. In absolute teleurstelling sê Hy dat Hy hierdie suur druiwe uit Sy mond gaan uitspoeg.  

Hier is so bietjie goeie taktiek: Sê nou iemand skuld jou iets, of moet iets vir jou doen en hy doen dit nie, of jy is afhanklik van iemand om iets te doen, en jy wag en wag en niks gebeur nie, dan werk dit nogal goed om te vra: Wat kan ék doen dat hierdie saak afgehandel word? Dit werk nogal. 

Nou hier vra die Here vandag vir jou en my: Wat kan Ek nog doen dat jy soet druiwe dra? Het Ek nie álles gedoen wat Ek moes nie? Miskien vra die Here vandag vir ons: mens, My kant is skoon, Ek het gedoen wat Ek moes doen, hoekom bring jy nie jou kant nie? Wat moet Ek nóg doen? Het Ek nie reeds alles moontlik gedoen nie? Ek het jou volmaak geskep, al die kennis en inligting gegee wat Ek moes, Ek het My Seun gestuur, Ek het vir jou die Heilige Gees gegee, Ek het vir jou My Woord gegee, Ek het riglyne neergelê, mense op jou pad gestuur om jou te lei en te leer. Ek het My Woord in jou hart ingeplant, vir jou ‘n gewete gegee..... en tog is die druiwe suur, en die vrug is sleg en onbruikbaar. Die wingerd val uitmekaar uit, die onkruid neem oor en die doringbosse verdring die druiwestokke. Die bietjie vrug wat oorbly is suur en oneetbaar. Wat moet die Here dan nóg doen? 

Hier is ‘n paar dinge wat die druiwe suur maak:

  • Sonde – om teen God se wil op te tree. Is daar ‘n ding soos ‘n per-ongeluk-sonde? Ek glo nie, ons weet presies wanneer ons oortree. Ek is een van hulle.

  • Onvergenoegdheid. Jy ken mos mense wat altyd vir ander blameer vir alles. Wat geen verantwoordelikheid vat nie, maar ook nooit tevrede is nie. Met niks. Moan, moan, moan... Sulke hang-mondhoeke. Tipies suur druiwe. Ek is een van hulle.

  • Ondankbaarheid. Mense wat nooit die gunste van God raaksien nie. Mense wat die guns van God sal opdrink en dink dit kom hulle toe. Mense wat graag vra en nooit dankie sê nie. Ek is een van hulle.

  • Mense wat geen verskil in ander se lewens maak nie – en net vir hulleself leef. Wat dit wat God vir hulle geleer het self verslind en dink hulle is só oulik. Een oop hand en een toe hand. Ontvang met ‘n oop hand en gee met ‘n toe hand. Ek is een van hulle.

  • Mense wat God eer met hulle lippe, maar hulle harte is ver van God af. Mense wat nie werk aan ‘n verhouding met God nie, wat geen saak het daarmee dat Hy smag na ‘n verhouding nie. Ek is een van hulle.

  • Mense wat hulle mede skepsels, hulle medemens vernietig, ondergrawe, benadeel, beduiwel, verwoes. Ek is een van hulle.

  • Mense wat God ignoreer, selfs Godslasterlike uitsprake maak, en Hom bespot, wat ander wat glo verkleineer, wat openlik ateïstiese uitsprake maak en wat glo hulle het nie ‘n Saligmaker nodig nie, mense wie hulle geloof in God totaal afgesweer het.

Daar kan baie ander dinge wees.... 

Wat moet God nóg doen vir Sy wingerd? Niks! Hy het reeds alles gedoen. Die res berus by ons, en ons keuses. Wat kies ons vandag?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)