“Voor
in die wapad brand ‘n lig …” As ek dit hoor, dan sien ek so in my
geestesoog ’n gesin wat daar om die vuur sit tydens die Groot Trek.
Pa is besig om die wa so ‘n bietjie te diens, Ma besig om ‘n klompie
askoeke te bak en patats onder die warm as gaar te maak. Hulle het
geen idee hoe more gaan lyk nie. Ook nie hoe hulle eindbestemming
gaan lyk nie. Almal kry swaar, Pa omdat hy die leiding moet neem, Ma
omdat sy die kinders te midde van baie moeilike omstandighede
gemaklik moet hou. Die voorrade is min, die osse kry bitter swaar,
siektes breek uit en elke dag is die risiko’s vir aanvalle geweldig
hoog. Al wat Pa vanaand hier om die vuur kan uiter, is “… voor in
die wapad brand ‘n lig”.
Bitter swaar, moedeloos, maar …. En dis by hierdie
“maar” wat ek vandag wil stilstaan. Die mense in konsentrasiekampe,
Israeliete in die woestyn, en ons voorsate in die Groot Trek, het
een ding in gemeen gehad: ‘n toekomsverwagting! ‘n Rede om voort te
beur, ten spyte van die huidige omstandighede. Het jy nog so iets
soos ‘n toekomsverwagting? Of het jy ook al boedel oorgegee? Jy ken
mos die praatjies wat ons deesdae hoor: “Alles is tot niet! Kyk waar
gaan ons heen. Ons is een van die dae waar Zimbabwe is”, ens. ens.
Kan jy dink wat sou gebeur as Moses boedel oorgegee het? Of as Piet
Retief en sy manne halfpad opgegee het? Of as Anna Franck nie haar
dagboek geskryf het nie? Sjoe, wat sou hierdie mense nie gee om óns
lewensomstandighede te hê nie? Al sou die vyeboom nie bot nie …
nogtans sal ek in die Here jubel – kan jy dit sê?
Viktor Frankl skryf in “Man’s search for meaning",
dat die mens bykans enige swaarkry kan verduur, as hy net weet “hoekom”.
Die mens kan uithou as hy net weet waarvoor dit nodig is.
1 Pet 1:3-9
3 |
Aan God, die Vader van
ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot
ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die
opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons
'n lewende hoop |
4 |
op die onverganklike,
onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook
vir julle in bewaring gehou word. |
5 |
En omdat julle glo,
word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir
die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van
die tyd geopenbaar te word. |
6 |
Verheug julle hieroor,
selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef
gemaak word deur allerhande beproewings |
7 |
sodat die egtheid van
julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie
kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die
suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die
egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat
dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die
wederkoms van Jesus Christus. |
8-9 |
Hom het julle lief, al
het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al
sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die
saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit
vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap. |
“Sodat die egtheid van julle geloof getoets kan
word”. Nou ja, as ons wil weet wat ons langtermyn toekomsverwagting
moet wees, gee vers 3-4 die antwoord: “ Nou het ons 'n lewende hoop
op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die
hemel ook vir julle in bewaring gehou word.” Lyk my sukkel en swaar
is so “normaal” soos ontbyt eet. 1 Pet 1 gee ‘n goeie antwoord vir
die “hoekom” ons moet vasbyt. Maar, wat van nóú, vandag, hier …
Jy sien, in uiterste omstandighede lyk dit of die
mens nog altyd glo dinge is nog nie op op sy slegste nie. Die
meeste, meeste mense glo dat dit maar eintlik beroerd met hulle
lewens gaan. Is dit waar vir jou? Maar weet jy, dit kan altyd nog
slegter gaan. Die probleem is gesetel in die feit dat ons
toekomsverwagting verflou in moeilike tye, totdat ons régtig met die
rug teen die muur staan. En eers dan sal ons aan die dunste
strooihalmpie vasklou. ‘n Ou met die naam van Bismarck het gesê:
“Die lewe is soos om by die tandarts te wees. Jy dink altyd die
ergste kom nog, intussen is dit al verby.” En so mis baie van ons ‘n
goeie toekoms.
Toekomsverwagtingloosheid … Wat ‘n vreeslike woord,
maar dis nog ‘n vreesliker gedagte! Weet jy, ons smyt ‘n goeie
toekomsverwagting by die agterdeur uit weens vrees, kommer,
negatiwiteit, hooploosheid, ongeloof, en ja, ondankbaarheid! En swak
Wiskunde – as jy nie jou seëninge kan tel nie. Om hoop te verloor is
dodelik! Dit vat jou bravade weg, jou veggees word verwoes, en jou
hele sisteem val inmekaar. Selfs op mediese vlak is bewys dat jou
hele immuunstelsel ingee, jy word fisies siek, en jou brein hou
selfs op planne maak. Weet jy, ek bid regtig dat jy nie daar is nie,
of op pad soontoe nie. “Voor in die wapad brand ‘n lig” … wees net
bereid om vorentoe te kyk.
Dink gou saam met my …. Hoe dink jy gaan vandag vir jou wees? Vrees
jy iets wat vandag voor jou lê … net reg om jou te vang? Of sien jy
ten minste na IETS uit? Dink terug aan gister: was dit ondraaglik?
Terrible? Onuithoubaar? O … jy sê gister was toe heel okei, hoewel
jy eergister so paniekerig was oor gister. Dit het toe nie so sleg
uitgedraai nie, of hoe? En laas jaar? Jy het toe eintlik goed
oorleef? Kom ons leer vandag dat die Here ten volle in beheer is,
dat Hy altyd betyds is, dat Sy arm nooit te kort is om te help nie,
dat die son wel môre sal opkom en oor jou sal skyn!
Wat het oom Chrisjan vir tant Gertruida daar langs
die wa gesê terwyl hy so in die vuur gestaar het? Dalk iets soos:
- vroulief, jy moet vasbyt, ons is verby die
ergste
- sien hierdie swaarkry as ‘n geleentheid
- die lig voor in die pad sê: daar is iets om
na te volg; Iets of Iemand, soos die Here!
Wanneer die mens op sy laagste is, kan hy een van 2
dinge doen:
1) “Vegetate”– soos ‘n koolkop raak
2) Opstaan, en vorentoe beur.
Dit hang van my en jou af of ons gaan kies om te soek
wat swaarkry, of liewer, deurdruk regverdig!
Iemand het uitgeroep: “If I can just be worthy of my
suffering”. Dink jy Jesus kon dit sê? Dink jy nie Hy het die bitter
beker gedrink omdat Hy ‘n toekomsverwagting gehad het nie? Hy het,
weet jy – Hy het ‘n toekomsverwagting gehad vir jou en my. He
was worthy of his suffering. Hy het geweet “hoe” om deur te druk,
want Hy het die “hoekom” geken. Hy het daardie krag in my en jou
ingebou om te kan voortbeur – vind uit “hoekom”, dan sal jy weet
“hoe”.
Daar is altyd iets wat jou kan help. Gaan soek dit….
“voor in die wapad brand ‘n lig”
|