TEENVOETER VIR BEKOMMERNIS


Ons sukkel maar almal die een of ander tyd met besorgdheid, bekommernis, stres, bang wees, tob oor sake, vrees. Ons dink al hierdie goed is dieselfde, maar dit is nie, en ek wil die volgende onderskeid tref: 

Besorgdheid: dit is as jy bv. besorg is oor jou bejaarde ma se gesondheid of veiligheid; of begaan is oor haweloses wat koud slaap

Bekommernis: dit is bv. wanneer jou bejaarde ma regtig siek is, dit maal die heeltyd in jou kop, jy is besorg en beangs, jy maak die heeltyd planne oor wat jy kan doen om te help

Stres: dit is druk wat opbou, soos ‘n snaar wat al hoe stywer span totdat dit breek

Bang: dit is wanneer jy met angs vervul is, jy hou jou asem op; dit is bv. daardie gevoel wat jy kry wanneer jy na ‘n “scary”-fliek kyk

Vrees: dit is daardie gevoel wat jy het, wanneer jy hoor daar breek ‘n venster êrens in die huis, en jy weet daar het iemand ingekom; koue sweet slaan op jou uit, jy kan nie asemhaal nie, jou hart klop in jou keel.

Tob: dit is wanneer kommer-gedagtes maal en maal in jou gedagtes; wanneer jy saagsels saag (wanneer hout gesaag word, val daar mos fyn saagsels af; nou vat jy daai saagsels en probeer dit weer en weer saag.....) 

As ek nou ‘n definisie moet gee vir bekommernis, sou ek sê “Dit is dinge wat vir ons voel of dit buite beheer is”. 

Die meeste van ons se bekommernis gaan gewoonlik oor geld, maar dit kan ook wees oor jou huwelik, werksituasie, gesondheid, kinders, jou gesin se toekoms, ons land se toekoms, ens. 

2 Kor 11 : 27 – 28

Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.  

Hier lees ons van Paulus se bekommernisse en  besorgdhede.  Dit lyk vir my of ons almal maar een of ander tyd met hierdie euwel worstel. Party mense hanteer dit net anders as ander. 

Bekommernis en stres is egter ook nodig.  As ek en jy dit totaal wegdruk, sal ons natuurlik nie oorleef nie. Gesonde stres maak dat ons voorsien vir ons gesinne, onsself beskerm en werk vir oorlewing. Ek praat nie vandag hiervan nie, ek praat van stres wat ons angstig en siek maak. 

‘n Paar feite oor bekommernis:-

  • Minder as 5% van bekommernisse is regtig ‘n probleem – meeste goed waaroor ons bekommer gebeur in elk geval nie eens nie

  • Bekommernis is soms net ‘n slegte gewoonte.

  • Aan die meeste van die dinge waaroor ek so kan tob, kan ek niks doen nie.

Vandag is die dag waaroor jy jou gister so bekommer het.  Is vandag regtig so sleg, en gister, verlede maand, verlede jaar... ? 

Matt 6 : 25 – 34
Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? Julle moet julle dus nie bekommer en vra: "Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?" nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.

As ek hierdie deel lees, dink ek dat bekommernisse dikwels die uitvloeisel is van my ongeloof. Bekommernis is egter ‘n menslike emosie, en is ‘n realiteit vir ons as mense. Die geloof  kom in by ons hantering van bekommernis; hardloop jy verward rond, en raak heeltemal siek van jou bekommernis, of wéét jy dat dit nou die tyd is om staat te maak op die Here se krag, om te vertrou dat Hy sál voorsien, dat Hy sál help, dat uitkoms sál opdaag. Dit is nou die tyd om Hom te glo as Hy sê:

  • Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes 41:10)

  • Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie (Jes 43:1)

  • You are safe in  the care of the Lord your God, secure in His treasure pouch (1 Sam 25:29)

  • Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?” (Heb 13:6)

Ons voel partykeer of die slegte tye gaan aanhou, so asof die Here nie ‘n uitkoms kan bring nie. Soms kyk ek so na die voëltjies op my grasperk, dan besef ek hoe die Here vir hulle sorg.  Ek het nog nie een gesien wat swaarmoedig loop, op ‘n hoop sit of met ‘n lang gesig sit nie; hoeveel te meer kan ons nie ook daardie vrede hê nie, want ons wéét Wie sorg vir ons. 

Wat is dan die teenvoeter vir bekommernis?   

Fil 4 : 7 sê:  “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.  Die woord “vrede” kom voor in die woord tevrede! Tevredenheid kan na my mening help as teenvoeter vir bekommernis.  

Kom ons doen gou ‘n toets – antwoord eerlik:
Is jy tevrede met: Jou werksituasie?  Jou vrou of jou man? Jou finansies, kinders, jouself, jou toekoms? 

Dikwels beleef ons kommer en stres net as gevolg van my en jou onvergenoegdheid en ontevredenheid; dalk is dit juis a.g.v. dinge wat jy oor jouself gebring het soos bv. oorspandering, verkeerde verhoudinge, ens. 

Wat maak ons met die bekommernisse in ons lewens?  ‘n Paar praktiese wenke:

·         Kommer het nog nooit ‘n probleem opgelos nie.

·         Kry al die feite oor die saak – besluit hoeveel kommer dit werd is.

·         Doen wat jy kan van jou kant af om die probleem uit die weg te ruim.

·         Soms is dit goed wat ons op onsself laai – ‘n verkeerde verhouding, bedrog, verslawing, ens. Doen wat jy kan om dit te stop.

·         Kyk na die rekord – het ek my nie dalk in die verlede onnodig oor dieselfde snert bekommer nie? Party mense lei aan “kommer-verslawing” – oppas daarvoor.

·         Moenie saagsels saag nie – los dinge agter jou.

·         Tel jou seëninge, nie jou probleme nie, dan sal jy sien dinge is nie so sleg as wat jy dalk gedink het nie.

·         Verander ‘n “-“ in ‘n “+”.  Sien probleme as ‘n uitdaging.

·         Sien ander se nood raak en raak daarby betrokke; vergelyk jouself eerder met dié mense wat minder as jy het, nie dié wat alles het wat jy nie het nie, en ook begeer nie.

·         Kry al die feite bymekaar wat jy kan, begin om jou deel te doen – moenie toelaat dat jou bekommernis buite beheer groei nie.

·         Verander wat jy kan en aanvaar wat jy nie kan nie.

·         NB:  Gee die saak vir die Here – praat met Hom daaroor – praat ook met ander.  Jesus kom nooi jou uit om alles op Sy skouers te kom neersit.

‘n Praktiese manier om bekommernis hok te slaan: Vra jouself: 

1.      Wat is die probleem?  Bedink al die feite oor die saak waaroor jy bekommer; dit gee ook perspektief as jy alles neerskryf.

2.      Wat is die oorsaak van die probleem?  Verwoord al die detail wat jy het.

3.      Wat kan ek nou daaraan doen?  Miskien kan ek nie nou alles oplos nie, maar die proses aan die gang sit.

4.      Wanneer gaan jy daarmee begin?  Maak vandag ‘n “commitment” om aandag daaraan te gee.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)