TEKENS


Tekens, gebare, verkeerstekens, merkers – dis alles goed met 'n spesifieke betekenis. Ons sien dit op die pad, en ons gebruik dit ongelukkig soms op 'n lelike manier. Spesifieke tekens be-TEKEN spesifieke goed. Dis orals om ons. 

Tekens het egter in die Bybel 'n besondere plek gehad, en die Here het dit regdeur die Bybel gebruik. Daar was 'n spesifieke plek daarvoor en daar is vandag steeds 'n spesifieke plek. Soms word dit reg gebruik en soms word dit ongelukkig verkeerd gebruik – of liewer, misbruik. In die Ou Testamentiese tyd het die Here wondertekens gebruik om mense se geloof in Hom te versterk. 

Eks 4:1-5, 30-31
Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie? ”Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “'n Kierie,” antwoord Moses. “Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom. Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.” Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand.

Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.  

Wondertekens, sodat die mense kon glo dat God in beheer was van hierdie opdrag aan Moses. Dis opvallend dat niks van hierdie wondertekens iets te doen gehad het met persoonlike voordeel vir Moses nie.   

Eks 6:27 – 7:5
Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het, het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir die farao, die koning van Egipte, alles wat Ek vir jou gesê het.” Toe sê Moses vir die Here: “Ek praat swaar, die farao sal nie na my luister nie.” Maar die Here antwoord hom: “Maar die Here antwoord hom: “Kyk, Ek gee aan jou gesag oor die farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees. Alles wat Ek jou beveel, moet jy aan jou broer Aäron oordra, en hy moet dit vir die farao vertel sodat hy die Israeliete kan laat trek uit sy land uit. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk Israel uit Egipte bevry. As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek.”

Hierna lees ons dat die Here die plae gebruik as tekens van Sy almag. Hierdie tekens hat 'n dubbele doel gedien: aan die een kant sodat Sy volk kon glo en weet dat Hy die opdrag gegee het om te trek, en aan die ander kant sodat die Farao sou glo dat die Here die opdrag gee. Nietemin het die Here die Farao se hart verhard, sodat Hy meer tekens en wonders kon doen. Die Here het hierdie wondertekens gegee op Sy inisiatief sodat Hy sy planne kon deurvoer, en nie tot enige persoon se voordeel nie, en dit het nie 'n element van toekomsvoorspelling bevat nie. 

In Rigters 6 lees ons hoe die engel van die Here aan Gideon verskyn en dan 'n wonderteken doen toe die Here aan Gideon die opdrag gee om die Midianiete te verslaan. Alles tekens sodat die mense God se almag kan sien. Vandag soek mense steeds tekens. Ek dink ons almal ken die spreekwoord “om 'n velletjie uit te gooi”: 

Rigters 6:36-40
Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.” En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, 'n hele kom vol water. Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

Die Here praat met Gideon EN gee hom 'n teken soos wat hy vra. Dink mooi of hierdie teken enigsins vir Gideon se persoonlike voordeel of voorspoed was? Nee, hoegenaamd nie. Dit het daaroor gegaan dat Gideon 'n opdrag gekry het om Israel te red. Ongelukkig is ons vandag nogal lief daarvoor om op dieselfde manier 'n teken te probeer kry, maar gewoonlik tot ons eie voordeel. Natuurlik is dit 100% reg om 'n besluit wat geneem moet word te toets, om God se wil te vra, om seker te maak dat ons doen wat die Here wil hê, en in besonder, om te weet of ons regtig God se stem gehoor het, en nie ons eie stem nie.

Die vraag is, het ons vandag nog tekens nodig of nie? Waar pas fisiese, bonatuurlike tekens in wat bo die mens se begrip staan? Hoekom? Om te weet of God bestaan? Om te weet of dit Sy opdrag is of Sy goedkeuring wegdra? Of is dit dikwels vir eie gewin? Waarvoor soek jy dit?

Terug na tekens in die Bybel, en nou in die Nuwe Testament. Jesus het baie wonderwerke gedoen. In Joh 2 lees ons hoe Jesus, sy ma en die dissipels na 'n bruilof in Kana genooi is. Daar doen Hy Sy eerste openbare wonderwerk en verander water in wyn. Baie mense wat lief is vir die voggies sou graag daai ding wou doen! Maar Jesus se doel daarmee was nie om die drankrekening af te bring nie...

Joh 2:11
Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur Sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

Kan jy sien dat daar geen persoonlike voordeel vir enige iemand was nie? Die woord wat hier in Joh 2:11 gebruik word is wonderteken, en nie wonderwerk nie. Ek wil graag 'n lyn trek tussen 'n teken en 'n wonderwerk (soos bv. die genesing van mense), wat wel persoonlike voordeel vir iemand inhou.

Die wondertekens waarna ons nou gekyk het, het almal te doen gehad met geloof in die Here. Dit was hoekom dit gedoen is. Maar nie almal wat dit gesien het wou glo nie ...

Joh 12:37
Alhoewel Jesus baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.

Net so moet ons oppas dat ons geloof in God nie van wondertekens afhanklik raak nie. As jy afhanklik is van wondertekens om te glo, maak die Bybel geen impak meer op jou lewe nie.

Matt 12:38-39
Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

Vriend, jy het nie regtig meer 'n wonderteken nodig nie. Weet jy, mense soek tekens om hulle te help om besluite te neem. Vir ander werk, of oor 'n bediening, of 'n huweliksmaat, ens. Daar is teoreties niks daarmee verkeerd nie. Ongelukkig gaan soek mense dit soms op die verkeerde plekke, en om die verkeerde redes. En meestal gaan dit dan net oor eie gewin. Ek het al baie kere gehoor dat mense so 'n teken soek, en dan na enige iets gryp net om die antwoord te kry wat hulle in elk geval wou hoor. Iemand vertel eendag dat hy van werk wou verwissel maar 'n teken wou hê. Hy bid toe en vra die Here vir 'n teken. As sy vennoot by sy kantoor sou instap en kom groet, sou hy dit as 'n teken beskou dat hy moes aanbeweeg, en andersom. Punt is, die vennoot het in elk geval elke oggend ingestap en gegroet. Dis 'n bespotting maak van 'n wonderteken.

So 'n paar praktiese punte om te oordink:

  • Die Here werk soms met die oop en toemaak van deure. Maar ongelukkig skop ons soms toe deure oop, en dwing ons ons wil op God af.

  • Ons het nie wondertekens nodig vir dinge wat ons weet verkeerd is in God se oë nie, bv. “Here, as dit of dat gebeur, dan weet ek U keur 'n egskeiding goed, sodat ek met Poppie by die werk kan trou”. Dit werk nie so nie!

  • Soms laat die Here ons toe om met verantwoordelikheid 'n saak self goed te ondersoek, en dan 'n goeie berekende besluit te neem. En dan seën Hy ons in die besluit wat ons neem.

  • Moenie niks doen, of nooit 'n besluit neem, of nooit iewers betrokke raak, of geen risiko neem, of sommer net passief raak, omdat die Here nog nie 'n duidelike teken gegee het nie.

  • Oppas vir wie jy vra vir bevestiging van tekens. Mense praat maklik, en hou baie van oulik klink, en sê goed wat jou in die sloot laat beland.

Oor die algemeen dink ek nie jy het bo-natuurlike tekens nodig nie. Gee jouself oor aan die Here en vertrou op Hom alleen!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)