Die
mens is darem maar ‘n veglustige wese. Jy ken mos die uitdrukking
van “veg of vlug”? Die mens sal veg oor enige ding. Sê my sleg, dan
boks ek jou, vat aan my vrou dan vat jy aan my (figuurlik gesproke,
natuurlik), vat aan my goed, dan is daar moeilikheid, trek my
oordeel in twyfel, gaan my teë oor my keuses, verskil van my oor
politiek, of my geloof, dan is daar moeilikheid, dan spring ek op my
perd en ruk my swaard uit. Dan is daar ook magmalheid by sommige
mense, soos bv. Hitler en vele ander groot name. Ons veg by die werk
met mekaar, en die ergste van alles, ons huwelike word slagvelde, en
ons huise... daar waar liefde en harmonie moet heers, waar ons ‘n
veilige hawe moet hê. So kom dit dat die mens glo hy moet veg oor en
vir alles.
Nou wat is die teenpool van hierdie aggressie en
gevegte? Bloot vrede? Is dit genoeg? Nee, daar is iets beters. Lees
nou eers saam wat in Miga geskryf staan:
Miga 4:1-5
Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n
blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die
heuwels. Die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe
gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na
die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons
daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit
Jerusalem die woord van die Here.” Hy sal oordeel tussen baie volke,
regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle
swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een
nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle
sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Elke man sal onder sy eie
wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het
dit gesê. Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god, ons sal
vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.
Kragtige woorde wat ek nog nooit regtig raakgelees
het nie, en toe hoor ek dit Sondagaand in die kerk: “hulle sal van
hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese werktuie”. Hoe
hou jy daarvan? Dit sê nie hulle sal hulle swaarde net wegbêre en
dit nie meer vir veg gebruik nie, of dit selfs vernietig nie. Dit
sal getransformeer word in werktuie. Dus, in plaas van ‘n
skietstilstand, word dit samewerking. Die Here se oplossing is dus
WERK vir oplossings. Is jy bereid om so ‘n “mind-shift” te maak?
Gevegte in die huwelik: ai, wat het gebeur met
daardie heerlike, kinderlike verliefdheid? Daardie tyd toe jy jou
geliefde sou beskerm met ‘n swaard teen enige aanslae van buite. Vat
aan my meisie, dan vat jy aan my. Kyk skeef na haar dan wiks ek jou.
En daardie swaard waarmee jy haar ten alle koste sou beskerm, draai
jy teen haar (.... of hom, natuurlik werk dit anderkant toe ook).
Dan kom daardie swaard uit in venynige woorde, in ontrouheid, leuens
en allerlei diep vorme van seermaak. “Die Here, die God van
Israel, sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld
nie, sê die Here die Almagtige.” (Mal 2:16)
Na die egskeiding word die swaard net groter en
groter. Die Here se oplossing in Miga 4:4 werk anders. Hy sê smelt
daardie swaard en verander hom in ‘n ploegskaar, die spies in ‘n
snoeiskêr, en wérk aan die probleem. Moenie na mekaar kyk en sê: jy
is die probleem nie. Nee, identifiseer die probleem, bv. drank of
ontrouheid en gaan staan langs mekaar en werk sáám aan die probleem.
In plaas daarvan om soos Samurai’s te veg teen mekaar, werk saam om
dinge te verbeter. Weet jy wat is “killed in cross-fire”? Dit is
wanneer ‘n onskuldige persoon getref word as mense op mekaar skiet.
Jy weet mos, soos kinders in ‘n huwelik. Weet jy wat is die ergste?
Die kinders word sommer partykeer die swaarde, en word misbruik in
die gevegte. Maar die Here sê vandag vir ons: verander julle swaarde
in ploegskare en die spiese in snoeiskêre.
Hoe voel jy oor ons land? Jy weet, ek aanvaar 100%
dat mense die land verlaat, en ek respekteer dit. Maar vir ons wat
besluit om te bly, hoe gaan ons dinge laat werk? Boeta, ek kyk nie
sommer nuus nie, en ek lees nie koerant nie, want dan wil ek net die
swaard opneem. As ek daardie knaap wat ons gewapend beroof het, in
die hande moet kry, verander ek daardie snoeiskêr en ploegskaar in
‘n spies. Die vraag is, tot in watter mate is ek en jy bereid om te
werk vir oplossings? Ons boerevolk (waarvan ek die titel trots dra)
het in die verlede deur baie krisisse gewerk, om te kom waar ons is,
en dis sekerlik nie nodig om nou daarmee om te hou nie.
Ongeregtigheid, onregverdigheid, korrupsie, ens. ten spyt. Jy ken
die spreekwoord: “die pen is magtiger as die swaard”. Vandag wil ek
byvoeg: “die ploegskaar is sterker as die swaard”, en: “die
snoeiskêr is magtiger as die spies”.
Ek het besluit dat ten spyte van hoe ek soms voel,
sal ek werk om ‘n verskil te maak, om ‘n bydrae te maak, en om die
beste wat ek kan vir my kinders na te laat. Dis ‘n keuse.
Weet jy waar raak baie van ons oorloglustig? In ons
geloofslewe. Iemand sê eendag: die Christene is die weermag wat die
maklikste hulle eie soldate skiet. Hartseer, maar só waar. Weet jy
dat baie mense eerder teen mede-Christene veg, as teen ongeloof.
Mense spandeer meer tyd om mekaar te aan te val oor geloofsverskille,
as om saam te werk om God se Koninkryk uit te bou. Jy sal nie glo
watse SMS’e ons partykeer in Rippel se ateljee kry van mense wat ons
aanval oor ons geestelike programme nie; en dit van mede-Christene
af – sjoe, wat ‘n dolksteek. Ons het eerder gebed nodig, weet jy?
Smee ‘n ploegskaar van daardie swaard, en ‘n snoeiskêr van jou
spies. Laat ons eerder saamwerk, hou op om jou kerk en jou pastoor
of dominee af te breek en met hulle te veg. Werk eerder saam teen
die werklike vyand. Ons kan verskil van mekaar en steeds wonderlik
saamwerk. Jy kan nie jou mede-soldaat vermink en dink jy sal die
duiwel oorwin nie. Ek wonder partykeer wat dink die Here van ons
pogings.
Is jy bereid om al daardie swaarde, mortiere,
grofgeskut, spiese, vegvliegtuie, kanonne van hierdie lewe op te
smelt en in werktuie te verander – in alle fasette van die lewe? Kom
ons hou op om deur die skietgate te skiet, en trek liewer die oorpak
aan en werk vir oplossings. Dit voel in elk geval meer eerbaar. Dis
God se plan.
|