VARKHOK BESTAAN


Die lewe in 'n varkhok. 'n Varkhokbestaan. Varkhok of paleis? Prinsie of varkie?

Arme vark se kind - dié ding kry nogal swaar. As iemand slegte maniere openbaar word hy na varkie vernoem; ry jy so bietjie uit koers uit, is jy 'n padvark; is die dis wat jy optower nie na smaak nie, word dit varkkos genoem. Dit lyk my die enigste plek waar mnr. Vark tot sy reg kom is die ontbyttafel … snaaks dat 'n ding wat so snaaks lyk so lekker proe. En ja, selfs in die Bybel word die vark gebruik om vuil voor te stel. Die vraag vandag is: is my en jou bestaan 'n varkhokbestaan, of 'n paleisbestaan?

Luk 15:11-24
Verder het Jesus gesê: "Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.
Die jongste het vir sy pa gesê: 'Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.' Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
"Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.
Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.
Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.
Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
"Toe kom hy tot inkeer en sê: 'My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.
Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!
Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.'
En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.
Toe sê die seun vir hom: 'Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.'
Maar sy pa roep sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!
En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.

'n Seun wat 'n lewe kies weg van sy pa af, weg van die gerief van sy lekker kamer op die plaas, die lekker kospotte en die beskerming van sy pa - om uiteindelik in 'n varkhok te beland … 'n lewe wat hy self gekies het.

Net soos hierdie seun 'n keuse gemaak het, moet ons ook kies: vír of téén die varkhok. Wat interessant is, is dat die verkeerde dinge in die lewe lekker kan lyk, maar dikwels verseker dit vir ons 'n knus plekkie in die varkhok.

Dit lyk vir my of selfs van die mense wat veronderstel is om 'n goeie voorbeeld te stel, op pad kan wees varkhok toe, soos bv. die vals leraars en vals profete waarvan daar in 2 Pet 2 gepraat word:

2 Pet 2:10-22
Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.
Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie.
Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks verstaan nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word om gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg word.
Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang. Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en 'n skande omdat hulle hulle aan uitspattighede te buite gaan.
Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die vervloektes!
Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg,
maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van 'n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet.
Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur 'n stormwind voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou.
Hulle is aanmatigend en sê sinlose dinge. Met wellus en losbandigheid verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op dwaalweë verkeer.
Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf.
Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.
Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.
Van hulle is die spreekwoorde waar: "'n Hond gaan terug na sy braaksel toe" en: "'n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder."

Hier word sommer 'n klomp dinge van 'n varkhokbestaan genoem. Die hele 2 Pet 2 wei uit hieroor: hebsug, wellustige vleeslike begeertes, uitdagend, verwaand, beledigend, Godslasterlik, swelgpartye, uitspattig; hulle is 'n smet en 'n skande, geldwolwe, droë fonteine, losbandig … Geen wonder hierdie lewe word so ernstig deur die Here aangespreek nie - dit is vieslik en vuil. Hierdie deel het ook 'n waarskuwing in: dit sê in vers 20 dat mense wat tot inkeer kom, vry van die besmetting van hierdie wêreld word, en dán afvallig word, is slegter daaraan toe as voor hulle inkeer.

Wat is dan so sleg in die varkhok? Wel, 'n varkhok is 'n veragtelike plek, 'n plek waar daar geen selfrespek is nie, en nog minder respek vir ander mense; 'n doellose bestaan wat die uiteinde is van 'n vermorste lewe. Wat dryf mens varkhok toe? 2 Pet 2 het 'n klomp goed genoem, maar daar is meer:

- Verkeerde vriende. Die spreekwoord sê: "meng jou met die semels en die varke vreet jou op". Met wie hang jy uit?
- Drank. Dit is sekerlik die beste varksopie as dit verkeerd gebruik word. Die meeste prinse verander in varke na 'n oormatige gegorrel aan 'n stywe dop. 'n Dronk mens is so afstootlik soos 'n vark.
- 'n Varkhok het dikwels die verkeerde kooi in … 'n ander man of vrou se kooi. Dit het nog nooit tot iets goeds gelei nie, en dit kán ook nooit nie. Spr 6:32 "Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie" - inderdaad sal jy tot varkstatus verneder word.
- Daar is ander dinge wat varkie laat uitstyg bo die ander: slegte taalgebruik, vieslike grappe …

Nee kyk, dit lyk of sommige mense net nie genoeg kan kry van hierdie modderbestaan nie.

Die gelykenis van die verlore seun bring egter 'n wonderlike boodskap na vore: dit is nooit te laat om die varkhok vaarwel toe te roep nie. Pa wag by die huis - daar in die paleis; Hy wil die vetgemaakte kalf slag. Pa se paleis het lekker kos, nie peule nie; daar is skoon lakens en nie vrot modder nie; daar is selfrespek, respek van ander, genesing, 'n nuwe lewe. Die keuse lê by onsself. Dit begin by erkenning dat ons in die varkhok geëindig het. Dit vra dat ons in die spieël moet kyk na onsself, en al die fasette van ons lewens moet ondersoek.

As jy dalk vandag in die varkhok sit, weet dat daar NOU uitkomkans is. Daar is hulp vir elke faset van 'n varkhokbestaan. Goeie vriende, berading, inrigtings is alles dinge wat enige varkie in 'n prins kan verander. Maar, die eerste stap is: gaan terug na Pa toe. Hy wag met oop arms, met 'n skoon stel klere (klere vir 'n prins), kos vir 'n feesmaal, 'n ring aan die vinger ….

Vark se kind? Nee, Koningskind.
Varkhok? Nee, paleis.
Peule? Nee, Koningskos.

Groet vandag die varkhok, en gaan terug na Pa toe!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)