Die
ander dag sê my dogter vir my: Pa, wat is dit met julle ou mans? As
julle bymekaar kom, praat julle altyd oor die oorlog. Sy verwys
natuurlik na ons lekker, sorgvrye, vakansie lewe, rondlê tyd, wat
ons “diensplig” genoem het. Daardie tyd van twee jaar se “paid
holiday” van oom PW en seuns. Laat slaap, heerlike kos wat deur die
korporaal aangedra word.... sjoe! verstik so ‘n paar manne nou amper
aan hulle koffie, want só was dit toe nou nié in die weermag nie! As
ons bleskop ouens, wat ons six pack van daardie tyd verruil het vir
‘n vaatjie, só praat oor die weermag, probeer ons altyd kyk wie nou
eintlik die swaarste gekry het. Dan kom die woord “vasbyt” in jou
kop. Ons moes vasbyt, en byt het ons gebyt.
Die Bybel praat van vasbyt (volharding):
Rom 5:1-5
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou
vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het
ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade
waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel
te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons
verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek
volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van
geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde
in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee
het.
Swaarkry kweek vasbyt, vasbyt kweek egtheid van
geloof.
Die woord vasbyt sê eintlik só baie. Onthou jy in die
ou cowboy foto boekies: die geneesheer, “Ruiter in Swart”, sny ‘n
koeël uit met ‘n stomp Okapi-mes, en mnr. Cowboy brul van die pyn,
terwyl hy vasbyt op ‘n 45 Magnum patroon tussen sy tande..... dis
nou vasbyt! So moet ons as Christene ook vasbyt. Ons swaarkry leer
ons om vas te byt, en as ons vasbyt groei ons geloof, en dit gee ons
hoop.
Jy sien, die hele ding wat Paulus hier in Rom 5
aanraak, loop uit op ‘n groot einddoel. As jy net die einddoel in
die oog kan hou, kan jy deur die swaarkry kom. Dit vra dissipline.
Swaarkry leer jou dissipline. Het jy ook al gesê: as die jeug van
vandag net so bietjie army toe kon gaan....
Kyk hoe gaan dit met party mense wat nét lekker in
hulle lewe gehad het, geen teenstand, geen gesukkel gehad, dan kan
mens sien dat sulke mense minder vasbyt in hulle het. In die boek
“Finishing Strong” sê Steve Farrar dat min mense wat goed begin goed
eindig. En hy praat hoofsaaklik van die Geestelike wêreld, dus mense
wat in hulle geloofslewe uitmekaarval in hulle latere lewe. Jy sien,
as jy nie kan vasbyt in jou werksomstandighede nie – veral waar daar
teenstand van watter aard ook al kom – soek jy ander werk. Soms gaan
dit swaar in die huwelik, dan wil jy daar uit. Party vriendskappe
raak krapperig, dan beëindig ons dit, want ons kan nie uithou en
aanhou nie.
En wat van jou verhouding met die Here? As jy nie kan
volhard in jou verhouding met God nie, beland jy dalk in die hel.
Moed opgee met die Here is nie ‘n opsie nie. Kan jy vasbyt in die
geloof?
Matt 10:21-22 "Die een broer
sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy
kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle
doodmaak. Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word.
Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.
Wie tot die einde toe vasbyt... Kom ons praat gou
weer oor die weermag-tyd. Die woord “kontak” was ‘n vreeslike woord.
Dis uitgeskreeu as Jerry die Terry op jou begin skiet. H K G M –
hier kom groot moeilikheid! Dis vasbyt wat maak dat jy daardie geveg
deurveg, want as jy weghardloop word jy in die rug geskiet. Mense
vlug te maklik weg van die lewe se probleme af. Dan hol hulle.
Intussen hol hulle ook weg van die oplossings af, en hol hulle dalk
net in nuwe probleme in. Het jy al ‘n Rottweiler op sy agterpote
voor jou gehad wat jou letterlik teen die muur vasdruk, sy tande
ooptrek en onaards grom? Ek het al. Ek kon nie hol nie, daar was ‘n
muur wat ongeskik naby aan my rug was. Vasbyt is om partykeer terug
te grom. Maar ek kon nie! Ek het gerattle soos ons huis in Villieria
as die stoomtrein verbykom. Gelukkig het so ‘n maer tantetjie my kom
red. Soms wys die lewe sy tande aggressief vir ons en dis dán wat
Paulus sê: swaarkry kweek vasbyt.
Het jy ‘n einddoel in sig? Of is jou verhouding met
die Here gedryf deur aardse gewin? Here, ek sal U kind wees as alles
altyd net goed gaan. Jammer, dis nie Bybels korrek nie.
Openb 2:1-5
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die
sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue
lampe rondgaan: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle
onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense
verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee
dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle
leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam
verduur, en julle het nie moeg geword nie. Maar Ek het dít teen
julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink
daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen
weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie
bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af
wegvat!
Sjoe, is dit nie ‘n wake-up call nie? Miskien volhard
ons, maar ons het nie die Here so lief soos vroeër nie. Ons moet ook
volhard in ons liefde vir die Here. Kom ons wees eerlik met mekaar:
deurdruk en vasbyt is nie altyd maklik nie, volhard in geloof is nie
altyd maklik nie, om roekeloos te glo is nie maklik nie, dissipline
is nie maklik nie... maar, die beloning vir hierdie goed is altyd
onbeskryflik.
Ek kry toe ook daar in die weermag ‘n streep. Hulle
noem dit ‘n “bly gemaakte troep”. Maar boeta, ek was trots, en kry
op die koop toe R20 per maand ekstra salaris. Bly gemaak of te not,
‘n rang is ‘n rang. En die rang wat ek en jy gaan kry is ook ‘n
streep. Net een streep is genoeg, en dis die streep wat Jesus deur
jou sonde trek... sodat dit nie meer tot die dood lei nie. Kan jy
vasbyt tot die einde toe? Sien jy die einddoel? Kan jy opstaan as jy
geval het?
Byt vas. Beur vorentoe.
|