TWEE MANDJIES VRUGTE


Jer. 24: 1-3
Die Here het my twee mandjies vye laat sien voor die tempel. Dit was bestem vir die tempel van die Here. Ek het die gesig gesien nadat koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, saam met die amptenare van Juda en die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem uit in ballingskap weggevoer het en hulle in Babel gebring het. Die een mandjie was vol goeie vye, so lekker soos voorvye. Die ander mandjie was vol slegte vye, so sleg dat 'n mens dit nie kon eet nie. Toe vra die Here vir my: Wat sien jy, Jeremia? en ek antwoord: “Vye. Die goeies is baie goed en die slegtes baie sleg, hulle is so sleg dat 'n mens hulle nie kan eet nie.”

Twee mandjies vye. Goeie vye en slegte vye. Goeie vrugte en slegte vrugte. Eetbaar en oneetbaar. Bruikbaar en onbruikbaar. Albei is vye, albei is vrugte, maar die een is bruikbaar en die ander nie.

Twee mandjies vrugte. Die een is heerlik om aan te smul, die ander een is vrot. Ek en jy is soos hierdie mandjies; ons dra almal vrug en ons vrugte is 'n uitvloeisel van ons wat in ons lewens aangaan. Soms is ons vrugte maar vrot, maar een ding is duidelik, die vrot vrugte in ons mandjies is net ons eie keuse. Die vrugte se toestand word nie deur ons omstandighede bepaal nie. Nee, die mandjie mag deur ander faktore beïnvloed word, maar, ons besluit steeds self hoe die vrugte lyk. Ons vrugte is óf goed óf sleg. Watter soort vrugte dra ek en jy?

Dink jy ons kan die Here die skuld gee as ons vrugte vrot is? Verseker nie, want die Here moedig ons aan om goeie vrugte te dra. Weet jy, 'n mens kan baie gou sien watter soort vrug 'n ander mens dra. Partykeer lyk die vrugte op die oog af mooi, maar as jy nader kyk, sien jy dat dit plastiese vrugte is, soos daardie in die bak op die eetkamertafel, dis net vir die vertoon. Dit is wanneer iemand goeie, geestelike dinge doen vir eie gewin, om mense te plesier, om mense se erkenning te kry, of om net hulle eie gewete te sus. Die Here verwag van ons om goeie gesonde, lekker vrugte te dra. Mandjies en mandjies vol daarvan.

Hoe lyk dit vrugte in jou mandjie?

Matt 12 : 33 "As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed, en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken."  Wel die mandjie vol goeie vrugte is duidelik onderskeibaar van dié een met die slegte vrugte.

As ons die mandjies is, is die vrugte die uitvloeisel van ons lewenstyl. Kom ons raak prakties en tref ’n onderskeid tussen goeie vrugte wat ons dra vs. slegte vrugte:

Opbouende woorde teenoor skinder en kwaadpraat.
Om vrygewig te wees teenoor steel.
Onvoorwaardelike liefde teenoor nydigheid en haat.
Om ander te motiveer teenoor om ander heeltyd af te kraak.
Om mense te dien teenoor om net te ontvang
Om Jesus te volg teenoor om my eie ek voor opstel.
Om genade te betoon teenoor om ander te veroordeel.
Om ander te vergewe teenoor om met 'n wrok rond te loop.
Om goeie verhoudinge te handhaaf teenoor om ander te verwerp.
Vriendelik/vrolik teenoor om heeldag bekaf en negatief te wees.
Om hoop te hê teenoor om negatief te wees.
Hulpvaardig teenoor onbetrokke teenoor ander.
Getuig vir Jesus teenoor om ander die ewigheid te misgun.
Oorgegee aan Jesus teenoor geestelike hoogmoed.

Daar is baie vrugte wat meetbaar en sigbaar is, want baie slegte vrugte word gewys deur wat ons sê. Neem twee dames wat jy glad nie ken nie, die een is beeldskoon, goed versorg, mooi aangetrek en gegrimeer. Die ander een vaal, verwese, lyk baie armoedig. Sê dit iets van die vrug wat hulle dra? Nee, want jy sien net die mandjie. Die vrug lê in wat hulle doen en sê. Moeder Theresa was nie die een wat vir mej. Wêreld kon deurgaan nie, maar sy het goeie vrug gedra.

Twee mandjies vrugte. Een mooi en goed, die ander nie. Het jy al gehoor dat iemand sê, "as dit is hoe 'n Christen is (en leef), wil ek nie een wees nie"? Soms het mense nogal 'n punt beet,of hoe?

Luk 6 : 43 - 45 Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. 44 Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. 45 Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Hoe kry ek en jy dit dan reg om die goeie vrugte te dra? Wel, dis net moontlik as ons die Gees van die Here in ons het. Anders beoefen ons maar net goeie gewoontes.

Gal 5 : 16 - 25 Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17 Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18 Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie. 19 Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. 22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Net deur die werking van die Heilige Gees kan hierdie proses begin, en volgehou word. Dit weer is net moontlik as ons kies en toelaat dat die Heilige Gees in beheer van ons lewens is.

Kom ons kyk net bietjie na die uitvloeisel van 'n lewe wat goeie vrugte produseer. Dit behaag die Here; ons doen Sy wil; ons maak ’n verskil in die mense om ons se lewens; ons bly binne die wet van die land; ons is aanvaarbaar vir ander mense, maak vriende, ons kinders skaam hulle nie vir ons nie. Dit is ’n lewensstyl wat aanvaarbaar is vir die samelewing. Goeie vrugte het dus ’n geestelike en wêreldse kant.

Ek wil nou vir jou so 'n stukkie hoop gee uit die volgende teks:

Luk 13 : 6 - 9 Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, 7 sê hy vir die tuinier: "Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?" 8 Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. 9 Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.

Jesus gee vir ons nog 'n kans. Dalk voel jy ook dat dit nie werk in jou lewe nie, dat jou vrugte nie so vars is nie. Of die duiwel kom vertel vir jou dat jy niks werd is nie. Dan kom die tuinier (Jesus), en hy pleit by die eienaar van die boom (God) vir nog 'n kans - en nog een, en nog een. Hy sê, "gee hom nog 'n kans – dán kan hy uitgekap word".

Sien jy twee kante van die muntstuk in hierdie gelykenis? Aan die een kant is daar 'n ernstige waarskuwing om vir ons te sê dat ons nie kan doen wat ons wil nie. Aan die ander kant, as ons in Jesus se tuin geplant is, sal Hy álles doen wat Hy kan. Maar 'n vyeboom wat slegte vrugte dra, hoort nie in sy tuin nie, aangesien die vrug nie net iets sê van die boom nie, maar ook van die tuin waar dit staan.

Slegte vrugte aan Jesus se bome, maak dat ander nie in Jesus se tuin geplant wil wees nie.

Kom ons kies om die mandjie skoon te hou, tot oorlopens toe vol met pragtige, ryp vye, stroopsoet, lekker om te eet. 'n Aanwins vir Jesus se tuin.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)