TOE KAP HULLE SY KOP AF – 19 Januarie 2011 


Toe kap hulle sy kop af. Hy het absoluut niks verkeerd gedoen nie, hy was 'n regverdige en opregte man, hy was waarlik 'n uitverkorene. En, glo dit of nie, daar is oor hom in die Ou Testament geprofeteer. Hy was 'n besondere mens en het 'n besondere taak gehad. Hy is die een wat die pad gelyk moes kom maak vir Jesus, en het selfs vir Jesus gedoop! ... En toe kap hulle sy kop af. 'n Mens sou in skok en afgryse kon vra hoekom Jesus dit kon toelaat. 

Hierdie persoon was natuurlik Johannes die doper en hy was nie 'n dissipel nie. 

Kom ons ondersoek vandag bietjie onsself aan die hand van die verhaal van hierdie merkwaardige man. Ons sou seker kon sê dat God gister, vandag en môre dieselfde is, of hoe? En hoewel God mense op besondere maniere geroep en gebruik het in vervloë dae, sou ons sekerlik vandag iets kon put uit die lewe van hierdie Johannes. Ons probleme, vervolging, moeilikhede, swaarkry en stryd kan op een of ander manier vergelyk word met dié van Johannes die Doper. Dalk moet ons ons status in Christus bekyk aan die hand van hierdie verhaal. En ons kan ook dalk ons verwagtinge beter bekyk. 

Jes 40 : 3 – 5 (Die profesie)
Iemand roep: “Maak vir die Here 'n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet 'n gelykte word en elke koppie 'n vlakte. Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.”  

”Iemand roep...” Iemand wat 'n aankondiging maak oor die Redder wat op pad is.

Matt 3 : 1 – 3 (die vervulling van die profesie)
In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”  

Die profesie in Jesaja is dus baie duidelik die oor Johannes die Doper. 

'n Mens sou nogal kon sê dat Johannes die Doper 'n baie belangrike rol gespeel het in die Bybel en in die Christelike geskiedenis. En wraggies, hulle kap sy kop af! 

Matt 3 : 4 – 12
Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop. Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.    Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”
   

Johannes die Doper het nie doekies omgedraai nie. Hy mag miskien 'n eenvoudige man gewees het wat van sprinkane en veldheuning geleef het, maar hy was nie 'n hierjy nie. Die manier waarop hy die Fariseërs en Sadduseërs aangevat het, spreek van iemand wat geweet het wat aan die gang was in die godsdienstige wêreld van daardie tyd. Wat hy gedoen het was uiters ongehoord in daardie tyd, want die klomp “geestelikes” het status gehad. Voorts het hy mense gedoop, nog voordat die dissipels aangewys is en mense gedoop het. 

Matt 3:13 – 17
In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem. Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Dit moes aangrypend wees om die Skepper van hemel en aarde te doop, die een wie se koms hy aangekondig het, soos deur Jesaja beskryf. Besef jy hoe groot daardie oomblik moes wees toe die hemel oopgaan en die stem met hulle praat?

As ek Johannes was, sou ek nogal gedink het ek het Geestelike status, meer as ander. God het my mos inderdaad geroep vir groot dinge en Hy gaan my sekerlik enduit gebruik. Hoog aangeskryf in die Here se oë, sou ek sekerlik kon aanspraak maak op ekstra guns, so bietjie witbroodjie status. Ek sou kon sê dat ek as Christen seker nie finansieel hoef te sukkel nie, en nooit siek moet word nie, en net voorspoed en oorvloed beleef. Jy weet mos, daai Johannes 10:10 “Ek sal vir julle die lewe gee, en dit in oorvloed”. My huwelik sou op gladde water moes loop en my kinders moes model kinders wees. En o ja, iemand met hierdie status verloor ook nie sy werk nie. En nee, God sal nooit toelaat dat 'n ramp my tref nie. Ek is tog immers Sy kind en baie, baie spesiaal. Johannes sou seker so kon redeneer soos ons vandag doen, of hoe? Maar toe kap hulle sy kop af.

Later sou Johannes in die tronk beland vir sy geloof en omdat hy gedoen het wat reg is. Maar... toe kom die twyfel.

Matt 11:2-3
J
ohannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?"          

Matt 11:4-
Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”            

Jesus gaan nie self na Johannes toe nie, hy stuur net 'n boodskap. Maar eintlik is die kern van die boodskap “Johannes, ten spyte van alles wat jy beleef, weet net EK IS...” Hy gaan haal nie vir Johannes uit die tronk uit nie, hoewel Hy sou kon. Hy gaan red hom nie uit die ongeregtigheid van die owerhede nie. Hy los hom net waar hy is. Jesus doen egter 'n vreemde ding. In plaas daarvan om Johannes te red, vertel Hy vir die mense watter wonderlike mens Johannes is. Hy spog as't ware met Johannes se karakter en deugde.

Matt 11:11
“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy."

Jesus gaan vertel dit nie eers self vir Johannes nie. Dink jy Hy het Johannes vergeet, of Sy rug op hom gedraai? Dink jy partykeer God het Sy rug op jou gedraai, of jou vergeet? Daar in jou Johannes-tronk? Dink jy God dink minder van jou as dit met jou swaar gaan? Of glo jy jy kan die Here so bietjie manipuleer met goeie dade? Of dink jy God skuld jou iets omdat jy die moeite doen om in Hom te glo? Dink jy so bietjie “voorspoed-teologie” kom jou toe?

Niemand op aarde was groter as Johannes die Doper nie, maar toe kap hulle sy kop af!

Matt 14:6-1
Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.” Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.    

Toe kap hulle sy kop af, heeltemal sinneloos, sonder rede. Hy was in die tronk gegooi omdat hy vir Herodes gesê het dat hy nie vir Herodias – die vrou van sy broer Filippus, as vrou mag vat nie.

'n Sinnelose, tragiese dood, waarvan ons gelukkig die grusame detail gespaar is.

Hoekom het Jesus dit toegelaat? Ek weet nie. Hoekom laat God jou swaarkry toe? Ek weet dit ook nie.

Dan lees ons iets van Jesus se reaksie op hierdie tragiese nuus.

Matt 14:1
Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.

Jesus gaan na 'n stil plek toe om alleen te wees. Ek glo dis omdat Hy hartseer en bedroef was oor die wreedheid en harteloosheid van die mense, dalk was Hy selfs tot in Sy siel geskok dat hulle dit gedoen het. Ek wonder wat het Hy gedink. Hy kon ingryp, maar Hy het nie. Herodes het sy mag misbruik, maar Jesus het nie Sy mag misbruik nie.

Weet jy wat sien ek hier? Dat Jesus selfs sinnelose dinge toelaat.

Maar... Jesus het nie Sy Godheid en goedheid prysgegee  nie. Ook nie Sy almag, of Sy “Ek is...” nie, ook nie Sy omgee vir die mensdom nie.

Ek glo dat Jesus saam met jou in jou swaarkry ly en selfs soos by Lasarus se graf, 'n traan stort. Alles maak nie sin nie, en Jesus gryp nie altyd in moeilike tye in nie, maar Hy bly steeds God, Hy is langs jou en Hy is lief vir jou.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)