Pred.
1 : 1 - 11 Woorde van die Prediker, seun van Dawid en koning in
Jerusalem. 2 Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. 3 Wat
kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld? 4
Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde.
5 Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na
waar hy opkom. 6 Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en
daarheen en dan draai hy maar weer. 7 Al die riviere loop in die see
in, maar die see word nooit vol nie. Die riviere hou aan om te loop
na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het. 8 Woorde vervaag
mettertyd, en 'n mens kry nie klaar met praat nie. Die oog kyk, maar
kry nie klaar met kyk nie; die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor
nie. 9 Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar
is niks nuuts in hierdie wêreld nie. 10 Kan jy van iets sê dit is
nuut? Nee, dit was lankal daar, lank voor ons tyd. 11 Wat verby is,
word vergeet, en ook wat later kom, sal vergeet word deur dié wat
daarna kom.
Hoe val hierdie gedeelte vandag vir jou op die oor?
Voel jy ook soos die Prediker? So asof jy moed opgee. So asof jy sê:
wat help alles, ek spring sommer van 'n brug af. Alles kom tot niks,
tot niks. Klink sommer depressief. Ek het baie gewonder hoekom klink
die Prediker so moedeloos. Hy praat van al sy wysheid, sy wingerde,
rykdom, maar die arme man klink nie goed nie. Weet jy wat dink ek?
Ek dink die ou was in 'n vreeslike "mid-life crisis" gewees toe hy
die boek geskryf het. Ek voel ook dikwels so. So, maak nou maar jou
eie afleidings. Natuurlik weet ek nie wat sy omstandighede was nie,
maar ek wil graag hierdie gedeelte gebruik en praat oor 'n
voortreflike tweede helfte. Tweede helfte van wat? Wel, die tweede
helfte van jou lewe.
Jy val in een van die volgende kategorieë:
· óf jy is nog op pad halfpadmerk toe;
· óf jy is nou daar by die halfpadmerk;
· óf jy is al verby.
As jy al verby jou halfpadmerk is, dan is jy óf in
'n voortreflike, gelukkige tweede helfte, of jy voel soos die
Prediker. Goeie nuus is, dit kan vandag verander, as jy wil.
Nou, vir dié wat nie weet nie, die tweede helfte van
’n ou se lewe (rofweg so na 40) is 'n vreeslike tyd. Mens se kop
begin die snaaksste somme maak, jy besef jou pensioen gaan dit nie
maak nie, jou voorkoms begin 'n krisis raak, jy haat die spieël (en
soms die skaal ook), en dan land jy sommer in 'n volbloed "mid-life
crisis". En as jy nog jonk is, luister maar baie mooi, want dit kom;
jy kan egter nóú al 'n paar goeie besluite maak wat jou gaan help in
jou tweede helfte.
Wat gebeur met iemand wat verby die halfpadmerk is?
1. Jy tel elke dag die jare tot 60.
2. Jy klou verbete vas aan die stukkie jeugdigheid
wat nog in jou oor is.
3. Jy probeer die tyd briek soos wanneer jy rem aan
jou groot hond wat jou vir 'n stappie vat.
4. Jy glo jy kan nou jou sê sê soos jy altyd wou,
maar word dan sommer ongeskik.
5. Mans begin snaaks aantrek, die bles toekam, skryf
sy naam op sy nommerplaat, koop duur speelgoed en kleur sommer sy
hare. Of swart, of grys. En ja, geniet die aandag van die poppie by
die werk totaal op 'n ongesonde manier. Dan moet jy sien hoe ons die
pens probeer intrek as ons met haar praat. Shame! Vrouens oorweeg 'n
gesigsontrimpeling, en ja, allerhande operasies om swaartekrag teen
te werk. Ek praat natuurlik nou van die dubbele ken!
Jip, ons veg verbete teen tyd. Hierdie dinge, is so
eie aan mense wat nog nie in 'n voortreflike tweede helfte is nie.
Die wat wel is, lag vir ons! En in plaas daarvan om die hond te los
laat hy maar hol, waggel ons agterna. Partykeer met baie slegte
gevolge. Want jy sien, die poppie by die werk weet nie dat jy teen
jouself in opstand kom nie, en bewonder jou wysheid en sien nie jou
dwaasheid raak nie. Jy probeer verbete die laaste paar trappies na
werk sukses en direkteurskap ophyg, en verwoes alles wat eintlik
belangrik is, soos jou eggenoot, kinders en jou God. Hierdie dinge
maak dat jy spyt het oor alles wat jy toe nie bereik het nie, en
vervang dit met die verkeerde goed. Nou vra ek vir jou, wat is in
jou lewens boksie wat 'n goeie tweede helfte verhoed? Geld,
verkeerde verhoudings, slegte verhoudings, drank, sonde, skelmpie,
gejaag na kwalifikasies, roem? Net jy sal weet. Dink bietjie ....
Ek het nou net 'n klomp negatiewe dinge genoem. Maar
kom ons kyk wat moet in jou lewens boksie kom om van 'n ordinêre of
ongelukkige eerste helfte na 'n gelukkige en voortreflike tweede
helfte oor te gaan, ongeag van jou ouderdom. Wat van dinge soos: 'n
verhouding met die Here, jou gesin, tevredenheid, goeie vriende,
liefde vir jou huweliksmaat, Jesus Christus.
Jy sien, die probleem is dat ons die goeie en slegte
goed sáám in die boksie probeer inprop en dan werk dit teen mekaar,
en vernietig jou lewensuitkyk. Halftyd, is 'n tyd om te besin, en
nuwe besluite te neem. As jy jonk is, kan mens betyds hierdie
negatiewe dinge regstel, maar die probleem is dat die rotresies dit
nie toelaat nie. Die meeste jonger mense, in hulle twintigs en
dertigs, jaag teen die suksesleer op, en die meeste maak dit in elk
geval nie. Dan is halftyd aaklig.
Nou hoe dan nou? As jy een van hierdie
onvergenoegdes is, is dit dalk tyd om te besin oor hierdie
teleurstellings. Weet jy wat is die beste ding om te doen? Dis om
dit eenvoudig te aanvaar, en sommer net te gaan terugleun in Jesus
se arms. Moenie verbete bly veg nie, dit help nie. Pred 2 : 24 "Dit
is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder
al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit
'n gawe uit die hand van God is." As jy by daardie punt is, is
jy in 'n goeie tweede helfte.
Antwoord bietjie hierdie vraag:- Wat sou jy wou hê
moet jou grafskrif wees?
1. Wat sal jou gesin skryf? Dalk: hy was 'n goeie
mens, maar geen pa vir sy kinders nie.
2. Wat sal jou werkgewer skryf? Hy was' n
uitstekende werker, selfs sy familie vir my besigheid ingeruil. Hy
het vir my baie geld gemaak.
3. Wat sal jou jou vriende skryf? Willem, watter
Willem? Of dalk: hy kon lekker sports maak met 'n paar doppe in.
4. Wat sal jou skelmpie skryf? Hy het my toe nooit
regtig liefgehad nie.
5. .. en God? Dalk: Ek ken hom nie. (Mat 7: 23).
Wat sou jy wou skryf? Skryf dit vandag, voor die verkeerde goed daar
land.
Iemand sê eendag op sy graf sal
staan: 100x (Na aanleiding van Matt 13 : 8 wat praat van die saad
wat honderdvoudig vrug dra). Myne sal sê: "Hy het nie geleef om dood
te gaan nie, hy het geleef tot hy dood is." Jy sien my vriend,
hierdie wêreld word nie beter nie, jy word nie jonger nie, jy gaan
tien teen een nie ryk word nie, jou huwelik gaan nie vanself
verbeter nie. Alles hang van jou keuses af. Keuses wat jy vandag
maak. Verander wat jy kan as dit sinvol is, maar as jy nie kan nie,
aanvaar dit, en geniet dit. Moenie hierdie slegte tye, of die land,
of die regering, of iets anders die skuld gee nie. Nee, staan op,
neem beheer, maak sin van die lewe. Jy kan. Hoe? Jy sien, as jy
alles in jou lewensboksie uitgooi, en net vir Jesus daarin sit, sal
net die regte goed in jou lewe gebeur. Jou huwelik, lewensvreugde,
alles, is in Hom te vind. En dan kan Fil 4 : 7 vir jou waar word:
“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle
harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Hou op jaag en jou familie verwoes. Moenie te veel
hoop op hierdie lewe sit nie, jy gaan dit in elk geval nie oorleef
nie. Maak vir jou skatte in die hemel bymekaar. Begin vandag om ’n
voortreflike tweede helfte binne te gaan.
|